Genesis 11

11
Taalverwarring by Babel
1Die hele aarde het een taal gehad en dieselfde woorde. 2 Met hulle trek na die ooste kom hulle toe af op 'n vallei in die land Sinar en gaan woon daar. 3Hulle het vir mekaar gesê: “Kom ons maak kleistene en bak dit hard.” Die kleistene word toe hulle boustene, en asfalt word hulle messelklei. 4 Hulle sê toe: “Kom ons bou vir ons 'n stad en 'n toring met sy bopunt in die hemel, sodat ons vir onsself naam maak; anders versprei ons oor die hele aarde.”
5 Maar die Here het afgedaal om na die stad en die toring te kyk wat die mensekinders bou. 6Die Here sê toe: “Kyk, dit is een volk, en hulle almal het een taal, en dit is maar die begin van wat hulle gaan doen. Nou sal niks van wat hulle beplan om te doen, vir hulle onmoontlik wees nie. 7Kom, laat Ons afgaan en hulle taal daar verwar, dat die een nie die ander se taal verstaan nie.”
8 Die Here het hulle daarvandaan oor die hele aarde versprei, en hulle het opgehou om die stad te bou. 9Daarom word dit Babel genoem, want daar het die Here die taal van die hele aarde verwar. Daarvandaan het die Here hulle oor die hele aarde versprei.
Van Sem tot Abram
10 Hier volg die familiegeskiedenis van Sem:
Sem was 100 jaar oud toe hy Arpagsad verwek het, twee jaar ná die vloed. 11Nadat hy Arpagsad verwek het, het Sem nog 500 jaar geleef, en hy het seuns en dogters verwek.
12Arpagsad het vyf-en-dertig jaar geleef, en toe het hy Selag verwek. 13Nadat hy Selag verwek het, het Arpagsad nog 403 jaar geleef, en hy het seuns en dogters verwek.
14Selag het dertig jaar geleef, en toe het hy Heber verwek. 15Nadat hy Heber verwek het, het Selag nog 403 jaar geleef, en hy het seuns en dogters verwek.
16Heber het vier-en-dertig jaar geleef, en toe het hy Peleg verwek. 17Nadat hy Peleg verwek het, het Heber nog 430 jaar geleef, en hy het seuns en dogters verwek.
18Peleg het dertig jaar geleef, en toe het hy Reü verwek. 19Nadat hy Reü verwek het, het Peleg nog 209 jaar geleef, en hy het seuns en dogters verwek.
20Reü het twee-en-dertig jaar geleef, en toe het hy Serug verwek. 21Nadat hy Serug verwek het, het Reü nog 207 jaar geleef, en hy het seuns en dogters verwek.
22Serug het dertig jaar geleef, en toe het hy Nahor verwek. 23Nadat hy Nahor verwek het, het Serug nog 200 jaar geleef, en hy het seuns en dogters verwek.
24 Nahor het nege-en-twintig jaar geleef, en toe het hy Tera verwek. 25Nadat hy Tera verwek het, het Nahor nog 119 jaar geleef, en hy het seuns en dogters verwek.
26Tera het sewentig jaar geleef. Hy het Abram, Nahor en Haran verwek.
27Hier volg die familiegeskiedenis van Tera. Tera het Abram, Nahor en Haran verwek, en Haran het Lot verwek. 28 Haran het in Ur van die Galdeërs, die land van sy familie, gesterf, terwyl sy vader Tera nog geleef het. 29Abram en Nahor het vir hulle vroue geneem. Die naam van Abram se vrou was Sarai, en die naam van Nahor se vrou was Milka. Sy was 'n dogter van Haran; hy was die vader van Milka en Jiska. 30Sarai was onvrugbaar; sy het nie 'n kind gehad nie.
31 Tera het sy seun Abram en sy kleinseun Lot, Haran se seun, asook sy skoondogter Sarai, die vrou van sy seun Abram, geneem, en hulle het saam met hom uit Ur van die Galdeërs getrek om na die land Kanaän te gaan. Maar toe hulle by Haran kom, het hulle daar gebly. 32Tera het 205 jaar oud geword. Tera het in Haran gesterf.

Tans Gekies:

Genesis 11: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid