Esegiël 39

39
1 “En jy, mensekind, profeteer teen Gog en sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Dit is Ek teen jou, Gog, hoofleier van Meseg en Tubal! 2Ek sal jou laat omdraai en jou saamsleep; Ek sal jou laat optrek uit die afgeleë noorde. Ek sal jou bring by die berge van Israel. 3Dan sal Ek jou boog uit jou linkerhand slaan en jou pyle uit jou regterhand laat val. 4Op die berge van Israel sal jy val, jy en al jou troepe en die volke wat by jou is. Aan die roofvoëls, al die gevleueldes, en aan die diere van die veld, gee Ek jou as voedsel. 5Op die oop veld sal jy val, want Ek het gepraat.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.
6“ ‘ “ Ek sal vuur slinger in Magog, en onder hulle wat veilig woon in die eilande. Hulle sal besef dat Ek die Here is. 7My heilige Naam sal Ek bekend maak midde-in my volk Israel. Ek sal my heilige Naam nie weer laat ontwy nie. Die nasies sal besef dat Ek die Here is, heilig in Israel. 8 Kyk, dit kom, dit sal gebeur,” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Dit is die dag waarvan Ek gepraat het.
9“ ‘ “ Die inwoners van die dorpe van Israel sal uitgaan en vuur maak; hulle sal dit met wapens, met klein- en grootskilde, boë en pyle, knuppels en steekspiese aan die brand steek. Hulle sal sewe jaar lank daarmee vuur maak. 10Hulle sal nie hout uit die veld aandra of in die bosse kap nie, want met die wapens sal hulle vure maak. Hulle sal hulle plunderaars plunder, hulle buitmakers buit. ” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’
11“ ‘ “Op daardie dag sal Ek vir Gog 'n plek as graf gee in Israel, in die Vallei van Oberim, oos van die see. Dit sal 'n versperring wees vir verbygangers. Hulle sal Gog en sy hele horde daar begrawe, en die plek Vallei van Hamon-Gog noem. 12Die huis van Israel sal hulle begrawe om die land te reinig; dit sal sewe maande duur. 13Die hele volk van die land sal hulle begrawe, en dit sal die volk tot roem strek op die dag wanneer Ek Myself verheerlik.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.
14“ ‘ “Hulle sal gereeld manne afsonder wat die land deurgaan, en verbygangers wat op die grond bly lê het, begrawe om die land te reinig. Aan die einde van sewe maande sal hulle ondersoek instel. 15 En hulle wat die land deurkruis – wanneer iemand menslike beendere sien lê, sal hy langsaan 'n merkteken oprig, totdat die begrawers dit begrawe het in die Vallei van Hamon-Gog. 16Die naam van die dorp sal ook Hamona wees. So sal hulle die land reinig.” ’
17 “En jy, mensekind,” so sê die Heer, die Here: “Sê vir die voëls, vir al die gevleueldes, en vir al die diere van die veld: Kom bymekaar, ja, kom! Kom van oraloor byeen by my slagoffer wat Ek vir julle gaan slag – 'n groot slagoffer op die berge van Israel. Eet vleis en drink bloed! 18Die vleis van helde sal julle eet en die bloed van die leiers van die aarde sal julle drink – skaapramme, ramlammers, bokramme, bulle, almal vetgemaak in Basan. 19 Julle sal vet eet totdat julle versadig is, en bloed drink totdat julle dronk is van my offers wat Ek vir julle geslag het. 20Julle moet julle by my tafel versadig eet aan perde en strydwabemannings, aan helde en al die krygsmanne.” Dit is die uitspraak van die Heer, die Here.
21“Ek sal my heerlikheid onder die nasies toon; al die nasies sal my oordeel sien wat Ek voltrek, en my hand wat Ek op hulle lê. 22 Die huis van Israel sal besef dat Ek die Here hulle God is, van daardie dag af en daarna. 23 Die nasies sal besef dat dit oor hulle sondeskuld is dat die huis van Israel in ballingskap gegaan het omdat hulle aan My ontrou was. Ek het my gesig vir hulle verberg en hulle oorgegee in die hand van hulle teenstanders, en hulle het almal deur die swaard geval. 24Ooreenkomstig hulle •onreinheid en hulle oortredings het Ek teen hulle opgetree en my gesig vir hulle verberg. 25 Daarom,” so sê die Heer, die Here, “gaan Ek nou die lot van Jakob verander, en My ontferm oor die hele huis van Israel. Ek sal my ywer vir my heilige Naam toon. 26Hulle sal egter steeds hulle vernedering en al die ontrou wat hulle teen My gepleeg het, moet dra wanneer hulle veilig woon op hulle grond en niemand hulle verskrik nie, 27 wanneer Ek hulle van die volke af terugbring en hulle byeenbring uit die lande van hulle vyande, en Ek Myself as die Heilige betoon voor die oë van baie nasies. 28Hulle sal besef dat Ek, die Here, hulle God is, wanneer Ek hulle in ballingskap laat wegvoer het na die nasies, en hulle op hulle grond bymekaargebring het, en nie meer enigiemand van hulle daar agtergelaat het nie. 29Ek sal nie weer my gesig vir hulle verberg nie, want Ek het my Gees op die huis van Israel uitgestort. ” Dit is die uitspraak van die Heer, die Here.

Tans Gekies:

Esegiël 39: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid