Deuteronomium 29

29
Hernuwing van die verbond
1 Dit is die bepalings van die verbond wat die Here Moses beveel het om met die Israeliete te sluit in die land Moab, afgesien van die verbond wat Hy met hulle by Horeb gesluit het. 2 Moses het die hele Israel byeengeroep en vir hulle gesê: “Julle het self alles gesien wat die Here in Egipteland voor julle oë gedoen het aan die farao, aan al sy dienaars en aan sy hele land – 3die groot teistering wat jou eie oë gesien het, ja, daardie tekens van mag en groot wonders. 4 Tot vandag toe het die Here nie vir julle insig gegee om te verstaan nie, oë om te sien en ore om te hoor nie. 5Ek het julle veertig jaar lank in die woestyn gelei. Julle klere aan julle lywe het nie verslyt nie. Jou sandale aan jou voete het ook nie verslyt nie. 6Brood het julle nie geëet nie, en wyn of sterk drank het julle nie gedrink nie, sodat julle kon verstaan dat Hy die Here, julle God is.
7“Toe julle op hierdie plek aangekom het, het Sihon, die koning van Gesbon, en Og, die koning van Basan, opgetrek om teen ons oorlog te maak. Maar ons het hulle verslaan, 8hulle land afgeneem en dit as erfenis aan die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse gegee. 9Kom dan die woorde van hierdie verbond na en voer dit uit, sodat julle sukses kan behaal met alles wat julle aanpak. 10Julle staan vandag almal in die teenwoordigheid van die Here julle God – julle hoofde, julle stamhoofde, julle oudstes en julle opsieners, elke Israeliet, 11julle kinders, julle vroue, en al die •vreemdelinge wat in jou kamp is, van hulle wat vir jou hout kap tot hulle wat vir jou water uit die put optrek – 12om toe te tree tot die verbond van die Here jou God wat die Here jou God vandag met jou gaan sluit, en ook die vervloeking daaraan verbonde, 13sodat Hy jou vandag as sy volk kan vestig, en Hy vir jou 'n God kan wees soos Hy jou beloof het, en soos Hy dit met 'n eed beloof het aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob. 14Dit is nie julle alleen wat ek aan hierdie verbond en hierdie vervloeking bind nie; 15nee, dit is elkeen wat vandag hier saam met ons in die teenwoordigheid van die Here ons God staan, sowel as dié wat nie vandag hier saam met ons is nie.
16“ Julle weet immers self dat ons in Egipteland gewoon het en dat ons tussen ander nasies deurgetrek het en dat, toe julle deurgetrek het, 17 julle hulle walglike beelde, hulle afgode, gesien het – die hout en klip, silwer en goud wat by hulle was. 18 Dit het gebeur sodat daar by julle nie 'n man of 'n vrou of familie of stam sal wees wat vandag hulle harte van die Here ons God afwend om die gode van daardie nasies te gaan dien nie – ja, sodat daar onder julle geen wortel sal wees wat giftige plante en wildeals voortbring nie. 19Iemand sou homself in sy gedagtes as geseënd kon beskou by die aanhoor van die woorde van hierdie vervloeking en dink, dit sal met my goed gaan, al hou ek vol met my verstoktheid van hart. Sodat dit wat natgemaak is, nie saam met wat droog is, wegkwyn nie, 20sal die Here nie bereid wees om hom te vergewe nie. Nee, die toorn van die Here en sy ywer sal dan teen daardie man bly smeul, en elke vervloeking wat op hierdie •boekrol geskryf staan, sal op hom rus. Die Here sal sy naam onder die hemel uitwis. 21Die Here sal so iemand met die oog op die onheil afsonder van al die stamme van Israel, ooreenkomstig al die vervloekings van die verbond wat op hierdie boekrol met die wet geskryf staan.
22“ Die volgende geslag, die kinders wat ná julle kom en die buitelanders uit 'n ver land, sal die plae van hierdie land en die siektes wat die Here daar laat uitbreek, sien; hulle sal sê, 23‘Dit is net swael en sout; die hele gebied is verskroei. Daar word nie geplant nie en niks groei daar nie; geen groenigheid kom eers op nie. Dit is soos met die verwoesting van Sodom en Gomorra, soos met Adma en Sebojim wat die Here in sy toorn en woede verwoes het.’ 24Ja, al die nasies sal vra, ‘Waarom het die Here so gemaak met hierdie land? Wat is die rede vir hierdie verskriklike siedende toorn?’ 25Mense sal sê, ‘Dit is omdat hulle die verbond van die Here, die God van hulle voorouers, verlaat het wat Hy met hulle gesluit het toe Hy hulle uit Egipteland uitgelei het. 26Hulle het ander gode gaan dien en voor hulle in aanbidding gebuig – gode wat hulle nie geken het nie en wat Hy nie aan hulle toegewys het nie. 27Die toorn van die Here het ontbrand teen daardie land, sodat Hy al die vervloeking wat op hierdie boekrol geskryf staan, oor hulle gebring het. 28Die Here het hulle in toorn en woede, in fel grimmigheid, van hulle grond af geruk en hulle weggewerp na 'n ander land, soos dit vandag is.’
29 “Wat verborge is, is die Here, ons God, se saak; wat geopenbaar is, is altyd vir ons en ons kinders van belang, sodat ons die woorde van hierdie wet kan uitvoer.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid