2 Samuel 23

23
Dawid se laaste woorde
1Dit is die laaste woorde van Dawid:
“Die uitspraak van Dawid,
seun van Isai,
die uitspraak van die man
wat hoog geplaas is,
die gesalfde van die God
van Jakob,
die geliefde van die liedere
van Israel.
2 Die Gees van die Here spreek deur my,
sy woord is op my tong.
3“Die God van Israel het met my gepraat,
die Rots van Israel het gesê,
‘Hy wat regverdig heers onder mense,
hy wat in die vrees
van die Here heers,
4is soos die môrelig teen sonop
op 'n wolklose oggend;
deur die helderheid
wat die reën bring,
spruit groen gras uit die aarde.’
5“Ja, is dit nie soos my huis
by God is nie?
Want Hy het 'n ewige verbond
met my gevestig,
in alle opsigte georden
en beskerm.
Ja, al my heil en alle wense,
sal Hy dit dan nie laat uitspruit nie?
6“Maar skurke –
soos dorings word hulle almal
uitmekaar gewaai;
want mens vat nie met die hand
daaraan nie.
7Wie aan hulle raak,
het in sy hand 'n yster,
of die steel van 'n vegspies;
en hulle word net daar
heeltemal verbrand.”
Dawid se helde
8 Dit is die name van Dawid se helde:
Joseb-Bassebet uit Tagkemon. Hy was die hoof van die drie. Hy het sy spies geswaai oor agthonderd man wat by een geleentheid deurboor is.
9Ná hom was daar Eleasar, seun van Dodo, seun van 'n man uit Agoag. As een van die drie, die helde, was hy by Dawid toe hulle die Filistyne uitgetart het wat daar vir die geveg byeen was. Toe die manne van Israel teruggetrek het, 10het hy vasgestaan en die Filistyne neergevel totdat sy hand so moeg was dat dit aan die swaard vasgekramp was. Die Here het daardie dag 'n groot oorwinning bewerk. Die manskappe het teruggedraai na Eleasar – net om die dooies te plunder.
11Ná hom was daar Samma, seun van Agee, uit Harar. Die Filistyne het byeengekom in 'n kamp waar daar 'n stuk land vol lensies was. Toe die manskappe voor die Filistyne uit vlug, 12het Samma stelling ingeneem in die middel van die land en dit teruggevat. Hy het die Filistyne verslaan, en die Here het 'n groot oorwinning bewerk.
13'n Drietal van die dertig hoofde het afgegaan en in die oestyd by Dawid aangekom in die grot van Adullam. Die kamp van die Filistyne was opgeslaan in die vallei van Refaïm. 14Dawid was op daardie stadium in die bergvesting, en daar was 'n wagpos van die Filistyne in Betlehem. 15Dawid was vol heimwee en het gesê: “As iemand tog net vir my water kon laat drink uit die opgaarput by Betlehem wat by die dorpspoort is!” 16Die drie helde het toe deur die kamp van die Filistyne gebreek en water geskep uit die opgaarput by die dorpspoort van Betlehem. Hulle het dit gedra en vir Dawid gebring. Maar hy wou dit nie drink nie, en het dit vir die Here uitgegiet. 17Hy het gesê: “Mag die Here my daarvan weerhou om hierdie water te drink! Is dit nie die bloed van die manne wat hulle lewens gewaag het nie?” Hy wou dit nie drink nie. Dit is wat dié drietal helde gedoen het.
18Abisai, seun van Seruja en Joab se broer, was hoof van die drietal. Hy het sy vegspies oor driehonderd gesneuweldes geswaai en hy het vir hom naam gemaak onder die drie. 19Was hy dan nie meer geëerd as die drie nie? Hy was vir hulle 'n •aanvoerder, maar hy was nie die gelyke van die drie nie.
20Dan was daar Benaja, seun van Jojada, 'n onverskrokke man uit Kabseël wat groot dade gedoen het. Hy is die een wat die twee manne van Moab, manne met leeuemoed, verslaan het. Dit is hy wat op 'n dag toe dit gesneeu het, binne-in 'n opgaarput afgegaan en 'n leeu neergevel het. 21Dit is ook hy wat 'n Egiptenaar, 'n indrukwekkende man, verslaan het. Die Egiptenaar het 'n vegspies in sy hand gehad, en Benaja het na hom afgegaan met 'n stok. Hy het die vegspies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie vegspies doodgemaak. 22Dit was sulke dade wat Benaja, seun van Jojada, gedoen het, en hy het vir hom naam gemaak onder die drie helde. 23Hy was meer geëerd as die dertig, maar hy was nie die gelyke van die drie nie. Dawid het hom aangestel by sy lyfwag.
24Onder die dertig helde was daar:
Asael, Joab se broer,
Elganan, seun van Dodo uit Betlehem,
25Samma uit Garod,
Elika uit Garod,
26Geles uit Pelet,
Ira, seun van Ikkes, uit Tekoa,
27Abiëser uit Anatot,
Mebunnai uit Gusa,
28Salmon uit Agoag,
Marai uit Netofa,
29Geleb, seun van Baäna uit Netofa,
Ittai, seun van Ribai, uit Gibea
van die Benjaminiete,
30Benaja uit Piraton,
Hiddai uit Nagale-Gaäs,
31Abi-Albon uit Bet-Araba,
Asmawet uit Bagurim,
32Eljagba uit Saälbon,
uit die nageslag van Jasen,
Jonatan, seun van 33Samma
uit Harar,
Agiam, seun van Sarar uit Arar,
34Elifelet, seun van Agasbai,
uit Maäga,
Eliam, seun van Agitofel uit Gilo,
35Gesro uit Karmel,
Paärai uit Arab,
36Jigal, seun van Natan uit Soba,
Bani uit Gad,
37Selek die Ammoniet,
Nagrai uit Beërot, die wapendraer van Joab, seun van Seruja,
38Ira uit Jeter,
Gareb uit Jeter,
39en Urija die Hetiet.
Altesaam was hulle sewe-en-dertig.

Tans Gekies:

2 Samuel 23: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid