ESEGIËL 33:13-32

ESEGIËL 33:13-32 NLV

As Ek vir regverdige mense sê hulle sal lewe, maar hulle begin dan sonde doen en verwag dat hulle regte optrede van die verlede hulle sal red, dan sal niks van hulle goeie dade onthou word nie. Ek sal hulle oor hulle sondes vernietig. As Ek vir bose mense sê hulle sal doodgaan, maar hulle draai weg van hulle sondes en doen wat reg en goed is, soos die goed teruggee wat hulle as waarborg vir skuld gehou het, of terugbetaal wat hulle gesteel het, lewe volgens die wette wat lewe bring en nie doen wat verkeerd is nie; as hulle dit doen, sal hulle beslis lewe en nie doodgemaak word nie. Hulle sondes sal nie teen hulle gehou word nie. Hulle doen wat reg en goed is, en hulle sal verseker lewe. “Jou mense sê: ‘Die Here tree nie regverdig op nie!’ Maar dis julle wat nie regverdig optree nie! As mense wat regverdig is, wegdraai en die slegte begin doen, sal hulle doodgemaak word. En wanneer mense wat verkeerd doen, wegdraai en begin doen wat goed en reg is, sal hulle lewe. Mense van Israel, julle sê: ‘Die Here tree nie regverdig op nie!’ Maar Ek oordeel elkeen van julle volgens sy of haar dade.” Op 8 Januarie, in die twaalfde jaar van ons ballingskap, het ’n man wat uit Jerusalem ontsnap het, na my toe gekom en gesê: “Die stad het geval!” Die vorige aand het die HERE aan my verskyn en my mond oopgemaak sodat ek kon praat toe die man die volgende oggend by my kom. Toe het die HERE vir my gesê: “Mensekind, die mense van Juda wat tussen die puinhope in die land Israel bly, sê: ‘Abraham was net een mens, en tog het hy die hele land gekry. Ons is baie. Die land behoort nou aan ons gegee te word!’ Sê vir die mense die oppermagtige HERE sê: Julle eet vleis met bloed daarin, aanbid afgode en vermoor onskuldiges. Julle is moordenaars, afgodsdienaars en egbrekers! Behoort die land aan julle gegee te word? “Sê vir hulle die oppermagtige HERE sê: So seker as Ek leef, die mense wat tussen die puinhope leef, sal deur die swaard doodgemaak word. Dié wat in die oop veld bly, sal deur wilde diere doodgemaak word. Dié wat in forte en grotte wegkruip, sal van siekte doodgaan. Ek vernietig die land en die mense se trots. Hulle mag sal gebreek word. Israel se berge sal verlate lê. Niemand sal daaroor trek nie. Die dag as Ek die land verwoes het oor hulle walglike dade, sal hulle weet dat Ek die HERE is. “Mensekind, jou mense praat agter jou rug. Hulle praat oor jou in hulle huise en by hulle deure. Hulle sê: ‘Kom, laat ons gekskeer! Kom ons gaan hoor wat die profeet ons vertel wat die HERE sê!’ Hulle kom en luister ewe vroom na jou prediking, maar hulle doen nie wat Ek vir hulle sê nie. Met hulle monde bely hulle liefde, maar hulle harte is net agter geld aan. Jy vermaak hulle soos iemand wat liefdesliedjies met ’n mooi stem sing of goeie musiek maak. Hulle hoor wat jy sê, maar doen dit nie!

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid