Genesis 25

25
Abraham en Ketura
1Abraham het weer 'n vrou geneem; haar naam was Ketura. 2 Sy het vir hom Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag in die wêreld gebring. 3Joksan het Skeba en Dedan verwek. Die nageslag van Dedan was die Assuriete, die Letusiete en die Leümiete. 4Midian se seuns was Efa, Efer, Ganog, Abida en Eldaä. Hulle almal was die nageslag van Ketura.
5 Abraham het alles wat aan hom behoort, vir Isak gegee. 6 Vir die seuns van Abraham se byvroue het Abraham geskenke gegee, en hulle nog tydens sy leeftyd van sy seun Isak ooswaarts weggestuur, na die land van die ooste.
Abraham se dood
7Dit is die aantal jare van Abraham wat hy geleef het – 175 jaar. 8 Abraham het sy asem uitgeblaas en op 'n hoë ouderdom gesterf, oud en ná 'n vol lewe, en hy is met sy mense verenig. 9 Isak en Ismael, sy seuns, het hom begrawe in die grot van Magpela wat oos van Mamre lê, op die grond van Efron, die seun van Sogar, die Hetiet, 10 die grond wat Abraham van die Hetiete gekoop het. Daar is Abraham begrawe, en ook Sara, sy vrou. 11 Ná Abraham se dood het God sy seun Isak geseën. Isak het toe by Beër-Lagai-Roï gewoon.
Ismael se nageslag
12 Hier volg die familiegeskiedenis van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese slavin van Sara, vir Abraham in die wêreld gebring het. 13 Hier volg die name van Ismael se nageslag. Hulle name is volgens hulle familiegeskiedenis: Die eersgeborene van Ismael was Nebajot, dan Kedar, Adbeël, Mibsam, 14Misma, Duma, Massa, 15Gadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma. 16 Dit was die nageslag van Ismael, en dit was hulle name – twaalf leiers van hulle stamme in hulle gehuggies en kampe.
17En dit was Ismael se lewensjare – 137 jaar. Hy het sy asem uitgeblaas en gesterf, en hy is met sy mense verenig. 18 Ismael se nageslag het gewoon van Gawila af tot by Sur, wat oos van Egipte lê in die rigting van Assirië. Aan die oostekant van al sy bloedverwante het hy hom gevestig.
Jakob en Esau
19 Hier volg die familiegeskiedenis van Isak, die seun van Abraham:
Abraham het Isak verwek. 20 Isak was veertig jaar oud toe hy Rebekka, die dogter van Betuel, 'n Arameër uit Paddan-Aram, die suster van Laban, die Arameër, vir hom as vrou geneem het. 21 Isak het by die Here gepleit ter wille van sy vrou, want sy was onvrugbaar. Die Here het hom verhoor, en Rebekka, sy vrou, het swanger geword. 22 Die kinders in haar het mekaar weggestoot. Toe sê sy: “As dit so is, waarom moet juis ek dit oorkom?” Sy het gegaan om die Here te raadpleeg. 23 Die Here het vir haar gesê:
“Twee nasies is in jou moederskoot,
en twee volke – uit jou liggaam
sal hulle uitmekaar gaan.
Die een volk sal sterker wees
as die ander volk,
en die oudste sal die jongste dien.”
24Toe haar tyd aanbreek om geboorte te gee, is daar 'n tweeling in haar moederskoot! 25 Die eerste een het uitgekom, asof met 'n mantel van hare, heeltemal rooibruin. Hulle het hom Esau genoem. 26 Daarna het sy broer uitgekom, met sy hand wat aan Esau se hakskeen vashou. Hulle het hom toe Jakob genoem. Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte.
27 Die seuns het opgegroei. Esau het 'n knap jagter geword, 'n man van die veld; en Jakob was 'n fatsoenlike man wat in tente gewoon het. 28 Isak het van Esau gehou, want wildsvleis was na sy smaak; Rebekka, daarenteen, het van Jakob gehou.
29Jakob was besig om 'n gereg gaar te maak, toe Esau van die veld af kom – hy was uitgeput. 30Esau sê toe vir Jakob: “Gee my asseblief 'n sluk van die rooi goed, hierdie rooi goed, want ek is uitgeput.” (Daarom word hy Edom genoem.) 31 Jakob het geantwoord: “Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my.” 32Toe sê Esau: “Kyk, ek is op die punt om dood te gaan; wat is 'n eersgeboortereg dan vir my werd?” 33 Jakob het gesê: “Lê eers vir my 'n eed af.” Hy het toe vir hom 'n eed afgelê en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. 34Jakob gee toe vir Esau brood en die kooksel lensies. Hy het geëet en gedrink, opgestaan en weggegaan. So het Esau sy eersgeboortereg geminag.

Tans Gekies:

Genesis 25: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid