Esegiël 37

37
Visioen van doodsbeendere
1Die hand van die Here was op my. Hy het my deur die Gees van die Here uitgelei en my neergesit in die laagte – dit was vol beendere. 2Hy het my keer op keer daar rondom laat loop; en kyk, daar het geweldig baie versprei oor die laagte gelê, en hulle was heeltemal verdroog!
3 Hy vra toe vir my: “Mensekind, kan hierdie beendere leef?” Ek het geantwoord: “My Heer, Here, net U weet dit.” 4Toe sê Hy vir my: “Profeteer oor hierdie beendere. Sê vir hulle, ‘Verdroogde beendere, luister na die woord van die Here. 5 So sê my Heer, die Here vir hierdie beendere: “Kyk, Ek gaan gees in julle laat kom, en julle sal leef. 6Ek sal senings aan julle heg, vleis aan julle sit, vel oor julle trek, asem in julle gee, sodat julle kan leef. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.” ’ ”
7Ek het geprofeteer soos ek beveel is. Daar was 'n geluid net toe ek profeteer – 'n geratel! Die beendere het nader aan mekaar beweeg, been na been toe. 8Ek het gekyk, en sowaar, aan hulle is daar senings, en vleis kom te voorskyn! Vel is van bo af oor hulle getrek, maar daar was nog geen asem in hulle nie.
9 Hy sê toe vir my: “Profeteer vir die wind! Profeteer, mensekind, en sê vir die wind, ‘So sê my Heer, die Here: “Wind, kom uit die vier windrigtings! Blaas in hierdie doodgemaaktes, sodat hulle kan leef.” ’ ”
10Ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Die wind het in hulle ingegaan en hulle het lewend geword en op hulle voete gaan staan – 'n buitengewone groot leër! 11Hy sê toe vir my: “Mensekind, hierdie beendere, hulle is die hele huis van Israel. Kyk, hulle sê, ‘Ons beendere is verdroog, ons hoop is verlore, ons is afgesny.’ 12 Daarom, profeteer en sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek maak julle grafte oop, en Ek sal julle uit julle grafte laat opkom, my volk! Ek sal julle terugbring na die grond van Israel. 13Julle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle uit julle grafte laat opkom, my volk. 14 Ek sal my Gees in julle gee, en julle sal leef. Ek sal julle tot rus bring op julle grond. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het gepraat en Ek sal dit doen.” ’ ” Dit is die uitspraak van die Here.
Hereniging van Juda en Israel
15Die woord van die Here het tot my gekom: 16“ En jy, mensekind, neem 'n stuk hout en skryf daarop, ‘Vir Juda en vir die Israeliete verbonde aan hom.’ Neem dan nog 'n stuk hout en skryf daarop, ‘Vir Josef – dit is die hout van Efraim – en die hele huis van Israel verbonde aan hom.’ 17Sit hulle teen mekaar as een stuk hout. Hulle moet 'n eenheid wees in jou hand. 18Wanneer die mense van jou volk dan vir jou vra, ‘Sal jy nie vir ons vertel wat hierdie handeling van jou beteken nie?’ 19moet jy vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek gaan die hout van Josef neem, die hout wat in die hand is van Efraim, en die stamme van Israel verbonde aan hom, en Ek gaan hulle by hom, by die hout van Juda, plaas, en hulle een stuk hout maak. Dan sal hulle een wees in my hand.” ’ 20Die stukke hout waarop jy skryf, moet voor hulle oë in jou hand wees, 21en dan moet jy vir hulle verklaar, ‘So sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek gaan die Israeliete wegneem tussen die nasies waarheen hulle gegaan het. Ek sal hulle byeenbring van oraloor en hulle na hulle grond bring. 22 Ek sal hulle een nasie maak in die land op die berge van Israel, en een koning sal oor hulle almal koning wees. Hulle sal nie meer twee nasies wees, en hulle sal nooit weer verdeel wees in twee koninkryke nie. 23 Hulle sal hulleself nie meer verontreinig met hulle afgodsbeelde en hulle verfoeilike afgode, ja, met al hulle oortredings nie. Ek sal hulle verlos van al hulle afvalligheid waardeur hulle gesondig het. Ek sal hulle reinig; dan sal hulle vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees. 24 My dienskneg Dawid sal koning wees oor hulle, en daar sal een herder vir hulle almal wees. My bepalings sal hulle volg, en my vaste voorskrifte sal hulle nakom en dit uitvoer. 25Hulle sal woon in die land wat Ek aan my dienskneg, aan Jakob, gegee het – die land waarin julle voorouers gewoon het. Hulle sal daarin woon, hulle en hulle kinders en kleinkinders, vir altyd; en Dawid, my dienskneg, sal vir hulle 'n leier wees vir altyd.
26“ ‘ “ Ek sal met hulle 'n vredesverbond sluit – dit sal 'n ewige verbond met hulle wees. Ek sal hulle vestig en hulle baie laat word, en Ek sal my heiligdom tussen hulle vestig, vir altyd. 27 My woning sal by hulle wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir my 'n volk wees. 28 Die nasies sal besef dat Ek die Here is wat Israel heilig, wanneer my heiligdom vir altyd tussen hulle sal wees.” ’ ”

Tans Gekies:

Esegiël 37: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid