Jesaja 16

16
1Stuur ramlammers
van die regeerder van die land
uit Sela deur die woestyn
na die berg van die dogter
van Sion.
2Soos voëls wat vlug,
'n broeisel wat verjaag is,
is die vroue van Moab
by die driwwe van die Arnon.
3Kom met 'n plan, Sion,
neem 'n besluit!
Maak jou skaduwee soos die nag
in die middel van die dag.
Steek dié wat verdryf is, weg!
Dié wat vlug,
moet jy nie verraai nie.
4Laat die vlugtelinge van Moab
by jou vertoef.
Wees vir hulle 'n skuilplek
teen die verwoester.
Wanneer die verdrukker
nie meer daar is nie,
die verwoesting afgeloop het,
die vernielers uit die land
verdwyn het,
5 sal, deur troue liefde,
'n troon gevestig word.
Daarop sal iemand in getrouheid
in die tent van Dawid sit –
iemand wat regspreek,
wat streef na wat reg is,
en ervare is in geregtigheid.
6 Ons het gehoor van die trots
van Moab,
van die groot vermetelheid.
Sy hoogmoed, sy trots
en woedebuie, sy gespog,
is blote skyn.
7Daarom weeklaag Moab oor Moab,
hulle almal weeklaag.
Oor die saamgeperste rosyne
van Kir-Geres
kla julle, heeltemal verslae;
8want die terrasse van Gesbon
het verdroog,
ook die wingerde van Sibma.
Die grondeienaars van die nasies
het die stad se edeldruiwe platgetrap.
Dit het voorheen selfs
tot by Jaser gestrek,
die woestyn in gerank.
Die stad se ranke was welig,
dit het die see oorgesteek.
9 Daarom treur ek, soos Jaser treur,
oor die wingerde van Sibma.
Ek sal jou met my trane deurweek,
Hesbon, en ook Elale;
want oor jou somervrugte
en jou graanoes
het die vreugdekrete stil geword.
10Vreugde en gejuig is weggeneem
uit die vrugteboorde;
in die wingerde
word daar nie gejubel nie,
word vreugderoepe
nie aangehef nie.
Wat wyn in die parskuipe betref –
die druiwetrappers trap niks uit nie.
“Aan vreugdekrete
het Ek 'n einde gemaak.”
11Daarom, soos 'n lier
kla my ingewande oor Moab,
my binneste oor Kir-Geres.
12 Wanneer Moab
weer sy verskyning maak,
hom afsloof op die offerhoogtes,
wanneer hy by sy heiligdom
aankom om te bid,
sal hy niks uitrig nie.
13 Dit is die woord wat die Here vroeër teen Moab uitgespreek het. 14Maar nou sê die Here: “Binne drie jaar, bereken soos die jare van 'n huurarbeider, sal die luister van Moab iets minderwaardigs wees, ten spyte van sy groot menigte. Die oorblyfsel wat min, klein, sal wees, sal nie krag hê nie.”

Tans Gekies:

Jesaja 16: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid