2 Samuel 9

9
Dawid en Mefiboset
1Dawid het gevra: “Is daar nog enigiemand oor van die huis van Saul, sodat ek aan hom guns kan bewys ter wille van Jonatan? ” 2Daar was 'n dienaar van Saul se huishouding met die naam Siba. Hulle het hom na Dawid ontbied. Die koning het vir hom gevra, “Is jy Siba?” waarop hy geantwoord het: “Ek is u dienaar.” 3Die koning vra toe: “Is daar nog enigiemand oor van die huis van Saul, sodat ek aan hom guns kan bewys, soos ek voor God beloof het? ” Siba het die koning geantwoord: “Daar is nog 'n seun van Jonatan – hy het gebreklike voete.” 4Die koning vra toe vir hom, “Waar is hy?” waarop Siba toe vir die koning sê: “Hy is daar in die huis van Magir, seun van Ammiël, in Lo-Dabar.”
5Koning Dawid het hom toe laat haal uit Lo-Dabar, uit die huis van Magir, seun van Ammiël. 6Toe Mefiboset, seun van Jonatan, seun van Saul, by Dawid aankom, het hy neergeval met sy gesig teen die grond en diep neergebuig. Dawid sê toe: “Mefiboset?” Waarop hy antwoord: “Hier is ek, u dienaar!” 7Dawid het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, want ek sal beslis aan jou guns bewys ter wille van Jonatan, jou vader. Ek sal aan jou al die grond van Saul, jou voorvader, teruggee. Jy self sal gereeld aan my tafel brood eet.” 8Hy het diep gebuig en gesê: “Wat is u dienaar, dat u aan die dooie hond wat ek is, aandag gee?”
9Die koning het Siba, die dienaar van Saul, ontbied en vir hom gesê: “Alles wat aan Saul en sy hele familie behoort het, gee ek aan die seun van jou heer. 10Jy moet vir hom die grond bewerk, jy en jou seuns en jou slawe. Jy moet die opbrengs inbring, sodat die seun van jou heer brood kan hê en hy dit kan eet. En die seun van jou heer, Mefiboset, sal gereeld brood eet aan my tafel. ” Siba het vyftien seuns en twintig slawe gehad. 11Siba het die koning geantwoord: “Ooreenkomstig alles wat my heer die koning sy dienaar beveel, presies so sal u dienaar optree.” Mefiboset het toe aan sy tafel geëet, soos een van die koning se seuns.
12Mefiboset het 'n jong seun gehad met die naam Miga. Al die bewoners van Siba se huis was Mefiboset se dienaars. 13Mefiboset het in Jerusalem bly woon, want hy was 'n gereelde gas aan die koning se tafel. Hy was kreupel; albei sy voete was misvormd.

Tans Gekies:

2 Samuel 9: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid