Jesaja 38

38
Vertellings oor Hiskia
1 In dié tyd het Hiskia dodelik siek geword. Die profeet Jesaja, seun van Amos, het by hom aangekom en vir hom gesê: “So sê die Here, ‘Gee die laaste opdragte oor jou huisgesin, want jy gaan sterf; jy sal nie leef nie.’ ” 2Hiskia het sy gesig na die muur gedraai en tot die Here gebid. 3 Hy het gesê: “Ag, Here, dink tog daaraan dat ek in getrouheid en met 'n onverdeelde hart voor U geleef het, dat ek gedoen het wat goed is in u oë!” Hiskia het toe bitterlik gehuil.
4Die woord van die Here het tot Jesaja gekom: 5“Gaan sê vir Hiskia, ‘So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: “Ek het jou gebed gehoor; Ek het jou trane gesien. Kyk, Ek sal vyftien jaar by jou lewensdae voeg, 6 en Ek sal jou en hierdie stad red uit die greep van die koning van Assirië. Ek sal hierdie stad afskerm. 7 En dit sal vir jou van die Here af die teken wees dat die Here hierdie woord wat Hy gespreek het, sal uitvoer: 8Kyk, Ek sal die skaduwee van die sonwyser van Agas wat met die son afgeskuif het, tien eenhede laat terugskuif.” ’ ” Toe het die son die tien eenhede wat dit gesak het op die sonwyser, teruggeskuif.
9'n Geskrif van Hiskia, die koning van Juda, toe hy siek was en van die siekte herstel het.
10 Ek het by myself gedink,
in die middel van my lewensdae
moet ek deur die poorte
van die •doderyk gaan.
Ek is opgeroep vir die res
van my jare.
11 Ek het gedink:
Ek sal die Here nie sien nie –
die Here in die land
van die lewendes.
Ek sal nie meer na mense kyk
saam met die bewoners
van die wêreld nie.
12 My woonplek is afgeslaan
en van my weggeneem,
soos die tent van 'n herder.
Soos 'n wewer het ek my lewe
opgerol –
van die skering
het Hy my losgeknip.
Dag en nag laat U my dit ontgeld.
13Ek het om hulp geroep
tot die oggend.
Soos 'n leeu, breek Hy
al my beendere.
Dag en nag laat U my dit ontgeld.
14Soos 'n swaeltjie,
soos 'n kraanvoël, so kerm ek;
ek kla soos 'n duif.
My oë word klein soos ek kyk
na die hemel.
My Heer, dit druk swaar op my;
staan U vir my in!
15Wat kan ek sê?
Hy het dit vir my gesê;
Hy het self opgetree.
Sal ek al my lewensjare
moeisaam voortgaan,
weens die bitterheid
van my siel?
16 My Heer, mense leef
van wat U sê en doen;
en dit geld vir almal
in die lewensjare.
My lewensasem –
U moet my gesond maak,
hou my aan die lewe!
17Kyk, tot vrede
het my intense bitterheid gelei;
U self het my lewe teruggehou
van die kuil van vernietiging,
ja, U het al my sondes
die rug toegekeer.
18 Want die doderyk
sal U nie prys nie;
die dood sal U nie loof nie.
Dié wat na die put afdaal,
verlaat hulle nie op u trou nie.
19Dit is die een wat leef,
die een wat leef –
hý prys U, soos ek vandag.
'n Vader kan u trou bekend maak
aan sy kinders.
20Die Here is daar tot my redding;
ons sal my snaarinstrumente
laat opklink by die huis
van die Here solank ons leef.
21 Jesaja het gesê: “Hulle moet saamgeperste droë vye bring en aan die sweer smeer, sodat hy sal kan bly leef.”
22Hiskia het mos gevra: “Wat is die teken dat ek na die huis van die Here sal opgaan?”

Tans Gekies:

Jesaja 38: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid