Eksodus 17:1-7

Eksodus 17:1-7 AFR20

Die hele volksvergadering van die Israeliete het op bevel van die HERE, volgens hulle trekgroepe, weggetrek uit die Sinwoestyn. Hulle het by Refidim kamp opgeslaan, maar daar was nie vir die volk water om te drink nie. Die volk het Moses verwyt; hulle het gesê: “Gee vir ons water sodat ons kan drink!” Moses het hulle geantwoord: “Waarom verwyt julle my? Waarom daag julle die HERE uit? ” Maar die volk het daar gesmag na water, en die volk het teen Moses gemor en gesê: “Waarvoor het jy ons uit Egipte laat optrek? Om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat sterf?” Moses het na die HERE om hulp geroep en gesê: “Wat moet ek maak met hierdie volk? Hulle is op die punt om my te stenig. ” Die HERE sê toe vir Moses: “Gaan voor die volk uit, en neem van die oudstes van Israel met jou saam. Die staf waarmee jy die Nyl geslaan het, moet jy in jou hand neem. Gaan dan! Kyk, Ek sal daar voor jou staan op die rots by Horeb. Jy moet op die rots slaan, dan sal daar water uitkom, en die volk sal drink.” Moses het dit toe gedoen ten aanskoue van die oudstes van Israel. Hy het die plek Massa en Meriba genoem, na aanleiding van die Israeliete se verwyte, en omdat hulle die HERE uitgedaag het deur te sê: “Is die HERE in ons midde of nie?”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid