Esra 8

8
Tweede groep ballinge na Jerusalem
1 Dit is die familiehoofde, met hulle geslagsregisters, wat tydens die regering van koning Artasasta saam met my opgetrek het uit Babilonië:
2 Gersom, uit die nageslag van Pinehas;
Daniël, uit die nageslag van Itamar;
Gattus, uit die nageslag van Dawid;
3 manne uit die nageslag van Seganja;
Sagaria, uit die nageslag van Paros – saam met hom is 150 manne in die geslagsregister opgeneem;
4 Eljehoënai, seun van Seragja, uit die nageslag van Pagat-Moab – saam met hom 200 manne;
5Seganja, seun van Jagasiël, uit die nageslag van Sattu – saam met hom 300 manne;
6 Ebed, seun van Jonatan, uit die nageslag van Adin – saam met hom 50 manne;
7Jesaja, seun van Atalia, uit die nageslag van Elam – saam met hom 70 manne;
8Sebadja, seun van Migael, uit die nageslag van Sefatja – saam met hom 80 manne;
9Obadja, seun van Jegiël, uit die nageslag van Joab – saam met hom 218 manne;
10Selomit, seun van Josifja, uit die nageslag van Bani – saam met hom 160 manne;
11 Sagaria, seun van Bebai, uit die nageslag van Bebai – saam met hom 28 manne;
12Joganan, seun van Katan, uit die nageslag van Asgad – saam met hom 110 manne;
13 manne wat agterna gekom het uit die nageslag van die seuns van Adonikam, naamlik Elifelet, Jeïel en Semaja – saam met hulle 60 manne;
14Utai, uit die nageslag van Bigwai en ook Sakur – saam met hom 70 manne.
Esra se reis na Jerusalem
15 Ek het hulle bymekaargebring by die rivier wat na Ahawa loop. Daar het ons drie dae lank kamp opgeslaan. Ek kom toe agter dat daar onder die volk en die priesters geen Leviete was nie. 16Ek het toe vir Eliëser, Ariël, Semaja, Elnatan, Jarib, Elnatan, Natan, Sagaria en Mesullam, die familiehoofde, asook Jojarib en Elnatan, verstandige manne, ontbied 17 en hulle beveel om na Iddo, die hoof van die heilige plek by Kasifja, te gaan. Ek het aan hulle voorgesê wat hulle in Kasifja, die heilige plek, aan Iddo, sy ampsgenote en die tempeldienaars moes oordra, naamlik dat hulle vir ons dienaars vir die huis van ons God moet voorsien. 18 Omdat die goeie hand van ons God oor ons was, het hulle vir ons Serebja gestuur, 'n verstandige man uit die nageslag van Magli, seun van Levi, seun van Israel, asook sy seuns en ampsgenote, 18 manne; 19 en ook Gasabja, en saam met hom Jesaja, uit die nageslag van Merari, sy ampsgenote en hulle seuns, 20 manne; 20 en van die tempeldienaars wat Dawid en die •hoë amptenare gegee het om die Leviete by te staan, 220 manne, almal by die naam aangewys.
21 By die Ahawarivier het ek toe 'n vastyd uitgeroep. Die bedoeling was dat ons onsself voor ons God sou verootmoedig om van Hom 'n voorspoedige reis te vra vir onsself, ons afhanklikes en al ons besittings, 22 omdat ek te skaam was om van die koning soldate en perderuiters te vra om ons op die pad te beskerm teen vyande. Ek het immers vir die koning gesê: “Die hand van ons God is ten goede uitgestrek oor almal wat Hom raadpleeg, maar sy mag en sy toorn tref almal wat Hom verlaat.” 23 Ons het toe gevas en hieroor ons God se hulp gevra en Hy het ons gebede verhoor.
24 Daarna het ek twaalf van die leiers van die priesters afgesonder: Serebja en Gasabja, asook tien van hulle ampsgenote. 25 En ek het vir hulle die silwer en die goud en die voorwerpe afgeweeg, die bydraes vir die huis van ons God wat die koning, sy raadgewers en hoë amptenare en die hele Israel wat daar teenwoordig was, gemaak het. 26 Ek het dit op hulle hande afgeweeg: 650 kikkar silwer, 100 voorwerpe van silwer met 'n gewig van 2 kikkar, 100 kikkar goud, 27asook 20 goue bakke wat 1 000 dariek werd is en 2 voorwerpe van glansende geelkoper, so waardevol soos goud. 28 En ek het vir hulle gesê: “Julle is gewy aan die Here, en die voorwerpe is heilig. Die silwer en die goud is 'n vrywillige gawe aan die Here, die God van julle voorouers. 29 Pas dit versigtig op totdat julle dit in die vertrekke van die huis van die Here in Jerusalem afweeg in die teenwoordigheid van die leiers van die priesters en die Leviete en die leiers van die families van Israel.” 30Die priesters en die Leviete het toe die geweegde silwer en goud en die voorwerpe in ontvangs geneem om dit na Jerusalem, na die huis van ons God te neem.
31 Ons het toe op die twaalfde dag van die eerste maand vanaf die Ahawarivier na Jerusalem vertrek. Ons God het sy hand oor ons gehou en ons gered uit die greep van vyande en uit hinderlae langs die pad. 32 Ons het by Jerusalem aangekom en drie dae lank daar gebly. 33 Op die vierde dag is die silwer en die goud en die voorwerpe in die huis van ons God afgeweeg in die hand van Meremot, die priester en seun van Uria. Eleasar, die seun van Pinehas, was saam met hom, en ook die Leviete Josabad, seun van Jesua, en Noadja, seun van Binnuï. 34Alles is getel en geweeg en die totale gewig is terselfdertyd opgeteken.
35 Die ballinge wat uit die ballingskap aangekom het, het •brandoffers gebring aan die God van Israel: twaalf bulle vir die hele Israel, ses-en-negentig ramme, sewe-en-sewentig lammers, en twaalf bokke as •reinigingsoffer, alles as 'n brandoffer vir die Here. 36 Daarna het hulle die koning se bevele aan die koning se satrape en aan die streekgoewerneurs van Wes-Eufraat oorgedra, en hulle het almal hulle steun gegee aan die volk en die huis van God.

Tans Gekies:

Esra 8: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid