Jesaja 21

21
Oordeel oor Babel
1 Profesie oor die woestyn by die see.
Soos stormwindvlae in die Negev
kom hy uit die woestyn,
uit 'n vreesaanjaende land.
2'n Onverbiddelike openbaring
is my meegedeel:
“Die verraaier pleeg verraad,
die verwoester verwoes.
Ruk op, Elam!
Medië, beleër!
Aan al die gesug maak Ek 'n einde.”
3 Daarom is my heupe
aan die sidder
en oorval krampe my
soos die krampe van 'n vrou
wat geboorte gee.
Ek krimp ineen oor wat ek hoor,
ek is angsbevange oor wat ek sien.
4My hart is verbyster;
ontsetting het my oorval.
Die skemeraand, kosbaar vir my,
het vir my angs gebring.
5 Dek die tafel,
pak die kussings reg,
eet, drink –
staan op, bevelvoerders!
Smeer die skilde met olie!
6 Want so het my Heer vir my gesê:
“Gaan sit 'n wag uit!
Oor wat hy sien, moet hy berig.
7Wanneer hy strydwaens sien
met spanne perde,
ruiters op donkies,
ruiters op kamele,
moet hy noulettend aandag gee,
baie noulettend.”
8Die een wat op die uitkyk was,
roep toe:
“Op my uitkykpos, my Heer,
staan ek heeldag lank,
op my wagpos
neem ek stelling in, nag vir nag.
9Kyk daar!
'n Man op 'n strydwa
met 'n span perde is op pad!”
Hy begin toe praat en sê:
“Geval, geval het Babel,
en al die beelde van sy gode
lê stukkend op die grond! ”
10My vertrapte volk,
deel van my dorsvloer,
wat ek gehoor het
van die Here, Heerser oor alle magte,
die God van Israel,
het ek julle meegedeel.
11 Profesie oor Duma.
Iemand roep na my uit Seïr:
“Brandwag, hoe lank is die nag nog?
Brandwag, hoe lank is die nag nog?”
12Die brandwag antwoord:
“Die môre kom,
maar ook weer die nag.
As julle vrae het, vra!
Kom weer terug!”
13 Profesie in die woestyn.
In die ruigte in die woestyn,
moet julle oornag,
karavane van die mense van Dedan.
14Bring water om dié wat dors het,
te ontmoet.
Julle wat in die gebied van Tema woon,
gaan die vlugtelinge tegemoet
met kos vir hulle.
15Want vir swaarde het hulle gevlug,
vir die ontblote swaard,
vir die gespanne boog,
vir die geweld van oorlog.
16Ja, so het my Heer vir my gesê: “Binne 'n jaar, bereken soos die jare van 'n huurarbeider, sal al die luister van Kedar tot 'n einde kom. 17Wat oorbly van die helde van Kedar se boë, sal min in getal wees.”
Ja, die Here, die God van Israel, het gespreek.

Tans Gekies:

Jesaja 21: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid