2 Konings 9

9
Opstand teen die huis van Agab
1 Die profeet Elisa het iemand van die profetegroep geroep en vir hom gesê: “Omgord jou heupe, neem hierdie fles olie saam met jou, en gaan na Ramot in Gilead. 2Wanneer jy daar aankom, kyk daar uit vir Jehu, seun van Josafat, seun van Nimsi. Gaan dan in, laat hy opstaan tussen sy makkers en neem hom na 'n binnekamer. 3Neem dan die fles olie, giet dit oor sy kop uit en sê, ‘So sê die Here: “Ek salf jou as koning oor Israel.” ’ Maak dan die deur oop en vlug – moenie talm nie!”
4Die jong man, die profeet, het na Ramot in Gilead gegaan. 5Toe hy daar aankom, sit die •aanvoerders van die leërmag juis daar bymekaar. Hy sê toe: “Ek het 'n boodskap vir u, bevelvoerder. ” Jehu vra toe: “Vir wie van ons?” “Vir u, bevelvoerder,” het hy geantwoord. 6Jehu het opgestaan en die huis binnegegaan. Toe giet die profeet die olie oor sy kop uit en sê vir hom: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Ek salf jou as koning oor die volk van die Here, oor Israel. 7 Jy moet die koningshuis van jou heer Agab tot 'n val bring, sodat Ek die bloed van my diensknegte, die profete kan wreek, ja, die bloed van al die diensknegte van die Here kan eis van die hand van Isebel. 8 Die hele huis van Agab sal ten gronde gaan. Ek sal van Agab die mansmense in Israel uitroei, hulle wat gevange is en hulle wat vrygelaat is. 9Ek gaan die huis van Agab maak soos die huis van Jerobeam, seun van Nebat, en soos die huis van Baesa, seun van Agija. 10En Isebel – die honde sal haar verslind op die stuk land van Jisreël, en daar sal niemand wees wat haar begrawe nie. ’ ” Toe maak hy die deur oop en vlug.
11Jehu het uitgegaan na die amptenare van sy heer. Hulle sê toe vir hom: “Is alles reg? Waarom het hierdie waansinnige na jou toe gekom?” Hy het hulle geantwoord: “Julle ken tog self die man en sy praatjies.” 12Maar hulle sê: “Dis 'n leuen! Vertel ons tog!” Toe sê hy: “Dit is wat hy vir my gesê het, ‘So sê die Here: “Ek salf jou as koning oor Israel.” ’ ” 13 Toe neem elkeen gou sy kledingstuk en plaas dit onder Jehu op die kaal trappe. Daarop blaas hulle op die •ramshoring en roep uit: “Jehu is koning!”
14Jehu, seun van Josafat, seun van Nimsi, het toe teen Joram 'n komplot gesmee. Joram was saam met die hele Israel besig om Ramot in Gilead te verdedig teen Gasael, koning van Aram. 15 Koning Joram het egter teruggekeer om in Jisreël te herstel van die wonde wat die Arameërs hom toegedien het in sy geveg met Gasael, koning van Aram. Toe sê Jehu: “As dit julle goedkeuring wegdra, laat niemand uit die stad wegkom om dit in Jisreël te gaan bekend maak nie.” 16Jehu klim toe op sy wa en gaan na Jisreël, want Joram het daar siek gelê, en Ahasia, koning van Juda, het afgegaan om Joram te besoek.
17Die wag wat op die uitkyktoring in Jisreël gestaan het, het Jehu se troepemag sien aankom. Hy sê toe: “Ek sien troepe!” Daarop sê Joram: “Kry 'n ruiter en stuur hom om hulle tegemoet te gaan en te vra, ‘Is alles reg?’ ” 18Die perderuiter het hom tegemoetgegaan en gesê: “So sê die koning, ‘Is alles reg?’ ” Jehu het geantwoord: “Wat het dit met jou te doen of alles reg is? Val agter my in!” Die wag doen toe verslag: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy keer nie terug nie!” 19Joram stuur toe 'n tweede perderuiter, en toe hy by hulle kom, sê hy: “So sê die koning, ‘Is alles reg?’ ” Jehu het geantwoord: “Wat het dit met jou te doen of alles reg is? Val agter my in!” 20Die wag doen toe weer verslag: “Hy het tot by hulle gekom, maar hy keer nie terug nie. En die manier van ry, is soos dié van Jehu, seun van Nimsi, want hy jaag soos 'n besetene!” 21Toe sê Joram: “Span in!” Hy het sy strydwa ingespan, en Joram, koning van Israel, het saam met Ahasia, koning van Juda, uitgegaan, elkeen op sy strydwa. Hulle het uitgegaan om Jehu te ontmoet, en hulle het hom aangetref by die stuk grond van Nabot, die man uit Jisreël.
22Toe Joram vir Jehu sien, sê hy: “Is alles reg, Jehu?” Maar Jehu antwoord: “Hoe kan alles reg wees solank die hoerery van Isebel, jou ma, en haar eindelose heksery voortduur? ”
23Toe ruk Joram sy wa om en vlug. Hy skree vir Ahasia: “Verraad, Ahasia!” 24Maar Jehu span sy boog en tref Joram tussen sy blaaie. Die pyl het sy hart deurboor en hy het op sy strydwa inmekaargesak. 25Jehu sê toe vir Bidkar, sy adjudant: “Tel hom op en gooi hom op die stuk grond van Nabot, die man uit Jisreël, want onthou, ek en jy het langs mekaar agter sy pa Agab gery toe die Here die volgende profesie oor hom aangekondig het, 26‘Gewis het Ek gisteraand die bloed van Nabot en die bloed van sy seuns raakgesien, is die uitspraak van die Here, en Ek sal dit op hierdie stuk grond aan jou vergeld, is die uitspraak van die Here.’ Tel hom dan nou op en gooi hom op die stuk grond, ooreenkomstig die woord van die Here.
27 Toe Ahasia, koning van Juda, dit sien, het hy gevlug met die pad na Bet-Gan. Maar Jehu het hom agtervolg en gesê: “Skiet hom ook!” Hulle het hom geskiet in sy strydwa teen die opdraande van Gur wat by Jibleam is. Hy het na Megiddo gevlug, maar het daar gesterf. 28Sy dienaars het hom na Jerusalem vervoer en hom in sy graf by sy voorouers in die Stad van Dawid begrawe. 29Dit was in die elfde regeringsjaar van Joram, seun van Agab, dat Ahasia koning geword het oor Juda.
30Jehu het in Jisreël aangekom. Toe Isebel dit hoor, het sy haar oë grimeer, haar hare netjies gemaak en deur die venster afgekyk. 31Terwyl Jehu by die stadspoort inkom, sê sy: “Is alles reg, Simri, moordenaar van sy heer? ” 32Jehu het opgekyk na die venster en gesê: “Wie is aan my kant, wie?” Twee of drie van die eunugs het na hom afgekyk. 33Hy sê toe: “Gooi haar af!” Hulle het haar afgegooi, en van haar bloed het teen die muur en teen die perde gespat, en dié het haar vertrap.
34Hy het binnetoe gegaan en geëet en gedrink. Toe sê hy: “Gee tog aandag aan hierdie vervloekte vrou en begrawe haar; sy was immers die dogter van 'n koning. ” 35Hulle het gegaan om haar te begrawe, maar hulle het van haar niks gekry nie, behalwe die kopbeen, die voete en die hande. 36Hulle het teruggekeer en dit vir Jehu vertel. Toe sê hy: “Dit is die vervulling van die woord van die Here wat Hy by monde van sy dienskneg, Elia, die man uit Tisbe, gespreek het, ‘Op die stuk grond in Jisreël sal honde die liggaam van Isebel verslind,’ 37en Isebel se lyk sal op die stuk grond in Jisreël wees soos uitwerpsel in die veld. Hulle sal nie kan sê, ‘Dit was Isebel’ nie.”

Tans Gekies:

2 Konings 9: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid