2 Korinthiërs 4

4
Paulus se bediening – 'n skat in kleipotte
1Daarom, aangesien ons hierdie bediening het volgens die ontferming wat aan ons betoon is, gee ons nie moed op nie. 2Ons het egter afstand gedoen van geheime skandelike dinge, en tree nie slinks op, of verdraai die Woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons onsself voor God aan by die gewete van elke mens. 3 As ons evangelie dan tog nog versluier is, is dit versluier vir dié wat verlore gaan, 4vir die ongelowiges wie se denke deur die god van hierdie bedeling verblind is, sodat die lig van die evangelie van die heerlikheid van •Christus, wat die beeld van God is, nie oor hulle skyn nie. 5 Ons verkondig immers nie onsself nie, maar Jesus Christus as Here, en onsself as julle diensknegte, ter wille van Jesus. 6Want God wat gesê het, “Laat daar uit die duisternis lig skyn,” dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus.
7Hierdie skat het ons in kleipotte, sodat die buitengewone krag duidelik van God kom en nie van ons nie.
8In alles word ons verdruk,
maar nie oorweldig nie;
ons is oor raad verleë,
maar nie radeloos nie;
9ons word vervolg,
maar nie in die steek gelaat nie;
ons word platgeslaan,
maar nie vernietig nie.
10Die sterwe van Jesus
dra ons altyd in ons liggaam met ons saam,
sodat ook die lewe van Jesus
in ons liggaam sigbaar kan word.
11Want ons wat leef, word voortdurend aan die dood uitgelewer ter wille van Jesus, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike liggaam sigbaar kan word. 12So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle. 13Maar aangesien ons dieselfde Gees van die geloof het – soos geskryf staan, “Ek het geglo, daarom het ek gepraat” – glo ons ook, en daarom praat ons. 14 Ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek, en julle voor Hom sal stel. 15Want dit gebeur alles ter wille van julle, sodat die genade, wat steeds meer mense insluit, die dankbaarheid oorvloedig kan maak tot eer van God.
Die tydelike teenoor die ewige
16Daarom gee ons nie moed op nie, want selfs al vergaan ons uiterlike mens, word ons innerlike mens van dag tot dag vernuwe. 17 Want ons ligte en tydelike verdrukking bewerk vir ons 'n gewigtige en allesoortreffende ewige heerlikheid, 18terwyl ons nie let op die sigbare nie, maar op die onsigbare dinge; want die sigbare is tydelik, die onsigbare ewig.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid