Genesis 48

48
1Ná hierdie gebeure is daar vir Josef gesê: “Kyk, u vader is siek.” Hy het toe sy twee seuns, Manasse en Efraim, saam met hom geneem. 2Hulle het vir Jakob vertel en gesê: “Kyk, u seun Josef het na u toe gekom.” Israel het sy kragte ingespan en regop gesit op sy bed. 3 Jakob sê toe vir Josef: “God, die Almagtige, het by Lus in die land Kanaän aan my verskyn. Hy het my geseën 4 en vir my gesê, ‘Kyk, Ek gaan jou vrugbaar maak en jou talryk laat word; Ek sal jou 'n skare volke maak. Ek sal hierdie land vir jou nageslag ná jou gee as erfgrond vir altyd.’
5“ Daarom sal jou twee seuns wat vir jou in Egipteland gebore is voordat ek na jou in Egipte gekom het, my eie wees. Efraim en Manasse sal soos Ruben en Simeon vir my wees. 6Jou ander nakomelinge, wat jy ná hulle verwek, sal egter joune wees. Hulle sal by die name van hulle broers genoem word wat hulle erfdeel betref. 7 En wat my betref, toe ek uit Paddan gekom het, het Ragel langs my gesterf op die reis in die land Kanaän, toe daar nog 'n hele ent pad oor was om by Efrata uit te kom. Ek het haar daar begrawe langs die pad na Efrata – dit is Betlehem.”
8 Toe Israel die seuns van Josef sien, vra hy: “Wie is hulle?” 9 Josef antwoord toe sy vader: “Dit is my seuns wat God my hier gegee het.” Daarop sê hy: “Bring hulle asseblief na my toe, sodat ek hulle kan seën.” 10 Israel se oë was dof van die ouderdom; hy kon nie meer sien nie. Toe hy hulle na hom bring, het Israel hulle gesoen en hulle omhels. 11 Israel sê toe vir Josef: “Ek het nie eers gebid om jou gesig weer te sien nie, en kyk, God het my selfs jou nakomelinge laat sien!”
12 Josef het hulle van sy vader se knieë weggeneem en diep voor hom neergebuig met sy gesig na die grond. 13Daarop neem Josef hulle twee, Efraim met sy regterhand aan Israel se linkerkant, en Manasse met sy linkerhand aan Israel se regterkant, en bring hulle nader aan hom. 14 Israel steek toe sy regterhand uit en plaas dit op Efraim se kop – terwyl hy die jongste was – en plaas sy linkerhand op Manasse se kop. Hy het sy arms gekruis, alhoewel Manasse die eersgeborene was.
15 Hy het Josef geseën en gesê:
“Die God voor wie my voorvaders,
Abraham en Isak, geleef het,
die God wat my as herder versorg het,
my lewe lank, tot vandag toe,
16die •Engel wat my
losgekoop het uit alle onheil –
mag Hy dié jong manne seën!
Mag my naam deur hulle genoem word
en die naam van my voorvaders
Abraham en Isak.
Mag hulle talryk word in die land.”
17Josef het egter gesien dat sy vader sy regterhand op Efraim se kop sit, en dit was verkeerd in sy oë. Hy vat toe sy vader se hand om dit van Efraim se kop weg te skuif na Manasse se kop. 18Josef sê toe vir sy vader: “Nie so nie, pa, want hierdie een is die eersgeborene. Plaas pa se regterhand op sy kop.”
19 Maar sy vader het geweier en gesê: “Ek weet, my seun, ek weet. Ook hy sal 'n volk word; ook hy sal groot wees. Maar sy jonger broer sal groter wees as hy. Sy nageslag sal 'n groot groep nasies word.”
20 Daardie dag het hy hulle geseën met die woorde: “Met jou as voorbeeld sal Israel 'n seën uitspreek,
‘Mag God jou maak
soos Efraim en Manasse.’ ”
So het hy Efraim bo Manasse gestel.
21 Israel het vir Josef gesê: “Kyk, ek gaan sterf, maar God sal met julle wees, en Hy sal julle terugbring na die land van julle voorouers. 22 Ek self gee aan jou bo jou broers, 'n bergrug, wat ek met my swaard en my boog uit die hand van die •Amoriete geneem het.”

Tans Gekies:

Genesis 48: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid