2 Konings 6:24-33

2 Konings 6:24-33 AFR20

'n Tyd daarna het Ben-Hadad, die koning van Aram, sy hele leër byeengebring, opgetrek en Samaria beleër. Daar was 'n groot hongersnood in Samaria; ja, kyk, hulle het die stad beleër totdat 'n donkiekop teen tagtig sikkel silwer, en 'n kwart kab duiwemis teen vyf sikkel silwer verkoop is. Toe die koning van Israel op die stadsmuur verbyloop, het 'n vrou na hom om hulp geroep: “Help, my heer die koning!” Maar hy het gesê: “Moet die HERE jou nie help nie? Waarvandaan moet ek jou help? Van die dorsvloer af? Van die parskuip af?” Die koning sê toe ook vir haar: “Wat is jou probleem?” Sy het geantwoord: “Hierdie vrou het vir my gesê, ‘Gee jou seun, dat ons hom vandag eet. My seun kan ons môre eet’. Ons het toe my seun gekook en hom geëet, maar toe ek die dag daarna vir haar sê, ‘Gee jou seun, dat ons hom kan eet!’ het sy haar seun weggesteek.” Toe die koning die vrou se woorde hoor, het hy sy klere geskeur, terwyl hy op die stadsmuur verbygaan. Die volk sien toe dat hy sowaar onder sy klere 'n roukleed aan het! Hy sê toe: “Mag God my swaar straf as Elisa, seun van Safat, se kop vandag steeds op sy lyf is!” Terwyl Elisa in sy huis sit, en die oudstes daar by hom sit, het die koning 'n man voor hom uit gestuur. Maar voordat die boodskapper nog by hom aankom, het hy vir die oudstes gesê: “Het julle gemerk dat hierdie moordenaar iemand stuur om my kop af te kap? Wees op die uitkyk. Sluit die deur sodra die boodskapper kom. Druk hom terug met die deur! Is die geluid van sy heer se voetstappe nie agter hom nie?” Hy was nog besig om met hulle te praat, kyk, toe kom die boodskapper al daar na hom toe af! Die koning sê toe: “Kyk, hierdie onheil is van die HERE. Waarom sou ek dan nog op die HERE wag?”

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Konings 6:24-33

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid