Deuteronomium 21

21
Moord deur 'n onbekende
1 “Wanneer iemand afkom op 'n lyk wat in die veld lê, op die grond wat die Here jou God vir jou gaan gee om in besit te neem, maar dit is nie bekend wie die persoon doodgeslaan het nie, 2moet jou oudstes en regters uitgaan en die afstand meet na die dorpe wat rondom die lyk is. 3En die dorp wat die naaste is aan die lyk, die oudstes van daardie dorp moet 'n vers vat waarmee nog nie geploeg is nie, wat nog nie onder die juk was nie. 4Die oudstes van daardie dorp moet met die vers afgaan na 'n standhoudende spruit waar daar nie geploeg of gesaai word nie. Daar by die spruit moet hulle die vers se nek breek. 5Dan moet die Levitiese priesters nader kom, want die Here jou God het juis hulle uitgekies om Hom te dien en om in die Naam van die Here te seën. Hulle uitsprake beslis alle gevalle van twis en geweldsmisdaad. 6 Al die oudstes van daardie dorp wat die naaste aan die lyk is, moet hulle hande was bo-oor die vers waarvan die nek by die spruit gebreek is. 7Hulle moet dan verklaar en sê, ‘Ons hande het nie hierdie bloed vergiet en ons oë het dit nie gesien nie. 8Skeld u volk Israel, wat U verlos het, kwyt, Here. Laat die bloedskuld van 'n onskuldige tog nie op u volk Israel rus nie. ’ Dan sal hulle van bloedskuld kwytgeskeld word. 9Jy moet self die stort van onskuldige bloed by jou uitroei, want dan doen jy wat reg is in die oë van die Here.
Gesinsake
10“ Wanneer jy teen jou vyande uittrek om oorlog te voer, en die Here jou God gee hulle in jou hand, sodat jy van hulle as gevangenes wegvoer, 11en jy sien onder die gevangenes 'n mooi vrou en jy raak geheg aan haar, dan mag jy met haar trou. 12Wanneer jy haar in jou huis inbring, moet sy haar hare afsny en haar naels knip. 13Sy moet ook ontslae raak van die klere waarin sy gevange geneem is. Dan kan sy in jou huis bly en 'n maand lank rou oor haar vader en moeder. Eers daarna mag jy by haar ingaan en haar man word; sy sal dan jou vrou wees. 14As dit dalk gebeur dat jy later nie meer sin in haar het nie, moet jy haar laat gaan waarheen sy wil. Jy mag haar glad nie verkoop nie. Jy mag haar nie as eiendom beskou nie, aangesien jy haar verneder het.
15“ Wanneer 'n man twee vroue het, die een geliefd en die ander nie-geliefd, en die geliefde en die nie-geliefde bring albei vir hom seuns in die wêreld, en die eersgeborene is die seun van die nie-geliefde, 16kan hy nie, wanneer hy sy seuns sy besittings laat erf, die seun van die geliefde vrou die eersgeborene maak ten koste van die seun van die nie-geliefde, die eersgeborene, nie. 17Nee, die eersgeborene, die seun van die nie-geliefde, moet hy erken deur aan hom 'n dubbele deel te gee van alles wat hy besit. Hy is immers die eersteling van sy manlike krag. Die eersgeboortereg is syne.
18 “As iemand 'n koppige en opstandige seun het wat nie na sy vader en moeder wil luister nie, en hulle straf hom, maar hy wil steeds nie na hulle luister nie; 19moet sy vader en moeder hom gryp en hom uitneem na die oudstes van sy dorp, na die poort van sy woonplek. 20Hulle moet vir die oudstes van sy dorp sê, ‘Hierdie seun van ons is koppig en opstandig. Hy wil nie na ons luister nie. Hy is roekeloos en 'n drinker.’ 21Dan moet al die manne van die dorp hom met klippe doodgooi, sodat hy sterf. Jy moet die kwaad by jou uitroei. Die hele Israel moet dit hoor sodat hulle bang word.”
Allerlei voorskrifte
22 “As iemand 'n sonde begaan wat die doodstraf verdien, en hy gedood word en jy hom aan 'n houtpaal hang, 23mag sy lyk nie die nag aan die paal bly hang nie; maar jy moet hom beslis daardie selfde dag nog begrawe. Iemand wat aan 'n paal gehang word, is immers 'n vervloekte by God. Jy mag nie jou grondgebied wat die Here jou God vir jou as erfdeel gaan gee, verontreinig nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid