Rigters 19

19
Gruweldaad by Gibea
1In daardie tyd, toe daar geen koning in Israel was nie, het 'n Levitiese man, wat tydelike verblyf gehad het in die afgeleë dele van die heuwelland van Efraim, vir hom 'n byvrou uit Betlehem in Juda geneem. 2Maar sy byvrou het 'n afkeer van hom gekry en van hom af weggegaan, terug na haar vader se huis, na Betlehem in Juda. Sy was vier maande daar, 3toe maak haar man gereed en gaan agter haar aan om met haar te gaan mooipraat, om haar te laat terugkeer. Saam met hom was sy dienaar en ook twee donkies. Sy het hom in haar vader se huis ingeneem, en toe die jong vrou se vader hom sien, het hy hom met blydskap ontvang. 4Sy skoonvader, die vader van die jong vrou, het hom oorreed, en hy het drie dae by hom gebly. Hulle het geëet en gedrink en daar oornag.
5Op die vierde dag het hulle vroeg die oggend opgestaan en hy het gereedgemaak om te vertrek, maar die jong vrou se vader het vir sy skoonseun gesê: “Versterk jou innerlike met 'n stukkie brood; daarna kan jy gaan.” 6Hulle twee het saam gaan sit en geëet en gedrink. Toe sê die jong vrou se vader vir die man: “Besluit nou maar en bly oor. Wees vrolik!” 7Die man het gereedgemaak om te vertrek, maar sy skoonvader het by hom aangedring, en hy het weer daar oornag.
8Op die vyfde dag het hy vroeg opgestaan om te vertrek, maar die jong vrou se vader het vir hom gesê: “Versterk jou innerlike!” Hulle het toe getalm tot die namiddag, terwyl die twee manne saam eet. 9Toe die man opstaan om te gaan, hy en sy byvrou en sy dienaar, sê sy skoonvader, die vader van die jong vrou, vir hom: “Kyk, die dag is verby; die son sak. Bly tog maar oor. Kyk, die dag daal; bly hier oor en wees vrolik. Julle kan môre vroeg opstaan vir julle reis, en dan kan jy na jou woonplek gaan.” 10Maar die man wou nie die nag oorbly nie. Hy het gereedgemaak en vertrek, en met sy twee opgesaalde donkies en sy byvrou by hom, gevorder tot teenoor Jebus, dit is Jerusalem.
11Omdat hulle naby Jebus was, en die dag reeds verby, sê die dienaar vir sy heer: “Kom ons draai af na hierdie stad van die Jebusiete en oornag daar.” 12Maar sy heer antwoord hom: “Ons kan nie na 'n stad van vreemdes afdraai, wat nie aan die Israeliete behoort nie. Laat ons deurdruk na Gibea. ” 13Hy sê toe vir sy dienaar: “Kom, laat ons by een van die plekke probeer uitkom, laat ons oornag by Gibea of Rama.”
14 Hulle het toe daar verbygegaan en hulle reis voortgesit. Teen sononder was hulle digby Gibea, wat aan Benjamin behoort. 15Daar het hulle afgedraai om in Gibea te gaan oornag. Die man het ingegaan en op die stadsplein gaan sit, maar niemand het hulle in sy huis ontvang om te oornag nie. 16Net toe was daar 'n ou man, wat teen die aand van sy werk, van die landerye af, gekom het. Dié man was van die heuwelland van Efraim en hy het net tydelike verblyf gehad in Gibea – die mense van die plek was mos Benjaminiete. 17Toe hy opkyk en die man, die reisiger, op die stadsplein sien, vra die ou man: “Waar gaan jy heen en waar kom jy vandaan?” 18Hy sê toe vir hom: “Ons is van Betlehem in Juda af op pad na die afgeleë dele van die heuwelland van Efraim. Dit is waar ek vandaan kom. Ek het na Betlehem in Juda gegaan; nou is ek op pad na die huis van die Here. Maar daar is niemand wat my in sy huis wil ontvang nie. 19Ons het strooi, asook voer vir ons donkies, en ook brood en wyn vir my en u diensmeisie en vir die jong man, wat saam met ons, u dienaars, is. Ons kom nie enigiets kort nie.” 20Die ou man sê toe: “Vrede vir jou! Enigiets wat jy kortkom, is my verantwoordelikheid. Hier op die plein moet jy net nie oornag nie.” 21 Hy neem hulle toe in sy huis in en gee vir die donkies voer. Hulle het hulle voete gewas en geëet en gedrink.
22Hulle was besig om vrolik te raak, toe daag manne van die dorp, 'n klomp booswigte, meteens daar op. Hulle omsingel toe die huis, hamer aan die deur en sê vir die ou man, die eienaar van die huis: “Bring die man uit wat by jou huis ingegaan het, sodat ons met hom gemeenskap kan hê!” 23 Die man, die eienaar van die huis, gaan toe na hulle uit en sê vir hulle: “Nee, my broers, moet tog nie iets slegs doen nie! Noudat hierdie man in my huis ingekom het, moet julle tog nie hierdie gruweldaad pleeg nie. 24 Hier is my dogter, 'n maagd, en sy byvrou; laat ek hulle eerder uitbring. Verkrag hulle en doen met hulle soos julle goeddink. Maar aan hierdie man mag julle nie hierdie gruweldaad pleeg nie.”
25Die manne wou egter nie na hom luister nie. Toe gryp die man sy byvrou en stoot haar na buite uit, na hulle toe. Hulle het haar verkrag en haar die hele nag lank, tot die oggend toe, mishandel. Toe die dag breek, het hulle haar gelos. 26Die vrou het teen die oggend gekom en by die ingang van die man se huis waar haar man was, inmekaargesak en bly lê totdat dit heeltemal lig was.
27Toe haar heer die oggend opstaan, die deure van die huis oopmaak en uitgaan om sy reis voort te sit, kyk, daar lê die vrou, sy byvrou, by die ingang van die huis met haar hande op die drumpel! 28Hy sê toe vir haar: “Staan op; ons moet gaan!” Maar daar was geen reaksie nie. Hy laai haar toe op die donkie. Die man het toe gereedgemaak en na sy woonplek vertrek.
29 Toe hy by sy huis aankom, vat hy 'n mes, pak sy byvrou beet en sny haar op, ledemaat vir ledemaat, in twaalf stukke, en stuur haar deur die hele gebied van Israel. 30Elkeen wat dit gesien het, het gesê: “So iets het nog nooit gebeur nie en is nog nooit gesien nie, van die dag toe die Israeliete uit Egipteland opgetrek het tot vandag toe. Dink daaroor – maak 'n plan en praat!”

Tans Gekies:

Rigters 19: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid