Jesaja 41

41
Profesieë oor Israel en Jakob
1“ Luister in stilte na My, eilande!
Laat die volke nuwe krag kry;
laat hulle na vore tree,
dan kan hulle die woord voer.
Laat ons saam nader kom
vir die regsgeding.
2 Wie het hom uit die ooste opgewek,
hy op wie oorwinning wag
met elke tree wat hy gee?
Hy laat nasies voor hom verskyn,
en konings onderwerp hy.
Hy maak hulle
soos stof met sy swaard,
soos strooi wat wegwaai met sy boog.
3Hy agtervolg hulle,
hy trek ongedeerd verby;
hy raak nie met sy voet
aan 'n pad nie.
4 Wie het dit bewerk en uitgevoer,
terwyl Hy van die begin af
die geslagte roep?
Ek, die Here, was die eerste,
en by die laaste geslagte
sal Ek steeds daar wees.
5“Die eilande het dit gesien
en is bevrees,
die eindes van die aarde beef.
Hulle het nader gekom,
hulle het aangekom;
6hulle help mekaar.
Die een sê vir die ander,
‘Hou moed!’
7 Die vakman bemoedig die smid;
die een wat met 'n hamer
die uitklopwerk doen,
bemoedig die een
wat op 'n aambeeld slaan.
Hy sê van die smeewerk,
‘Dit is goed!’
Hulle slaan die beeld
met spykers vas,
sodat dit nie omkantel nie.
8 “ Maar jy, Israel, my dienskneg,
Jakob, wat Ek uitgekies het,
nakomeling van Abraham,
my vriend,
9jy, die een wat Ek gegryp het
van die eindes van die aarde af,
wat Ek van sy verste dele af
geroep het,
vir jou het Ek gesê,
‘Jy is my dienskneg!’
Ek het jou uitgekies,
jou nie verwerp nie.
10 Moenie bang wees nie,
want Ek is by jou;
moenie vrees nie,
want Ek is jou God.
Ek versterk jou;
ook help Ek en ondersteun Ek jou
met my seëvierende regterhand.
11 Kyk, hulle sal beskaamd staan
en verneder word –
almal wat vir jou kwaad is.
Hulle sal soos niks wees
en tot niet gaan,
daardie manne wat teen jou
'n regstryd voer.
12Jy sal hulle soek,
maar hulle nie vind nie,
daardie manne wat teen jou
stryd voer.
Hulle sal soos niks,
soos iets niksseggends wees,
daardie manne wat teen jou
oorlog voer.
13Want Ek, die Here jou God,
gryp jou regterhand vas,
Ek wat vir jou sê,
‘Moenie bang wees nie –
Ek is die Een wat jou help.’
14Moenie bang wees nie,
wurm Jakob,
mense van Israel,
Ek is die Een wat jou help!”
is die uitspraak van die Here.
“Jou losser
is die Heilige van Israel.
15Kyk, Ek maak jou
'n skerp nuwe dorsslee,
een met dubbele rye tande.
Jy sal berge dors en fynmaal,
en heuwels sal jy soos kaf maak.
16 Jy sal hulle uitwan;
die wind sal hulle wegdra;
'n stormwind sal hulle
uitmekaar waai.
Maar jy sal juig oor die Here,
oor die Heilige van Israel sal jy roem.
17“Die magteloses en behoeftiges
soek water,
maar daar is niks;
hulle tonge verdroog van dors.
Ek, die Here, sal hulle verhoor;
Ek, die God van Israel,
Ek sal hulle nie verlaat nie.
18 Op kaal hoogtes
laat Ek riviere ontspring,
fonteine in die middel van valleie.
Van 'n woestyn maak Ek
'n waterryke vleiland,
van 'n dor land waterbronne.
19Ek laat in die woestyn seders,
doringbome, mirtebome
en wilde-olyfhoutbome opskiet;
Ek plant in woestynvlaktes sipresse,
en daarmee saam
wildevlierbome en dennebome,
20sodat mense kan sien en erken,
dit ter harte neem,
en tegelykertyd begryp
dat die hand van die Here
dit gedoen het,
dat die Heilige van Israel
dit geskep het.
21“Lê julle regsaak voor,”
sê die Here.
“Bring julle bewyse!”
sê die Koning van Jakob.
22“ Laat hulle dit bring
en ons inlig oor wat gebeur:
Die vroeëre gebeure – wat was dit?
Lig ons in, sodat ons
dit ter harte kan neem,
sodat ons kan weet
wat die afloop daarvan was;
of, die komende gebeure –
laat ons hoor wat dit sal wees!
23Lig ons in oor wat later kom,
sodat ons kan weet
dat julle gode is.
Ja, doen iets goeds of slegs,
sodat ons bevrees,
ja, almal saam bang kan word.
24 Kyk, julle is minder as niks,
en julle dade is minder werd
as iets waardeloos!
Afstootlik is hy wat vir julle kies.
25“Ek het hom uit die noorde
opgewek, en hy het gekom.
Van waar die son opkom,
sal hy my Naam aanroep.
Hy vertrap landvoogde
soos kleigrond,
soos 'n pottebakker die klei trap.
26 Wie het dit van die begin af
aangekondig,
sodat ons kon kennis neem,
vantevore al, sodat ons kon sê,
‘Hy was reg!’?
Daar is niemand wat dit
aankondig nie,
niemand wat iets laat hoor nie,
ja, niemand wat julle woorde
hoor nie.
27 Ek was die eerste
om aan Sion te sê,
‘Kyk, hier is hulle wat dit
verkondig het!’
Aan Jerusalem gee Ek
'n boodskapper van vreugde.
28 Ek kyk rond,
maar daar is niemand nie;
onder hulle is daar nie een
wat kan raad gee nie.
Ek vra hulle,
maar hulle antwoord nie.
29 Kyk, hulle almal is niks;
hulle dade is niksseggend.
Wind en leegheid
is hulle gegote beelde.

Tans Gekies:

Jesaja 41: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid