Eksodus 2:1-10

Eksodus 2:1-10 AFR20

'n Man uit die familie van Levi het gegaan en 'n dogter van Levi as vrou geneem. Die vrou het swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Toe sy sien hoe mooi hy is, het sy hom vir drie maande weggesteek. Maar toe sy hom nie meer kon wegsteek nie, het sy vir hom 'n papirusmandjie gekry en dit met pik en teer dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die palmiete aan die kant van die Nyl neergesit. Sy suster het op 'n afstand gaan staan om te sien wat met hom gaan gebeur. Die dogter van die farao het afgegaan na die Nyl om haar te was, terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl stap. Sy sien toe die mandjie tussen die palmiete en stuur haar slavin om dit te gaan haal. Toe sy dit oopmaak, sien sy die seuntjie – en kyk, dit was 'n babaseuntjie wat huil! Sy het hom jammer gekry en het gesê: “Dit moet een van die seuntjies van die Hebreërs wees.” Sy suster vra toe vir die farao se dogter: “Moet ek gaan en vir u 'n pleegma onder die Hebreeuse vroue gaan roep, sodat sy die seuntjie vir u kan voed?” Die farao se dogter het vir haar gesê: “Gaan!” Die jongmeisie gaan roep toe die seuntjie se moeder. Die farao se dogter het vir haar gesê: “Neem hierdie seuntjie en voed hom vir my. Ek sal jou self daarvoor betaal.” Die vrou het die seuntjie geneem en hom gevoed. Toe die seuntjie groter geword het, het sy hom na die farao se dogter gebring, en hy het haar seun geword. Sy het hom Moses genoem, “Want,” het sy gesê, “uit die water het ek hom gehaal.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid