Esegiël 34

34
Die Here se kudde
1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“ Mensekind, profeteer teen die herders van Israel. Profeteer en sê vir hulle, vir die herders, ‘So sê my Heer, die Here: “Wee die herders van Israel wat net aan hulleself weiding verskaf! Is dit nie die kleinvee aan wie die herders weiding moet verskaf nie? 3 Die vet eet julle, en met die wol klee julle julleself; die vetstes slag julle, maar die kleinvee laat julle nie wei nie. 4Dié wat swak is, het julle nie laat sterk word nie, en die siekes het julle nie gesond gemaak nie; dié met gebreekte bene het julle nie verbind nie; dié wat verstrooi is, het julle nie teruggebring nie, en dié wat weggeraak het, het julle nie gesoek nie, maar met mag en geweld het julle oor hulle regeer. 5 Hulle is verstrooi, sonder 'n herder. Hulle het die prooi geword van al die wilde diere. Hulle is verstrooi; 6my kleinvee dwaal rond op al die berge en op elke hoë heuwel. Oor die hele oppervlakte van die aarde is my kleinvee verstrooi, en niemand sien na hulle om of soek na hulle nie.”
7“ ‘Daarom, herders, hoor die woord van die Here: 8 “So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here: “omdat my kleinvee buit geword het en my kleinvee voedsel is vir al die wilde diere, omdat daar by hulle geen herder was nie, omdat my herders nie vir my kleinvee gesorg het nie, en die herders net aan hulleself weiding verskaf en my kleinvee nie laat wei het nie” 9– daarom, herders, hoor die woord van die Here. 10Ja, so sê my Heer, die Here: “Dit is Ek teen die herders! Ek sal my kleinvee van hulle hand eis en 'n einde maak aan hulle herderskap oor kleinvee, sodat die herders nie langer aan hulleself weiding sal verskaf nie. Ek sal my kleinvee uit hulle monde ruk; my kleinvee sal nie meer vir hulle voedsel wees nie.”
11“ ‘ Ja, so sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek self, ja, Ek, gaan omsien na my kleinvee en hulle opspoor. 12Soos 'n herder sy kudde opspoor op die dag wanneer hy tussen die verstrooide kleinvee is, so sal Ek my kleinvee opspoor. Ek sal hulle red uit elke plek waarheen hulle verstrooi is op 'n dag van wolke en diepe duisternis.
13“ ‘ “Ek sal hulle uitlei tussen die volke, hulle bymekaarmaak uit ander lande en hulle na hulle grond bring. Ek sal hulle laat wei op die berge van Israel, by die stroombeddings, en by al die woonplekke in die land. 14In goeie weiding sal Ek hulle laat wei; op die berghoogtes van Israel sal hulle weiveld wees. Daar sal hulle in goeie weiding gaan lê; geil weiding sal hulle bewei op die berge van Israel. 15 Ek self sal my kleinvee laat wei; Ek self sal hulle laat lê en rus.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.
16“ ‘ “Dié wat wegraak, sal Ek soek; dié wat verstrooi is, sal Ek terugbring; dié met gebreekte bene sal Ek verbind, en die swakkes sal Ek laat sterk word. Maar die vettes en die sterkes sal Ek uitdelg. Ek sal my skape laat wei op die regte manier.
17“ ‘ “En wat julle betref, my kleinvee,” so sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek gaan regter wees tussen skaap en skaap, tussen skaapramme en bokramme. 18Is dit nie vir julle genoeg dat julle die goeie weiding afwei en dan die res van die weiding vertrap met julle pote, dat julle skoon water drink en dit wat oorbly, dan met julle pote modderig maak nie? 19Wat my kleinvee betref – hulle moet wei op wat julle vertrap het met julle pote, en hulle moet drink wat julle modderig gemaak het met julle pote. 20Daarom,” so sê my Heer, die Here, vir hulle: “Kyk, Ek self, ja, Ek, gaan oordeel tussen die vet skape en die maer skape. 21Omdat julle al die swakkes met boud en blad wegstoot en met julle horings gaffel totdat julle hulle na buite verdryf het, 22sal Ek my kleinvee te hulp kom, sodat hulle nie meer buit sal wees nie. Ek sal oordeel tussen skaap en skaap. 23 Ek sal een herder oor hulle aanstel, en hy sal hulle laat wei – my dienskneg Dawid. Dit is hy wat hulle sal laat wei; dit is hy wat vir hulle 'n herder sal wees. 24 Ek, die Here, sal hulle God wees, en my dienskneg Dawid sal die leier in hulle midde wees. Ek, die Here, het gepraat.
25“ ‘ “ Ek sal met hulle 'n vredesverbond sluit en roofdiere uit die land verwyder. Hulle sal veilig woon in die woestyn en in die ruigtes slaap. 26 Ek sal hulle en die gebied rondom my heuwel tot 'n seën maak. Ek sal die reënbuie op hulle tyd laat val; dit sal reënbuie wees wat seën bring. 27Die bome van die veld sal hulle vrug lewer, die grond sal sy opbrengs lewer, en hulle sal veilig wees op hulle grond. Hulle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek die skeie van hulle juk breek en hulle red uit die hand van dié wat van hulle slawe gemaak het.
28“ ‘ “Hulle sal nie langer buit wees vir ander nasies nie, en die diere van die veld sal hulle nie opvreet nie. Hulle sal veilig wees, en niemand sal hulle opjaag nie. 29 Ek sal vir hulle gewasse wat aangeprys word, laat opskiet. Hulle sal nie meer van honger beswyk in die land nie, en hulle sal nie meer die vernedering deur die nasies hoef te verduur nie. 30 Hulle sal besef dat Ek, die Here hulle God, by hulle is, en dat hulle, die huis van Israel, my volk is.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here: 31“Julle is my kleinvee, die kleinvee van my weiding. Julle is my mense, Ek is julle God.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’ ”

Tans Gekies:

Esegiël 34: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid