2 Samuel 17

17
1Agitofel het ook vir Absalom gesê: “Laat ek twaalfduisend man uitsoek en gereedmaak, en Dawid vannag agternasit. 2Ek sal hom oorval terwyl hy moeg en moedeloos is. Ek sal hom die skrik op die lyf jaag, en dan sal al die mense by hom vlug. Ek sal die koning alleen neervel 3en al die mense na jou terugbring. Met dié dat almal terugkeer, behalwe die man wat jy soek, sal al die mense ongedeerd wees.” 4Die voorstel was reg in die oë van Absalom en al die oudstes van Israel. 5Absalom het egter gesê: “Ontbied ook vir Gusai, die man uit Ereg, sodat ons kan hoor wat ook hy te sê het.”
6Toe Gusai by Absalom kom, het Absalom vir hom gesê: “Dit is die voorstel wat Agitofel gemaak het. Moet ons sy voorstel volg? Indien nie, praat jy dan!” 7Gusai sê toe vir Absalom: “Die raad wat Agitofel gegee het, is hierdie keer nie goed nie.” 8Gusai sê toe daarby: “U ken self u vader en sy manne: Hulle is helde, en hulle is so omgekrap soos 'n beer in die veld wat van haar kleintjies beroof is. Daarby is u vader 'n krygsman; hy sal nie by die mense slaap nie. 9Kyk, nou skuil hy in een van die klowe of in een van die ander plekke. As daar van u manne aan die begin val, sal dié wat dit hoor, sê, ‘Daar was 'n slagting onder die manskappe wat Absalom volg.’ 10Dan sal selfs die moed van 'n onverskrokke man, met die hart van 'n leeu, heeltemal wegsmelt, omdat die hele Israel weet dat u vader 'n held is en dat daar by hom onverskrokke manne is. 11Ja, my raad is: Laat die hele Israel, van Dan tot Berseba, so baie soos die sand wat langs die see is, onverwyld by u byeenkom, met u wat persoonlik aan die stryd deelneem. 12Ons sal op hom afkom in een van die plekke waar hy hom bevind, en dan sak ons op hom toe soos dou op die grond val. Daar sal van hom niks oorbly nie, ook van die manne by hom sal selfs nie een oorbly nie. 13En as hy hom in 'n stad terugtrek, sal die hele Israel toue bring na daardie stad, en ons sal dit wegsleep tot in die spruit, totdat daar nie meer 'n enkele klippie te vinde is nie.”
14Absalom en al die manne van Israel sê toe: “Die raad van Gusai, die man uit Ereg, is beter as die raad van Agitofel.” Die Here het besluit om Agitofel se goeie raad te dwarsboom, sodat die Here 'n ramp oor Absalom kon bring.
Waarskuwing aan Dawid
15 Gusai het vir Sadok en Abjatar, die priesters, gesê: “Dit is die raad wat Agitofel vir Absalom en die oudstes van Israel gegee het, en dit is die raad wat ek gegee het. 16Stuur dan nou gou iemand en laat weet vir Dawid, ‘Moenie die nag by die deurgaanplekke na die woestyn oorbly nie, maar trek beslis verder; anders word die koning en al die mense by hom verslind.’ ” 17Jonatan en Agimaäs het by En-Roghel gereed gestaan, en 'n slavin sou gaan en aan hulle die boodskap oordra. Hulle moes dan gaan en koning Dawid inlig. Hulle kon dit immers nie waag om die stad binne te gaan en sodoende gesien te word nie. 18Maar 'n jong man het hulle gesien en vir Absalom gaan vertel. Hulle twee het toe haastig padgegee en by die huis aangekom van 'n man in Bagurim wat 'n put in sy binnehof gehad het. Hulle het daarin afgeklim, 19 en die vrou het 'n doek geneem, dit oor die opening van die put getrek en gort daarop uitgesprei, sodat niks opgemerk kon word nie.
20Toe Absalom se dienaars by die vrou in haar huis kom, vra hulle: “Waar is Agimaäs en Jonatan?” Maar die vrou het hulle geantwoord: “Hulle het deur die waterkuil gegaan.” Die dienaars het gesoek, maar niks gekry nie, en toe teruggegaan na Jerusalem. 21Nadat hulle weg is, het Agimaäs en Jonatan uit die put geklim, verder gegaan en aan koning Dawid berig gebring. Hulle het vir Dawid gesê: “Maak gereed en gaan gou deur die water, want dit is die raad wat Agitofel oor julle gegee het.” 22Dawid en al die mense by hom het toe gereedgemaak en die Jordaan oorgesteek. Teen ligdag die oggend was daar nie een oor wat nie die Jordaan oorgesteek het nie.
Agitofel se dood
23En Agitofel, hy het intussen gesien dat sy raad nie gevolg word nie. Toe saal hy die donkie op, maak gereed en gaan na sy huis in sy tuisdorp. Hy het opdragte gegee oor sy huisgesin, en homself opgehang. Hy is dood en is in sy vader se graf neergelê.
Absalom se dood
24Dawid het in Maganajim aangekom. En Absalom het deur die Jordaan getrek, hy en al die manne van Israel saam met hom. 25 Absalom het Amasa oor die leër aangestel in Joab se plek. Amasa was die seun van 'n man met die naam Jeter, 'n Ismaeliet wat by Abigal ingegaan het. Sy was 'n dogter van Nagas, die suster van Seruja, die moeder van Joab. 26Israel en Absalom het kamp opgeslaan in die gebied van Gilead.
27Toe Dawid in Maganajim aankom, was Sobi, seun van Nagas uit Rabba van die Ammoniete, en Magir, seun van Ammiël uit Lo-Dabar, en Barsillai, 'n man van Gilead wat uit Rogelim kom, 28daar gereed met 'n bed, met bakke, kleipotte, koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies, lensies, gebraaide koring, 29heuning, dikmelk, kleinvee, en kaas gemaak van beesmelk. Hulle het dit alles vir Dawid en die mense by hom gebring om te eet, “want,” het hulle gesê, “die mense sal honger en moeg en dors wees in die woestyn”.

Tans Gekies:

2 Samuel 17: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid