Prediker 2

2
1 Ek het in my hart gesê:
Kom, ek laat jou plesier uittoets.
Geniet wat goed is!
Maar kyk, ook dit was sinloos.
2Om te lag, het ek gesê, is onsinnig,
en oor plesier, wat lewer dit op?
3Ek het dit ernstig oorweeg
om my liggaam met wyn
op te beur,
terwyl my hart my
met wysheid lei,
en om aan dwaasheid
vas te hou totdat ek sou sien
wat goed is vir mense,
wat hulle onder die hemel
moet doen gedurende
hulle min lewensdae.
4Ek het groot ondernemings aangepak:
Ek het vir my huise gebou;
ek het vir my wingerde geplant.
5Ek het vir my tuine en parke aangelê,
en allerhande soorte vrugtebome
daarin geplant.
6 Ek het vir my damme gemaak
om 'n bos jong bome
daaruit nat te lei.
7Ek het slawe en slavinne gekoop,
en slawekinders wat in my huis
gebore is, was ook deel
van my besittings.
Ek het meer beeste en kleinvee
gehad as almal wat voor my
in Jerusalem was.
8Ek het ook vir my silwer en goud,
die privaatbesit van konings,
en provinsies, bymekaargemaak.
Ek het vir my sangers en sangeresse
aangeskaf,
en die genot van mensekinders:
baie byvroue!
9So het ek baie belangriker geword
as enigiemand wat voor my
in Jerusalem was;
boonop het ek my wysheid
steeds behou.
10Wat my oë ook al begeer het,
het ek hulle nie ontsê nie.
Ek het my hart nie weerhou
van enige plesier nie.
Ja, my hart het vreugde geput
uit al my inspanning.
Dit was my beloning
vir al my inspanning.
11Maar ek het nagedink
oor al die werk wat my hande
verrig het,
en die inspanning waarmee ek
my afgesloof het
om dit tot stand te bring.
En kyk, alles was sinloos
en 'n gejaag na wind.
Dit het geen voordeel ingehou
onder die son nie.
12Ek het daaraan aandag geskenk
om insig te kry in wysheid,
in domheid en dwaasheid:
Wat sal die een doen
wat die koning opvolg?
Dit wat reeds gedoen is!
13 Ek het ingesien
dat daar 'n voordeel is
aan wysheid bo dwaasheid,
soos die lig 'n voordeel is
bo die duisternis.
14Die wyse het oë in sy kop,
maar die dwaas verkeer
in die duister.
Ek het egter ook besef
dat dieselfde lot beide tref.
15 Toe het ek in my hart gesê:
Die lot van die dwaas
sal my ook tref.
Waarom is ek dan buitengewoon wys?
Ek het vir myself gesê
dat ook dit sinloos is.
16 Daar is immers
geen blywende herinnering
aan die wyse nie,
net so min as aan die dwaas.
In die dae wat kom sal alles
lank reeds vergete wees.
Ag, hoe sterf die wyse
net soos die dwaas!
17Ek het 'n weersin in die lewe gekry,
want wat onder die son
gedoen word, het my gegrief;
ja, dit alles is sinloos
en 'n gejaag na wind.
18Ek het 'n weersin gekry
in al die inspanning
waarmee ek my
onder die son afgesloof het –
dat ek dit moet nalaat
aan die een wat ná my kom.
19En wie weet of hy 'n wyse man
sal wees of 'n dwaas?
Hy gaan beheer hê oor alles
waarvoor ek my ingespan het,
waarvoor ek my afgesloof het
en wat ek onder die son
met wysheid uitgevoer het.
Ook dit is sinloos.
20Ek het my hart aan vertwyfeling
oorgegee, oor al die inspanning
waarmee ek my onder die son
afgesloof het;
21 want iemand wat hom
met wysheid, kennis
en kundigheid afgesloof het,
laat die vrug van sy arbeid
as beloning na aan iemand
wat hom nie daarvoor
afgesloof het nie.
Ook dit is sinloos en 'n groot euwel.
22 Ja, wat kry 'n mens
vir al sy inspanning
en die strewe van sy hart
waaroor hy besorg was
onder die son?
23Want al sy dae is vol lyding,
en sy taak is vir hom 'n verdriet –
selfs snags kom sy hart nie tot rus nie.
Ook dit is sinloos.
24 Daar is niks beter vir die mens
as dat hy eet en drink en sy keel
laat geniet wat goed is
vir sy inspanning nie.
Ook dit het ek ingesien:
Dit is uit die hand van God,
25want: “Wie kan eet
en wie kan geniet sonder My?”
26Ja, aan die mens wat Hy
aanvaarbaar vind,
gee Hy wysheid,
kennis en vreugde;
maar vir die een wat verkeerd optree,
gee Hy die taak om te versamel
en bymekaar te maak –
net om dit te oorhandig aan een
wat aanvaarbaar is vir God.
Ook dit is sinloos
en 'n gejaag na wind.

Tans Gekies:

Prediker 2: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid