Hebreërs 7

7
Priesterskap van Melgisedek
1 Hierdie Melgisedek, koning van Salem, 'n priester van die Allerhoogste God, het Abraham tegemoetgegaan toe hy op pad terug was, nadat hy die konings verslaan het, en hom geseën. 2Aan hom het Abraham 'n tiende deel van alles gegee. In die eerste plek was hy, as sy naam vertaal word, “Koning van •Geregtigheid”, maar daarbenewens was hy ook “Koning van Salem”, dit is “Koning van Vrede”. 3Hy was sonder vader, sonder moeder, sonder stamboom; sy lewe was sonder begin en sonder einde, maar, soortgelyk aan die •Seun van God, bly hy priester vir altyd.
4Kyk net hoe belangrik was hierdie man, dat selfs Abraham, die stamvader, 'n tiende van die beste buit aan hom gegee het! 5Die nakomelinge van Levi wat die priesterskap ontvang, het 'n gebod dat hulle, volgens wet, tiendes moet ontvang van die volk, naamlik hulle broers, alhoewel dié afstammelinge van Abraham is. 6Maar Melgisedek, wat nie van hulle afstam nie, het tiendes van Abraham ontvang, en hierdie draer van die beloftes geseën. 7Sonder enige teenspraak, word die mindere tog deur die meerdere geseën. 8In die een geval ontvang sterflike mense tiendes, maar in die ander geval hy van wie getuig word dat hy leef. 9Mens kan selfs sê, ook Levi, wat tiendes ontvang, het deur Abraham tiendes gegee; 10want Levi was nog in die liggaam van sy voorvader toe Melgisedek Abraham tegemoetgegaan het.
11As daar inderdaad deur die Levitiese priesterskap – want daaronder het die volk die wet ontvang – volmaaktheid gekom het, waarom was dit dan nog nodig dat 'n ander priester opstaan volgens die orde van Melgisedek, eerder as een wat beskryf word as iemand volgens die orde van Aäron? 12Wanneer daar 'n verandering van priesterskap is, vind daar noodwendig ook 'n verandering van die wet plaas. 13Want Hy oor wie hierdie dinge gesê word, was deel van 'n ander stam, van wie niemand altaardiens gedoen het nie.
Christus en die orde van Melgisedek
14Dit is tog baie duidelik dat ons Here uit Juda voortgespruit het, 'n stam oor wie Moses niks in verband met priesters gesê het nie. 15Dit is nog duideliker as 'n ander priester opstaan volgens die ewebeeld van Melgisedek 16– een wat dit nie volgens die voorskrif van 'n menslike gebod geword het nie, maar volgens die krag van onvernietigbare lewe. 17Daar word trouens getuig:
“Jy is priester vir ewig,
volgens die orde van Melgisedek.”
18Aan die een kant is dit die opheffing van die voormalige gebod, omdat dit swak en nutteloos was 19– die wet het mos niks vervolmaak nie – maar aan die ander kant is dit die aanbreek van 'n beter hoop, waardeur ons tot God nader.
20Wat hierdie saak betref, dit het nie sonder eedswering plaasgevind nie: Hulle het wel sonder eedswering priesters geword, 21maar Hy het dit inderdaad met eedswering geword, deur God wat vir Hom gesê het:
“Die Here het 'n eed afgelê,
en dit sal Hom nie berou nie:
Jy is priester vir ewig.”
22Daarvolgens het Jesus ook borg van 'n beter verbond geword. 23Boonop was daar baie ander mense wat priesters geword het, omdat die priesters deur die dood verhinder is om aan te bly; 24maar omdat Hy tot in ewigheid bly, besit Hy 'n priesterskap wat nie tot 'n einde kom nie. 25Dit is waarom Hy ook volkome in staat is om hulle wat deur Hom na God toe kom, te verlos – omdat Hy altyd leef, om ter wille van hulle in te tree.
26So 'n hoëpriester was ook vir ons gepas: een wat heilig, onskuldig, onbevlek, afgesonder van die sondaars, en hoër as die hemele verhef is, 27wat, anders as die hoëpriesters, nie elke dag nodig het om eers ter wille van hulle eie sondes offers te bring, en daarna vir die volk nie. Want dit het Hy eens en vir altyd gedoen toe Hy Homself as 'n offer gebring het. 28Die wet stel mense met swakhede as hoëpriesters aan, maar die eedswering wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan, wat vir ewig volmaak is.

Tans Gekies:

Hebreërs 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid