Genesis 42

42
Josef se broers in Egipte
1 Jakob het agtergekom dat daar graan in Egipte was. Jakob sê toe vir sy seuns: “Waarom kyk julle net na mekaar?” 2 Hy het ook gesê: “Kyk, ek het gehoor dat daar graan is in Egipte. Gaan af daarheen en koop vir ons daar graan, sodat ons kan leef en nie sterf nie!” 3Tien broers van Josef het toe afgegaan om graan te koop in Egipte; 4 maar vir Benjamin, Josef se eie broer, het Jakob nie saam met sy broers gestuur nie, want, het hy gedink, netnou tref 'n noodlottige ramp hom. 5 So het Israel se seuns dan in Egipte aangekom om graan te koop, saam met ander wat ook gekom het, want daar was hongersnood in die land Kanaän.
6 Josef was die heerser oor die land. Hy was die een wat aan al die mense van die land graan verkoop het. Josef se broers het daar aangekom, en hulle het diep voor hom neergebuig, met hulle gesigte na die grond. 7Toe Josef sy broers sien, het hy hulle herken. Hy het hom egter vreemd gehou teenoor hulle en hulle streng aangespreek. Hy het vir hulle gevra: “Waarvandaan kom julle?” Hulle het geantwoord: “Van die land Kanaän af, om kos te koop.” 8Al het Josef sy broers herken, het hulle hom op hulle beurt nie herken nie. 9 Josef onthou toe die drome wat hy oor hulle gedroom het, en sê vir hulle: “Julle is spioene! Dit is net om die kwesbaarste deel van die land te sien dat julle gekom het.” 10Maar hulle antwoord hom: “Nee, my heer; u dienaars het net gekom om kos te koop. 11Ons is almal seuns van een man. Ons is eerlike mense. U dienaars is nie spioene nie.” 12Hy sê toe vir hulle: “Nee! Dit is maar net om die kwesbaarste deel van die land te sien dat julle gekom het.” 13 Hulle het geantwoord: “U dienaars was twaalf; ons is broers, die seuns van een man in die land Kanaän. Maar kyk, die jongste is vandag by ons vader; en een is nie meer daar nie.”
14Josef sê egter vir hulle: “Dit is soos ek vir julle gesê het: Julle is spioene. 15Hierdeur sal julle getoets word: So waar as die farao leef, julle sal nie hiervandaan vertrek tensy julle jongste broer hierheen kom nie. 16Stuur een van julle, sodat hy julle broer gaan haal. Maar julle bly in aanhouding, sodat julle woorde getoets kan word of julle by die waarheid hou. En indien nie – so waar as die farao leef – dan is julle spioene.” 17Hy het hulle toe drie dae lank onder bewaking gehou.
18 Op die derde dag het Josef vir hulle gesê: “As julle dit doen, sal julle leef. Vir God het ek ook ontsag. 19As julle eerlik is, laat een van julle broers gevange bly in die plek waar julle bewaak word. Maar julle, gaan bring graan weg vir die honger mense by julle huise. 20 Julle moet julle jongste broer na my toe bring, sodat julle woorde as betroubaar bewys word en julle nie sterf nie.”
Hulle het toe so gemaak. 21 Hulle het vir mekaar gesê: “Wel, ons is beslis skuldig oor ons broer wie se sielenood ons gesien het toe hy ons om genade gesmeek, maar ons nie geluister het nie. Daarom het hierdie nood ons nou oorval.” 22 Ruben het gereageer en vir hulle gesê: “Het ek nie vir julle gesê, ‘Moenie 'n misstap teen die kind begaan nie’? Maar julle het nie geluister nie. Ook sy bloed, kyk, dit word nou geëis!” 23Hulle het self nie besef dat Josef verstaan nie, want daar is tussen hulle getolk. 24 Hy het van hulle af weggedraai en gehuil. Toe hy na hulle terugkom, het hy met hulle gepraat en vir Simeon tussen hulle uitgehaal en hom voor hulle oë vasgebind.
25 Josef het toe opdrag gegee dat hulle houers vol graan gemaak moet word, dat elkeen se silwer in sy sak teruggeplaas, en dat daar vir hulle padkos vir die reis gegee moet word. Hy het dit so vir hulle gedoen. 26Hulle het toe hulle graan op hulle donkies gelaai en daarvandaan vertrek.
27 Een het sy sak oopgemaak om vir sy donkie voer te gee by die oornagplek. Hy sien toe sy silwer – en kyk, dit was bo in sy sak. 28 Hy sê toe vir sy broers: “My silwer is teruggesit! Ja, hier is dit in my sak.” Hulle was verslae, en verskrik het hulle na mekaar gedraai: “Wat is dit wat God aan ons doen?”
29Toe hulle by Jakob, hulle vader, in die land Kanaän aankom, het hulle hom alles vertel wat hulle oorgekom het: 30“Die man, die heer van die land, het ons streng aangespreek. Hy het ons uitgemaak vir mense wat op die land spioeneer. 31Maar ons het vir hom gesê, ‘Ons is eerlike mense. Ons is nie spioene nie. 32Ons was twaalf broers, die seuns van ons vader; die een is nie meer daar nie, en die jongste is vandag by ons vader in die land Kanaän.’ 33Die man, die heer van die land, het egter vir ons gesê, ‘Hieraan sal ek weet dat julle eerlike mense is: Laat bly een van julle broers by my. En vir die honger by julle huise – neem graan en gaan! 34 Bring julle jongste broer na my toe, sodat ek kan weet dat julle nie spioene is nie, maar dat julle eerlike mense is. Julle broer sal ek dan vir julle gee, en dan mag julle deur die land trek.’ ”
35 En toe, terwyl hulle besig is om hulle sakke leeg te maak, daar is elkeen se toegebinde silwer in sy sak! Toe hulle hulle toegebinde silwer sien, hulle en hulle vader, was hulle beangs. 36 Jakob, hulle vader, het vir hulle gesê: “Julle maak my kinderloos! Josef is nie meer daar nie, en Simeon is nie meer daar nie, en Benjamin wil julle neem. Alles is teen my!”
37 Ruben sê toe vir sy vader: “Pa kan maar my twee seuns doodmaak as ek hom nie na pa terugbring nie. Laat hom in my sorg; ek sal hom persoonlik na pa terugbring.” 38 Maar hy antwoord: “My seun sal nie saam met julle aftrek nie, want sy broer is dood, en net hy alleen het oorgebly. As 'n noodlottige ramp hom tref op die pad waarop julle gaan, sal julle my grys hare met verdriet in die •doderyk laat afgaan.”

Tans Gekies:

Genesis 42: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid