2 Samuel 6

6
Oorbring van die ark na Jerusalem
1Dawid het weer al die uitgesoekte manne in Israel byeengebring, dertigduisend van hulle. 2 Dawid en al die manskappe wat by hom was, het toe gereedgemaak en na Baäla in Juda vertrek om daarvandaan die ark van God te bring, die ark waaroor die Naam uitgeroep is, die Naam van die Here, Heerser oor alle magte, wat troon op die gerubs. 3Hulle het die ark van God op 'n nuwe wa gelaai, nadat hulle dit uit die huis van Abinadab, wat op die heuwel is, gedra het. Ussa en Agjo, seuns van Abinadab, het die nuwe wa begelei, 4met die ark van God daarop. Agjo het voor die ark geloop.
5Dawid en die hele huis van Israel was uitbundig voor die Here met die klank van allerlei instrumente van sipreshout, en met liere, harpe, tamboeryne, sistrums en simbale. 6Toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na die ark van God en dit vasgegryp, want die osse het gestruikel. 7Die toorn van die Here het teen Ussa ontbrand, en God het hom net daar getref oor dié oneerbiedigheid. Hy het daar by die ark van God gesterf.
8Dawid was ontsteld daaroor dat die Here Ussa stukkend gebreek het, en hy het daardie plek Peres-Ussa genoem. Dit is vandag nog die naam. 9Dawid het daardie dag bang geword vir die Here, en hy het gesê: “Hoe kan die ark van die Here na my toe kom?” 10Dawid wou toe nie die ark van die Here na hom by die Stad van Dawid laat afdraai nie. Dawid het dit na die huis van Obed-Edom, 'n man uit Gat, laat wegdraai. 11Die ark van die Here het drie maande lank in die huis van Obed-Edom, die man uit Gat, gebly. Die Here het Obed-Edom en sy hele huishouding geseën.
12 Aan koning Dawid is berig gebring: “Die Here het die huis van Obed-Edom en alles wat aan hom behoort, geseën ter wille van die ark van God.” Dawid het toe gegaan en die ark van God met vreugde uit die huis van Obed-Edom na die Stad van Dawid geneem. 13Wanneer die draers van die ark van die Here ses treë gestap het, het hy 'n bul en 'n vetgemaakte kalf geoffer. 14Dawid self het met volle oorgawe gedans voor die Here. Dawid het 'n efod van linne aangehad, 15en hy en die hele huis van Israel het met uitroepe van vreugde en die geluid van •ramshorings die ark van die Here na die Stad van Dawid opgeneem.
16Toe die ark van die Here die Stad van Dawid binnekom, het Migal, die dogter van Saul, deur die venster afgekyk en koning Dawid gesien spring en dans voor die Here. Sy het hom in haar hart verag.
17Hulle het die ark van die Here ingeneem en dit op sy plek neergesit binne-in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Toe het Dawid •brandoffers en •maaltydoffers voor die Here gebring. 18Toe Dawid die brandoffer en maaltydoffers klaar gebring het, het hy die volk geseën in die Naam van die Here, Heerser oor alle magte. 19Hy het aan die hele volk, die hele menigte van Israel, aan man en vrou, aan elkeen, 'n ringbrood, 'n dadelkoek en 'n rosynekoek uitgedeel. Daarna is die hele volk, elkeen van hulle, terug na sy huis.
20Toe Dawid teruggaan om sy huisgesin te seën, het Migal, die dogter van Saul, Dawid buite tegemoetgegaan en gesê: “Hoe eerbaar het die koning van Israel hom vandag nie gedra nie! Dat hy hom vandag voor die oë van die slavinne van sy amptenare ontbloot het soos enige leeglêer hom sou ontbloot!” 21Dawid het vir Migal gesê: “Dit was voor die Here, wat my gekies het bo jou pa en sy hele familie, deur my aan te stel as leier oor die volk van die Here, oor Israel. Ek sal voor die Here uitbundig wees, 22al verneder ek my nog verder. Ek mag laag daal in jou oë, maar by die slavinne waarvan jy gepraat het, by hulle wil ek graag geëer wees.” 23En Migal, die dogter van Saul, het tot die dag van haar dood nie 'n kind gehad nie.

Tans Gekies:

2 Samuel 6: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid