2 Kronieke 9:1-12

2 Kronieke 9:1-12 AFR20

Toe die koningin van Skeba die berigte oor Salomo hoor, het sy gekom om Salomo met raaisels te toets in Jerusalem. Met 'n baie groot gevolg, kamele gelaai met speserye, groot hoeveelhede goud asook edelstene, het sy by Salomo aangekom. Sy het met hom gepraat oor alles wat sy op die hart gehad het. Salomo het vir haar verklarings gegee vir al die sake wat sy aangeroer het. Daar was geen saak vir Salomo verborge nie, geen saak waaroor hy nie vir haar 'n verklaring kon gee nie. Toe die koningin van Skeba sien hoe wys Salomo is, ook die paleis wat hy gebou het, die kos op sy tafel, die plasing van sy amptenare, sy bediendes wat gereed staan, hulle uitrustings, sy skinkers en hulle uitrustings, en sy •brandoffers wat hy bring in die huis van die HERE, het dit haar asem weggeslaan. Sy sê toe vir die koning: “Die berig wat ek in my land gehoor het oor u prestasies en u wysheid was werklik waar, maar ek het die berigte nie geglo nie, totdat ek gekom en dit met my eie oë gesien het. Kyk, die helfte is my nie vertel oor die omvang van u wysheid nie. U oortref die gerugte wat ek gehoor het. Hoe gelukkig is u manne, hoe gelukkig hierdie dienaars van u, hulle wat voortdurend in u diens staan, hulle wat u wysheid aanhoor. Die HERE u God moet geprys word, Hy wat u so goedgesind is om u op die troon te plaas as koning vir die HERE u God. Omdat u God Israel liefhet, en hulle altyd staande hou, het Hy u as koning oor hulle aangestel om reg en geregtigheid te laat geskied. ” Sy het toe vir die koning honderd-en-twintig kikkar goud en 'n baie groot hoeveelheid speserye en edelstene gegee. Daar was nog nooit soveel speserye bymekaar soos wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie. Verder het die dienaars van Huram en Salomo wat goud uit Ofir gebring het, ook jenewerhout en edelstene gebring; en van die jenewerhout het die koning trappe gemaak vir die huis van die HERE en vir die koninklike paleis, en ook liere en harpe vir die sangers. So iets is nog nooit tevore in die gebied van Juda gesien nie. Koning Salomo weer het vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy wou hê en waarvoor sy gevra het, meer as waarmee sy by die koning aangekom het. Daarna het sy die terugtog aangepak en na haar land gegaan, sy en haar dienaars.