Eksodus 15

15
Oorwinningslied by die Rietsee
1 Toe het Moses en die Israeliete hierdie lied vir die Here gesing. Hulle het gesê:
“Ek wil sing vir die Here,
want Hy is hoog verhewe.
Die perd en sy ruiter
het Hy in die see geslinger.
2My krag en sterkte is die Here,
en Hy was my redding.
Hy is my God,
en Hom sal ek vereer,
die God van my vader,
en Hom sal ek verheerlik.
3“Die Here is 'n krygsman,
Here is sy Naam.
4 Die farao se strydwaens en sy leër
het Hy in die see geslinger;
die keur van sy offisiere
het weggesink in die Rietsee.
5Die watermassa het hulle verswelg;
in die dieptes het hulle afgesak soos 'n klip.
6“ U regterhand, Here majestueus in krag;
U regterhand, Here, vernietig die vyand.
7In u hoë verhewenheid breek
U hulle af wat teen U opstaan.
U gee u toorngloed vrye teuels,
dit verteer hulle soos strooi.
8 Deur die asem uit u neus
het die water opgedam,
het die seestrome gaan staan
soos in 'n dam,
het die watermassa in die hart
van die see gestol.
9“Die vyand het gesê,
‘Ek sal agtervolg, inhaal, buit verdeel;
my begeerte sal vervul word.
Ek sal my swaard trek,
my hand sal hulle onderwerp.’
10 U het met u asem geblaas,
die see het hulle verswelg;
soos lood het hulle gesink
in die magtige waters.
11“ Wie is soos U onder die gode, Here?
Wie is soos U, majestueus in heiligheid,
ontsagwekkend in lofwaardige dade?
U wat wonders doen,
12U het u regterhand uitgestrek;
die aarde het hulle ingesluk.
13“Deur u troue liefde
sal U die volk lei wat U gered het.
Deur u krag sal U hulle begelei
na u heilige woonplek.
14Volke sal dit hoor, hulle sal sidder;
benoudheid pak die inwoners
van Filistea beet.
15 Dan raak die stamhoofde
van Edom beangs,
bewing pak die leiers van Moab beet;
al die inwoners van Kanaän sidder.
16Verskrikking en vrees sal hulle oorval;
vanweë u magtige arm
raak hulle stil soos 'n klip,
totdat u volk, Here, verbytrek,
totdat die volk wat U gekoop het, verbytrek.
17U sal hulle inbring en plant
op die berg van u erfgrond,
die plek wat U voorberei het
vir u verblyf, Here,
die heiligdom, my Heer,
wat u hande gevestig het.
18“ Die Here sal regeer vir altyd en ewig.
19 Want die perde van die farao,
met sy strydwaens en bemanning,
het in die see ingegaan,
en die Here het die water van die see
oor hulle laat terugvloei.
Maar die Israeliete het op
droë grond in die middel van
die see deurgetrek.”
20Toe het Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, 'n tamboeryn in haar hand geneem, en al die vroue het agter haar aan uitgegaan met tamboeryne en in 'n kring gedans. 21 Mirjam het vir hulle die refrein gesing:
“Sing vir die Here,
want Hy is hoog verhewe.
Die perd en sy ruiter
het Hy in die see geslinger.”
Bitter water by Mara
22Moses het die Israeliete laat wegtrek van die Rietsee, en hulle het uitgegaan na die Surwoestyn. Hulle het drie dae lank in die woestyn getrek en nie water gekry nie. 23Toe hulle by Mara aankom, kon hulle die water van Mara nie drink nie, want dit was bitter. Daarom word die plek Mara genoem.
24Die volk het teenoor Moses gemor en gesê: “Wat moet ons drink?” 25Hy het na die Here om hulp geroep; en die Here het hom 'n stuk hout gewys. Moses het dit in die water gegooi, en die water het soet geword. Daar het die Here vir hulle 'n vaste voorskrif en 'n bepaling neergelê; daar het Hy hulle getoets. 26Hy het gesê: “As jy noukeurig luister na die stem van die Here jou God, doen wat reg is in sy oë, aandag gee aan sy gebooie en al sy vaste voorskrifte nakom, dan sal Ek nie een van die siektes wat Ek op die Egiptenare gelaai het, oor jou bring nie; want Ek is die Here wat jou gesond maak. ” 27 Hierna het hulle by Elim aangekom, waar daar twaalf fonteine en sewentig dadelpalms was. Hulle het daar langs die water kamp opgeslaan.

Tans Gekies:

Eksodus 15: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid