Jesaja 60

60
Heerlikheid van Jerusalem
1 “Staan op, laat jou lig skyn!
Ja, jou lig het gekom,
en die heerlikheid van die Here
skyn oor jou.
2 Ja, kyk, donkerte bedek die aarde,
en diepe duisternis die volke;
maar oor jou skyn die Here,
en oor jou word sy heerlikheid sigbaar.
3 Nasies sal na jou lig trek,
en konings na die helder lig
van jou sonsopkoms.
4 Kyk om jou rond en neem waar:
Hulle almal kom byeen,
hulle kom na jou toe.
Jou seuns – van ver af kom hulle aan;
en jou dogters – op die heup
word hulle gedra.
5Dan sal jy dit sien en jy sal straal;
jou hart sal vinniger klop,
ruim word.
Want die see se oorvloed
sal by jou uitgestort word;
die nasies se rykdom
sal na jou toe kom.
6'n Magdom kamele sal jou oordek,
jong kamele uit Midian en Efa.
Almal uit Skeba sal kom.
Goud en wierook sal hulle dra;
die goeie nuus van die Here
se lofwaardige dade sal hulle verkondig.
7 Al die kleinvee van Kedar
word vir jou bymekaar gemaak;
die ramme van Nebajot
is tot jou beskikking.
Hulle sal as aanvaarbare offers
na my altaar opgaan.
My roemryke huis sal Ek verheerlik.
8“Wie is dit daardie
wat soos 'n wolk aangesweef kom,
soos duiwe na hulle neste?
9 Ja, op My wag die eilande;
die skepe van Tarsis vaar aan die voorpunt
om jou kinders van ver af te bring.
Hulle silwer en goud is by hulle,
ter ere van die Naam
van die Here, jou God,
ter ere van die Heilige van Israel,
omdat Hy jou verheerlik het.
10“Vreemdes sal jou mure herbou,
en hulle konings sal tot jou diens wees.
Ja, in my grimmigheid
het Ek jou geslaan,
maar in my guns
ontferm Ek My oor jou.
11 Jou poorte sal altyd oopstaan;
bedags en snags sal dit nie gesluit
word nie,
sodat mense die rykdom
van nasies na jou toe kan bring,
met hulle konings
wat in 'n segetog gelei word.
12 Ja, die nasie en die koninkryk
wat jou nie dien nie,
sal ondergaan;
sulke nasies sal volledig verwoes word.
13 Die luister van die Libanon
sal na jou kom
– sipresse, wildevliere
en dennebome, almal tegelyk –
om my heilige plek te versier.
Aan die rusplek van my voete
sal Ek eer gee.
14 Na jou sal hulle neergeboë kom –
die kinders van jou verdrukkers;
almal wat jou verag het,
sal diep neerbuig by jou voetsole.
Hulle sal jou noem:
Stad van die Here,
Sion van die Heilige van Israel.
15 In plaas daarvan dat jy
verlate en gehaat is,
sonder enige verbygangers,
sal Ek jou 'n voorwerp
van ewige trots maak,
'n vreugde van geslag tot geslag.
16 Jy sal die nasies se melk drink,
aan koninklike borste sal jy drink.
Dan sal jy besef dat Ek die Here is
wat jou verlos,
jou losser, die Magtige van Jakob.
17In plaas van koper bring Ek goud,
en in plaas van yster bring Ek silwer,
in plaas van hout, koper,
en in plaas van klippe, yster.
Ek stel vrede aan as jou toesighouer,
geregtigheid as jou regeerder.
18Daar sal nie langer iets oor geweld
in jou land gehoor word nie,
of oor verwoesting en vernietiging
binne jou grense nie.
Jy sal jou mure Verlossing noem,
en jou poorte Lof.
19 Vir jou sal die son nie meer
daar wees as 'n lig bedags nie,
en die maan sal nie as 'n helder lig
vir jou skyn nie.
Die Here sal as 'n ewige lig
daar wees,
en jou God as jou roem.
20Jou son sal nie weer ondergaan nie,
en jou maan sal nie verdof nie;
want die Here sal vir jou
'n ewige lig wees,
en jou routyd sal verby wees.
21 Jou volk is almal regverdiges;
vir altyd sal hulle die land besit,
hulle, die werk van my hande,
die loot wat Ek geplant het
om My te verheerlik.
22 Die kleinste sal 'n stam word,
en die geringste 'n magtige nasie.
Ek, die Here, sal dit op die regte
tyd vinnig laat gebeur.”

Tans Gekies:

Jesaja 60: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid