Esegiël 34:2-10

Esegiël 34:2-10 AFR20

“ Mensekind, profeteer teen die herders van Israel. Profeteer en sê vir hulle, vir die herders, ‘So sê my Heer, die HERE: “Wee die herders van Israel wat net aan hulleself weiding verskaf! Is dit nie die kleinvee aan wie die herders weiding moet verskaf nie? Die vet eet julle, en met die wol klee julle julleself; die vetstes slag julle, maar die kleinvee laat julle nie wei nie. Dié wat swak is, het julle nie laat sterk word nie, en die siekes het julle nie gesond gemaak nie; dié met gebreekte bene het julle nie verbind nie; dié wat verstrooi is, het julle nie teruggebring nie, en dié wat weggeraak het, het julle nie gesoek nie, maar met mag en geweld het julle oor hulle regeer. Hulle is verstrooi, sonder 'n herder. Hulle het die prooi geword van al die wilde diere. Hulle is verstrooi; my kleinvee dwaal rond op al die berge en op elke hoë heuwel. Oor die hele oppervlakte van die aarde is my kleinvee verstrooi, en niemand sien na hulle om of soek na hulle nie.” “ ‘Daarom, herders, hoor die woord van die HERE: “So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die HERE: “omdat my kleinvee buit geword het en my kleinvee voedsel is vir al die wilde diere, omdat daar by hulle geen herder was nie, omdat my herders nie vir my kleinvee gesorg het nie, en die herders net aan hulleself weiding verskaf en my kleinvee nie laat wei het nie” – daarom, herders, hoor die woord van die HERE. Ja, so sê my Heer, die HERE: “Dit is Ek teen die herders! Ek sal my kleinvee van hulle hand eis en 'n einde maak aan hulle herderskap oor kleinvee, sodat die herders nie langer aan hulleself weiding sal verskaf nie. Ek sal my kleinvee uit hulle monde ruk; my kleinvee sal nie meer vir hulle voedsel wees nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid