Esegiël 3:1-18

Esegiël 3:1-18 AFR20

Hy sê toe vir my: “Mensekind, wat jy nou kry, moet jy eet. Eet hierdie •boekrol en gaan praat met die huis van Israel.” Ek het my mond oopgemaak, en Hy het my daardie boekrol laat eet. Toe sê Hy vir my: “Mensekind, jou maag moet jy voed, en jou ingewande moet jy vul met hierdie boekrol wat Ek vir jou gee.” Ek het dit geëet, en dit was so soet soos heuning in my mond. Toe sê Hy vir my: “Mensekind, gaan na die huis van Israel en sê vir hulle my woorde, want jy word nie na 'n volk gestuur met spraak wat te moeilik is om te volg en onverstaanbare taal nie, maar na die huis van Israel – nie na baie volke met spraak wat te moeilik is om te volg en onverstaanbare taal waarvan jy die woorde nie begryp nie. Ek verseker jou, as Ek jou na hulle gestuur het, sou hulle wel na jou geluister het, maar die huis van Israel sal nie na jou wil luister nie, want hulle wil nie na My luister nie. Ja, die hele huis van Israel is hardkoppig en hard van hart. Kyk, Ek maak jou gesig net so stug soos hulle s'n, en Ek maak jou net so hardkoppig soos hulle. Soos 'n diamant, harder as vuurklip, het ek jou voorkop gemaak. Jy mag nie vir hulle bang wees en jy mag jou nie deur hulle laat afskrik nie, al is hulle die rebelse huis. ” Verder het Hy vir my gesê: “Mensekind, al my woorde wat Ek vir jou sê, neem dit ter harte, en luister met gespitste ore. Gaan dan na die ballinge, na jou volksgenote. Praat met hulle en sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die HERE,’ of hulle nou luister of verseg om te luister.” 'n Gees het my opgelig, en ek het agter my die geluid van 'n harde dreuning gehoor toe die heerlikheid van die HERE van sy plek af opstyg, ook die geluid van die wesens se vlerke wat teen mekaar klap, die geluid van die wiele langs hulle en die geluid van die harde dreuning. 'n Gees het my opgelig en my weggeneem. Ek het gegaan – bitter en ontstemd in my gemoed. Die hand van die HERE was ferm oor my. Ek het by die ballinge uitgekom wat in Tel Aviv, langs die Kebarrivier woon; en daar waar hulle woon, daar het ek sewe dae lank tussen hulle gesit, heeltemal verbysterd. Ná die sewe dae het die woord van die HERE tot my gekom: “ Mensekind, as 'n wag stel Ek jou aan vir die huis van Israel. Wanneer jy uit my mond woorde hoor, moet jy hulle namens My waarsku. Wanneer Ek vir 'n goddelose sê dat hy beslis sal sterf, en jy waarsku hom nie, jy praat nie om die goddelose te waarsku teen sy goddelose lewenswyse, sodat hy kan leef nie, sal hy, die goddelose, sterf oor sy sondeskuld; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid