Eksodus 34

34
Hernuwing van die verbond
1Die Here het vir Moses gesê: “Kap vir jou twee kliptafels uit, soos die eerstes. Ek sal op die tafels die woorde skryf wat op die eerste tafels was, wat jy aan stukke gebreek het. 2Wees teen die oggend gereed. Klim dan die berg Sinai in die oggend uit, en staan gereed vir My daar op die kruin van die berg. 3 Niemand mag saam met jou opklim nie. Ook mag niemand op die hele berg te sien wees nie. Selfs kleinvee of grootvee mag nie voor hierdie berg wei nie.”
4Nadat hy twee kliptafels soos die eerstes uitgekap het, het Moses vroeg die oggend opgestaan en teen die berg Sinai uitgeklim, net soos die Here hom beveel het. Hy het die twee kliptafels met hom saamgeneem. 5Die Here het in die wolk neergedaal en daar by hom plek ingeneem en die Naam “die Here” uitgeroep. 6 Die Here het reg voor hom verbygegaan en uitgeroep:
“Die Here, die Here,
'n barmhartige en genadige God,
geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid,
7wat troue liefde vir duisende bly handhaaf,
wat skuld, oortreding en sonde vergewe,
maar wat beslis niks ongestraf laat nie,
wat vir die sondeskuld van ouers,
kinders en kleinkinders laat boet,
ook die derde en vierde geslag. ”
8Moses het haastig op die grond gekniel en in aanbidding gebuig. 9 Toe sê hy: “As ek wel guns gevind het in u oë, my Heer, moet my Heer asseblief in ons midde saamtrek. Al is dit 'n hardnekkige volk, moet U ons skuld en ons sonde vergewe, en ons as u eiendom aanvaar.”
10 Die Here het gesê: “Kyk, Ek gaan 'n verbond sluit. Voor jou hele volk sal Ek wonders doen wat op die hele aarde of onder al die nasies nog nie deur My verrig is nie. Dan sal die hele volk tussen wie jy is, die werk van die Here sien. Want ontsagwekkend is dit wat Ek met jou gaan doen. 11 Kom dit na wat Ek jou vandag beveel, kyk, Ek gaan die •Amoriete, Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete voor jou uit verdryf.
12“ Wees op jou hoede dat jy nie 'n verdrag sluit met die inwoners van die land waarheen jy op pad is nie, anders word dit 'n valstrik in jou midde.
13 Hulle altare moet julle egter afbreek, hulle gedenkstene moet julle stukkend slaan, hulle asjeras moet julle afkap, 14want jy mag nie voor 'n ander god in aanbidding buig nie, omdat die Here wie se Naam “Besitlik” is, 'n besitlike God is.
15Wees op jou hoede dat jy nie 'n verdrag sluit met die inwoners van die land nie. Wanneer hulle agter hulle gode aan hoereer en vir hulle gode offer, sal jy genooi word, en jy sal van hulle offers eet; 16 en jy sal van hulle dogters vir jou seuns neem, en hulle dogters sal agter hulle gode aan hoereer en veroorsaak dat jou seuns ook agter hulle gode aan hoereer.
17Gegote beelde mag jy nie vir jou maak nie.
18 Die Fees van die Ongesuurde Brood moet jy onderhou. Sewe dae lank moet jy ongesuurde brood eet, soos Ek jou beveel het. Doen dit op die vasgestelde tyd in die maand Abib, want in die maand Abib het jy uit Egipte weggetrek.
19 Elke eersteling van die moederskoot behoort aan My – dit is al jou manlike vee, die eerstelinge van beeste en kleinvee. 20Die eersteling van 'n donkie moet jy loskoop met 'n lam, en as jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Al jou eersgebore seuns moet jy loskoop.
Niemand mag met leë hande voor My verskyn nie.
21Ses dae moet jy werk, maar op die sewende dag moet jy rus; selfs in die ploegtyd en oestyd moet jy rus.
22Die Fees van die Weke moet jy vier met die eerste opbrengs van die koringoes; en die Fees van die Insameling teen die wending van die jaar. 23 Drie keer per jaar moet al die manlike persone wat by jou is voor die Heer, die Here, die God van Israel, verskyn. 24Omdat Ek nasies voor jou uit sal verdryf en jou grondgebied sal vergroot, sal niemand jou land begeer wanneer jy drie keer per jaar opgaan om voor die Here jou God te verskyn nie.
25Jy mag nie so slag dat die bloed van my offer naby suurdeeg is nie; en die offer by die fees van die Pasga mag nie tot die oggend oorstaan nie.
26 Die keur van die eerste vrugte van jou grond moet jy na die huis van die Here jou God bring.
Jy mag nie 'n boklam in sy ma se melk kook nie.”
27Die Here het toe vir Moses gesê: “Skryf jy hierdie woorde neer, want in ooreenstemming met hierdie woorde het Ek met jou en met Israel 'n verbond gesluit.”
28 Hy was daar by die Here veertig dae en veertig nagte lank. Brood het hy nie geëet nie en water het hy nie gedrink nie. Hy het op die kliptafels die woorde van die verbond, die Tien Gebooie, geskryf.
29 Toe Moses van die berg Sinai afkom – die twee kliptafels met die Getuienis was in Moses se hand toe hy van die berg afkom – het Moses nie geweet dat die vel van sy gesig stralend was omdat hy met God gepraat het nie. 30Toe Aäron en al die Israeliete Moses sien, was die vel van sy gesig stralend! Hulle was toe te bang om naby hom te kom. 31Maar Moses het na hulle geroep, en Aäron en al die leiers in die volksvergadering het teruggedraai na hom, en toe het Moses met hulle gepraat. 32 Daarna het al die Israeliete ook nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die Here vir hom op die berg Sinai gesê het.
33 Toe Moses klaar met hulle gepraat het, het hy 'n sluier oor sy gesig getrek. 34Maar wanneer Moses in die Here se teenwoordigheid kom om met Hom te praat, verwyder hy die sluier totdat hy weer uitkom. As hy dan uitkom en vir die Israeliete sê watter opdragte hy ontvang het, 35en die Israeliete Moses se gesig sien, dat die vel van sy gesig stralend is, trek hy weer die sluier oor sy gesig totdat hy ingaan om met die Here te praat.

Tans Gekies:

Eksodus 34: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid