Handelinge 11

11
Petrus se verantwoording in Jerusalem
1Die •apostels en die broers dwarsdeur Judea het gehoor dat ook die heidene die woord van God aanvaar het. 2Toe •Petrus na Jerusalem opgegaan het, het diegene wat besny is, met hom geargumenteer 3en gesê: “Jy was by onbesnede mans aan huis en het saam met hulle geëet.” 4Daarop het Petrus dit soos volg stap vir stap vir hulle begin uitlê: 5“Ek was in die stad Joppe besig om te bid, en in ekstase het ek 'n visioen gesien: iets soos 'n groot linnedoek wat afsak en wat aan sy vier hoeke uit die hemel neergelaat word; en dit het tot by my gekom. 6En ek het aandagtig daarna gekyk, en opgemerk, en viervoetige diere van die aarde en wilde diere en kruipende diere, asook voëls van die hemel gesien. 7Ek het ook 'n stem vir my hoor sê, ‘Staan op, Petrus, slag en eet!’ 8Maar ek het geantwoord, ‘Onder geen omstandighede nie, Here! Want niks wat besoedel of •onrein is, het al ooit by my mond ingegaan nie.’ 9Die stem het toe 'n tweede keer uit die hemel geantwoord, ‘Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie.’ 10Dit het drie maal gebeur, en toe is alles weer in die hemel opgetrek. 11En kyk, skielik het daar drie mans wat van Caesarea af na my gestuur is, aangekom by die huis waar ons was. 12En die Gees het vir my gesê dat ek sonder aarseling saam met hulle moes gaan. Hierdie ses broers het toe saam met my gegaan en ons het die man se huis binnegegaan. 13Daarop het hy ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het wat vir hom sê, ‘Stuur manne na Joppe en laat haal Simon, ook bekend as Petrus. 14Hy sal vir jou 'n boodskap meedeel waardeur jy verlos sal word – jy en jou hele huis.’ 15 En toe ek begin praat, het die Heilige Gees op hulle neergedaal, net soos aanvanklik ook op ons. 16 Ek het egter die woord van die Here onthou, toe Hy gesê het, ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ 17As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het as aan ons wat in die Here Jesus Christus glo, wie was ek dan dat ek God sou verhinder?” 18Toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: “So het God dus ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.”
Evangelie in Antiogië
19 Die gelowiges dan, wat uitmekaar gedryf is as gevolg van die verdrukking wat oor Stefanus ontstaan het, het so ver as Fenisië, Ciprus en Antiogië getrek, en die woord aan niemand anders nie as net aan die Jode verkondig. 20Maar toe party van hulle, mans uit Ciprus en Sirene, in Antiogië kom, het hulle ook met die Helleniste gepraat en die evangelie van die Here Jesus aan hulle verkondig. 21Die hand van die Here was oor hulle, en 'n groot aantal het gelowig geword en na die Here gedraai. 22Die berig oor hulle het die •gemeente in Jerusalem ter ore gekom, en hulle het Barnabas gestuur om na Antiogië te gaan. 23Toe hy daar aankom en die genade van God sien, was hy bly en het almal aangemoedig om met vaste voorneme van hart aan die Here getrou te bly. 24Hy was 'n goeie man, vol van die Heilige Gees en geloof. En 'n aansienlike skare is vir die Here bygevoeg. 25 Hierna het Barnabas na Tarsus vertrek om Saulus op te soek. 26Hy het hom opgespoor en hom na Antiogië gebring. Hulle was 'n hele jaar lank saam met die gemeente en het 'n aansienlike skare onderrig. In Antiogië is die dissipels vir die eerste keer Christene genoem.
27In daardie tyd het daar profete uit Jerusalem na Antiogië gekom. 28En een van hulle, met die naam Agabus, het na vore gekom en deur die Heilige Gees voorspel dat 'n swaar hongersnood oor die hele wêreld sou kom. Dit het in die tyd van Claudius gebeur. 29Die dissipels het daarom besluit dat elkeen van hulle volgens vermoë 'n bydrae sou stuur vir die versorging van die broers wat in Judea woon. 30 En hulle het dit gedoen deur die bydrae saam met Barnabas en Saulus aan die ouderlinge te stuur.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid