Genesis 13

13
Abram en Lot
1Abram het uit Egipte na die Negev opgetrek, hy en sy vrou met alles wat aan hom behoort, en Lot saam met hom.
2Abram was 'n baie vermoënde man met vee, silwer en goud. 3 Hy het van staanplek tot staanplek uit die Negev getrek tot by Bet-El, tot by die plek waar sy tent vroeër tussen Bet-El en Ai gestaan het, 4die plek van die altaar wat hy voorheen daar gebou het. Daar het Abram die Naam van die Here aangeroep.
5Ook Lot, wat saam met Abram getrek het, het kleinvee, beeste en tente gehad. 6 Die land kon hulle nie meer dra, sodat hulle saam kon woon nie, want hulle besittings was te veel. Hulle kon net nie meer saam woon nie; 7 en daar het 'n stryery ontstaan tussen Abram se veewagters en Lot se veewagters. Die Kanaäniete en Feresiete het toe nog in die land gewoon.
8Abram sê toe vir Lot: “Laat daar tog nie stryd wees tussen my en jou, en tussen my veewagters en jou veewagters nie. Ons is immers broers. 9Lê die hele land nie oop voor jou nie? Trek liewer van my weg. As jy links gaan, sal ek regs gaan; en as jy regs gaan, sal ek links gaan.” 10 Lot het rondgekyk en gesien dat daar in die hele Jordaanstreek volop water was. Voor die Here Sodom en Gomorra verdelg het, was dit soos die tuin van die Here, en soos Egipteland, in die rigting van Soar. 11Lot kies toe vir hom die hele Jordaanstreek. Lot het ooswaarts getrek, en so het hulle van mekaar geskei. 12Abram het in die land Kanaän gewoon, en Lot het by die dorpe van die Jordaanstreek gaan woon; hy het sy tente tot by Sodom opgeslaan. 13 Die manne van Sodom was baie sleg en sondig voor die Here.
14Die Here het egter, nadat Lot van hom af weggetrek het, vir Abram gesê: “Kyk rond! Kyk van die plek waar jy is, na die noorde, die suide, die ooste en die weste; 15 want die hele land wat jy sien – aan jou gee Ek dit, en aan jou nageslag vir altyd. 16 Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat, as iemand die stof van die aarde kan tel, ook jou nageslag getel sal kan word. 17Maak gereed, deurkruis die land in sy lengte en breedte, want aan jou gee Ek dit.”
18 Abram het sy tente versit. Hy het by die akkerbome van Mamre, wat by Hebron is, aangekom en daar gewoon. Daar het hy 'n altaar vir die Here gebou.

Tans Gekies:

Genesis 13: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid