Esegiël 33:13-32

Esegiël 33:13-32 AFR20

Wanneer Ek vir die regverdige sê hy sal beslis bly leef, maar hy vertrou op sy geregtigheid en doen onreg – geen van sy regverdige optrede sal in herinnering geroep word nie; deur die onreg wat hy gedoen het, daardeur sal hy sterf. En wanneer Ek vir die goddelose sê hy sal beslis sterf, maar hy bekeer hom van sy sonde, en hy doen wat reg en billik is – 'n pand gee hy, die goddelose, terug, wat geroof is, vergoed hy, volgens die vaste voorskrifte wat die lewe gee, tree hy op, en hy doen geen onreg nie – sal hy beslis bly leef; hy sal nie sterf nie. Geeneen van die sondes wat hy gedoen het, sal tot sy nadeel in herinnering geroep word nie. Wat reg en billik is, het hy gedoen; hy sal beslis bly leef. “Die mense van jou volk sê, ‘Die optrede van die Heer is onaanvaarbaar.’ Maar húlle optrede is onaanvaarbaar! Wanneer 'n regverdige van sy geregtigheid afwyk en onreg doen, sal hy daardeur sterf. En wanneer die goddelose afwyk van sy goddeloosheid en doen wat reg en billik is, as gevolg daarvan sal hy leef. Julle sê, ‘Die optrede van die Heer is onaanvaarbaar.’ Volgens elkeen se optrede sal Ek julle oordeel, huis van Israel. ” In die twaalfde jaar van ons ballingskap, in die tiende maand, op die vyfde van die maand, het iemand wat uit Jerusalem ontvlug het, by my aangekom en gesê: “Die stad is verslaan!” Die hand van die HERE was op my, die aand voor die een wat ontvlug het, daar opgedaag het; en Hy het my mond oopgemaak toe die man die oggend by my aankom. Hy het my mond oopgemaak en ek was nie meer stom nie. Die woord van die HERE het tot my gekom: “Mensekind, dié wat op daardie puinhope in die land Israel woon, sê, ‘Abraham was net een, en hy het die land in besit geneem. Ons is baie, en aan ons is die land gegee as eiendom.’ Daarom, sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die HERE: “Julle eet vleis met die bloed nog daarin; julle kyk op na julle afgodsbeelde, en julle vergiet bloed. Sal julle die land besit? Julle het op julle swaarde staatgemaak; julle het afstootlike dinge gedoen en julle het mekaar se vroue verontreinig. Sal julle die land besit?” ’ So moet jy vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die HERE: “So seker as wat Ek leef, hulle wat by die puinhope is, deur die swaard sal hulle val; hy wat in die oop veld is, vir die roofdiere gee Ek hom, sodat hulle hom opvreet; hulle wat in bergvestings en grotte is, deur pessiekte sal hulle sterf. Ek maak die land 'n woesteny, 'n afgryslike plek; sy trotse krag sal tot 'n einde kom. Die berge van Israel sal verlate wees, sonder verbygangers. Hulle sal besef dat Ek die HERE is wanneer Ek die land 'n woesteny maak, 'n afgryslike plek, weens al die afstootlike dade wat hulle gepleeg het.” ’ “En wat jou betref, mensekind, die mense van jou volk praat oor jou met mekaar, langs die mure en by die ingange na die huise. Die een praat met die ander, elkeen met sy volksgenoot, en sê, ‘Kom hoor wat is die woord wat van die HERE uitgaan!’ Dan kom hulle in skares by jou aan, en my volk gaan sit voor jou en hulle luister na jou woorde, maar hulle voer dit nie uit nie. Ja, met hulle monde doen hulle hartstogtelik mee, maar hulle harte is net agter hulle onregmatige wins aan. Kyk, jy is vir hulle soos 'n hartstogtelike lied, 'n mooi klank, soos iemand wat mooi speel op snaarinstrumente: Hulle hoor jou woorde, maar om dit te doen, bestaan nie by hulle nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid