Handelinge 4:21-31
Handelinge 4:21-31 AFR20
Nadat hulle Petrus en Johannes nog meer gedreig het, het hulle hulle vrygelaat omdat hulle as gevolg van die volk se houding nie 'n manier kon vind om hulle te straf nie; want almal het God verheerlik oor wat gebeur het. Die man oor wie hierdie teken van genesing gekom het, was immers ouer as veertig jaar. Ná hulle vrylating het Petrus en Johannes na hulle eie mense gegaan en hulle vertel wat die leierpriesters en die familiehoofde alles vir hulle gesê het. Toe hulle dit hoor, het hulle God eensgesind aangeroep en gesê: “Here, U is die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het, wat by monde van ons vader Dawid, u dienskneg, deur die Heilige Gees gesê het: “ ‘Waarom gaan die heidennasies tekere, en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde neem stelling in, en die leiers span saam teen die Here en teen sy Gesalfde.’ “Want inderdaad, in hierdie stad het hulle – Herodes en Pontius •Pilatus, saam met die heidennasies en die volke van Israel – saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur. En nou, Here, slaan ag op hulle dreigemente, en gee dat u diensknegte u boodskap met alle vrymoedigheid verkondig, deur u hand uit te strek tot genesing, en deurdat tekens en wonders deur die Naam van u heilige Dienskneg Jesus plaasvind.” Terwyl hulle gebid het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud en almal is vervul met die Heilige Gees, en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig.





