Eksodus 22

22
1“ Wanneer iemand 'n bees of 'n skaap steel en dit slag of verkoop, moet hy daarvoor vergoed met vyf stuks grootvee vir 'n bees, en met vier stuks kleinvee vir 'n skaap.
2As 'n dief tydens 'n inbraak betrap word en só geslaan word dat hy sterf, is daar geen bloedskuld nie. 3As dit egter ná sonop gebeur, rus daar bloedskuld op die een wat hom geslaan het. 'n Dief moet volle vergoeding betaal. As hy niks besit nie, moet hy vir sy diefstal verkoop word. 4As gesteelde goed wel lewendig in sy besit gevind word, moet hy dubbeld daarvoor vergoed, of dit nou 'n bees of 'n donkie of 'n skaap is.
5Wanneer iemand 'n veld of 'n wingerd laat bewei, en hy sy vee loslaat sodat hulle in iemand anders se veld wei, moet hy daarvoor vergoed, met die beste van sy veld of met die beste uit sy wingerd. 6As 'n brand uitbreek, dit na die dorings versprei, en stapels gerwe, of ongeoeste graan, of die land, afbrand, moet die een wat die brand begin het, ten volle daarvoor vergoed.
7Wanneer iemand vir sy medemens silwer of goedere gee om te bewaar, en dit word uit die man se huis gesteel, moet die dief dubbeld daarvoor vergoed as hy betrap word. 8 As die dief nie betrap word nie, moet die eienaar van die huis voor God nader gebring word om vas te stel of hy nie sy hande op sy medemens se besittings gelê het nie.
9In enige geval van misdaad wat verband hou met 'n bees, 'n donkie, 'n skaap, klere of enige verlore eiendom waarvan iemand sê, ‘Dit is myne!’ moet die twee se saak voor God gebring word. Die een vir wie God skuldig verklaar, moet sy medemens dubbeld daarvoor vergoed. 10Wanneer iemand vir sy medemens 'n donkie, 'n bees, 'n skaap of enige ander dier gee om op te pas, en dit vrek, of word beseer, of dit word weggevoer sonder dat iemand dit sien, 11moet 'n eed voor die Here tussen die twee beslis. As die persoon nie sy hande op sy medemens se besitting gelê het nie, moet die eienaar dit aanvaar en hoef die ander persoon niks daarvoor te vergoed nie. 12 Maar as dit wel van hom gesteel is, moet die persoon die eienaar vergoed. 13As die dier verskeur is, moet hy dit as bewys bring. Dan hoef hy nie vergoeding te betaal vir die verskeurde dier nie.
14Wanneer iemand 'n dier by sy medemens leen en die dier word beseer of vrek terwyl die eienaar nie teenwoordig is nie, moet hy die volle vergoeding daarvoor betaal. 15As die eienaar wel teenwoordig was, hoef hy nie vergoeding daarvoor te betaal nie. As dit 'n gehuurde dier was, dek die huurgeld die verlies.
16 Wanneer iemand 'n jongmeisie wat nie verloof is nie, verlei en by haar slaap, moet hy beslis die bruidsprys vir haar betaal, sodat sy sy vrou word. 17As haar vader volstrek weier om haar aan hom te gee, moet hy die silwer afweeg wat ooreenstem met die bruidsprys vir jongmeisies.
18 'n Towenares mag jy nie laat leef nie.
19 Elkeen wat met 'n dier gemeenskap het, moet beslis sterf.
20Iemand wat aan enige god offer, uitgesonderd die Here, moet onder die ban geplaas word.
21 'n •Vreemdeling mag jy nie mishandel of verdruk nie, omdat julle vreemdelinge in Egipteland was.
22Geen weduwee of vaderlose kind mag jy onderdruk nie. 23As jy hulle op enige manier onderdruk, sal Ek beslis hulle noodroep hoor wanneer hulle dringend na My om hulp roep. 24My toorn sal ontbrand en Ek sal julle met die swaard ombring. Dan sal julle vroue weduwees word en julle kinders vaderloos.
25 As jy aan my volk, aan die magteloses by jou, geld leen, mag jy nie teenoor hulle soos 'n skuldeiser optree nie: Julle mag nie van hulle rente eis nie. 26As dit wel sou gebeur dat jy jou medemens se oorkleed as pand neem, moet jy dit voor sononder vir hom teruggee, 27want dit is sy enigste bedekking; dit is die kleed waarmee hy sy vel bedek. Waarin moet hy slaap? Wanneer hy na My om hulp roep, sal Ek hoor; want Ek is genadig.
28God mag jy nie laster nie, en oor 'n leier in jou volk mag jy nie 'n vervloeking uitspreek nie.
29Offers uit jou volle graanoes en die opbrengs van jou parskuip mag jy nie terughou nie.
Die eersgeborene van jou seuns moet jy aan My afstaan. 30 Jy moet dieselfde doen met jou beeste en jou kleinvee. Sewe dae lank moet die dier by sy ma bly, en op die agtste dag moet jy hom vir My gee.
31Julle moet mense wees wat aan My gewy is.
Vleis wat in die veld verskeur is, mag julle nie eet nie. Vir die honde moet julle dit gooi.

Tans Gekies:

Eksodus 22: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid