Prediker 12

12
1Dink aan jou Skepper
in jou jong dae,
voordat die dae
van teenspoed kom,
en jare aanbreek waarvan jy sal sê,
“Vir my is daar geen vreugde in nie”;
2voordat die son en die lig
donker word,
die maan en die sterre;
en die wolke terugkeer
ná die reën;
3die dag wanneer die wagte
van die huis bewe,
die sterk manne krom word,
die vroue wat maal, ophou werk
omdat hulle te min geword het,
dié wat deur die vensters kyk,
donker word,
4en die deure na die straat
gesluit word;
wanneer die geluid van die meul
sag word;
wanneer sy stem klink
soos die klank van 'n voël,
maar al die tone van die lied
dof is;
5wanneer daar selfs
vir 'n hoogte gevrees word
en daar verskrikking
op die pad is;
terwyl amandelbome bloei,
koringkrieke hulleself voortsleep
en kappertjies oopbreek,
wanneer die mens op pad is
na sy ewige huis,
en die rouklaers in die straat rondgaan;
6voordat die silwerkoord
verwyder word,
die goue bak stukkend val,
die kruik langs die waterbron
gebreek word,
die skepwiel stukkend val
in die put,
7 die stof na die aarde
terugkeer soos dit was,
en die lewensasem na God
terugkeer wat dit gegee het.
8 Sinloos, volslae sinloos,
sê die prediker,
alles is sinloos!
Twee naskrifte
9Nie net was Prediker wys nie, hy het ook nog kennis aan die volk oorgedra. Hy het oorweeg en nagevors; hy het baie wysheidspreuke georden. 10Prediker het daarna gestreef om gepaste woorde te vind, wat eerlik neergeskryf is – waar woorde. 11Die woorde van wyses is soos skerp stokke; soos spykers wat ingeslaan is, is die hoofgedagtes van 'n versameling. Hulle is deur een Herder gegee.
12Bo en behalwe alles, nog dit:
My seun, wees gewaarsku: Aan die skryf van baie •boekrolle kom daar geen einde nie, en baie studie is uitputtend vir die liggaam.
13 Die slotsom is, nadat alles gehoor is:
Betoon ontsag vir God en kom sy gebooie na; dit geld immers die hele mensdom. 14 Want oor elke daad sal God self oordeel, oor alles wat verborge is, of dit goed is of kwaad.

Tans Gekies:

Prediker 12: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid