3 Johannes 1

1
1Die Oudste
aan die geliefde Gaius, wat ek in die waarheid liefhet.
Voorbidding en blydskap
2Geliefde, ek bid dat jy gesond mag wees, en dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan, soos dit met jou siel goed gaan. 3Want ek was baie bly toe hier broers kom, en oor jou waarheid getuig, hoe jy die pad van waarheid loop. 4Groter blydskap as dit het ek nie, dat ek hoor dat my kinders die pad van waarheid loop.
Gaius se gasvryheid
5Geliefde, jy tree getrou op in wat jy ook al vir die broers doen, en dit terwyl hulle vir jou vreemdelinge is. 6Hulle het voor die •gemeente van jou liefde getuig. Jy sal goed doen as jy hulle voorthelp op 'n manier wat God waardig ag. 7Want ter wille van die Naam, het hulle uitgegaan, sonder om iets van die heidene te ontvang. 8Ons behoort sulke mense daarom goed te ontvang, sodat ons medewerkers van die waarheid kan wees.
Optrede van Diotrefes en Demetrius
9Ek het hieroor aan die gemeente geskryf, maar Diotrefes, wat graag die belangrikste onder hulle wil wees, gee nie aan ons erkenning nie. 10Daarom sal ek, wanneer ek kom, julle herinner aan die dade wat hy doen. Hy versprei slegte stories oor ons, en asof dit vir hom nie genoeg is nie, ontvang hy self die broers nie goed nie. Boonop verhinder hy ook nog diegene wat dit wil doen, en dryf hulle uit die gemeente uit.
11Geliefde, moenie die kwaad navolg nie, maar die goeie. Wie goed doen, is uit God; wie kwaad doen, het God nie gesien nie. 12Oor Demetrius is deur almal positief getuig, ook deur die waarheid self. Ook ons getuig, en jy weet dat ons getuienis waar is.
Mededelings en groete
13 Ek het baie dinge gehad om aan jou te skryf, maar wil dit nie met rietpen en ink vir jou skryf nie. 14Ek hoop egter om jou gou te sien, en ons sal van aangesig tot aangesig praat.
15Vrede vir jou! Jou vriende stuur vir jou groete. Groet die vriende by die naam.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid