2 Korinthiërs 6

6
1As medewerkers van God doen ons 'n ernstige beroep op julle om nie die genade van God tevergeefs te ontvang nie! 2Want Hy sê:
“Op die regte tyd
het Ek na jou geluister,
en op die dag van verlossing
het Ek jou gehelp.”
Kyk, nou is die gunstige tyd,
kyk, nou is die dag van verlossing!
3Ons gee in geen opsig enige aanstoot aan iemand nie, sodat daar nie met die bediening foutgevind kan word nie. 4Maar in alles beveel ons onsself aan as dienaars van God, met groot uithouvermoë:
in verdrukkings, in ontberings, in benoudhede;
5 geslaan, in tronke gegooi, in oproere en in swaar arbeid, in slaaploosheid en honger;
6 met eerbaarheid, begrip, verdraagsaamheid en vriendelikheid, in die Heilige Gees, en met ongeveinsde liefde;
7met die woord van die waarheid, met die krag van God, met die wapens van •geregtigheid vir die regterhand en die linkerhand; 8te midde van eer en oneer, te midde van laster en lof, as misleiers, wat tog opreg is;
9as onbekendes, en tog goed bekend, as sterwendes – maar kyk, ons leef; as gekastydes, wat tog nie doodgemaak word nie;
10as bedroefdes, maar altyd blymoedig, as armes, maar wat baie ander mense ryk maak, as mense wat niks het nie, en tog alles besit.
11Ons het reguit met julle gepraat, Korinthiërs; ons harte is wyd oop vir julle. 12Julle word nie deur ons ingeperk nie, maar julle word deur julleself in julle eie binneste ingeperk. 13Maar doen dít as teenprestasie – ek praat soos met kinders: Stel julleself ook wyd oop vir ons.
Tempel van die lewende God
14Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie,
want watter vennootskap kan daar wees
tussen reg en onreg?
Of watter verbondenheid kan daar wees
tussen lig en duisternis?
15En watter ooreenstemming is daar
tussen •Christus en Belial,
of wat het 'n gelowige gemeen
met 'n ongelowige?
16En watter ooreenkoms
het die tempel van God
met afgode?
Want ons is die tempel van die lewende God – soos God gesê het:
“Ek sal onder hulle woon
en saam met hulle wandel;
Ek sal hulle God wees,
en hulle sal my volk wees.”
17Daarom:
“Gaan uit hulle midde uit
en sonder julle af,” sê die Here,
“en moenie aanraak wat •onrein is nie.”
“En Ek sal julle aanneem,”
18en
“Ek sal vir julle 'n vader wees,
en julle sal my seuns en dogters wees,”
sê die Here, die Almagtige.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid