2 KRONIEKE 9:1-12 - Compare All Versions

2 KRONIEKE 9:1-12 ABA (Bybel vir almal)

Die koningin van die land Skeba het gehoor dat die mense oor Salomo praat, en sy het gekom om te hoor of hy regtig so baie wysheid het. Sy het na Jerusalem gekom, en daar was baie mense saam met haar, ook kamele wat speserye en baie goud en duur edelstene gedra het. Sy het na Salomo toe gekom en sy het vir hom alles gevra wat sy wou vra. Koning Salomo het geweet hoe om alles te antwoord wat sy gevra het. Daar was nie een vraag wat vir hom te moeilik was nie. Toe die koningin van Skeba alles hoor wat hy sê en toe sy alles sien, was sy baie verbaas oor Salomo se wysheid. Sy het die tempel gesien wat hy gebou het, ook die kos op sy tafel en sy amptenare wat by die tafel sit, sy bediendes wat daar staan, die klere wat hulle aangetrek het, die manne wat wyn in die bekers gooi en die klere wat hulle aangetrek het, en sy het ook gesien hoe Salomo opgegaan het na die tempel. Sy het vir die koning gesê: “Ek het in my land gehoor van die dinge wat jy alles doen en ek het gehoor van jou wysheid. Dit is alles waar. Ek het dit nie geglo nie, maar nou het ek gekom en ek het dit self gesien. En regtig, ek het nog nie alles gehoor nie, ek het minder as die helfte gehoor. Jy is 'n wyse man, en jy is baie ryk. Mense het my vertel dat jy ryk is, maar jy is baie ryker. Die manne wat vir jou werk en wat altyd by jou is, is gelukkige mense, want hulle kan luister na die wyse dinge wat jy sê. Ek prys jou God die Here wat so baie van jou hou dat Hy jou op sy troon laat sit. Jou God die Here self het jou koning laat word. Jou God het dit gedoen omdat Hy lief is vir Israel. Hy het jou koning laat word oor hulle, sodat jy reg kan doen en regverdig kan wees.” Die koningin van Skeba het vir koning Salomo 120 talente goud gegee en baie speserye en edelstene. Daar was nooit weer so baie speserye in die land Israel soos die speserye wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie. Die manne van Hiram en die manne van Salomo wat goud in Ofir gaan haal het, het ook jenewerhout en edelstene saamgebring. Die koning het die jenewerhout gebruik om tralies te maak in die tempel en in die paleis en ook om liere en harpe te maak vir die mense wat moes sing. Niemand het weer in die land Juda hout gesien wat so mooi is nie. Koning Salomo het vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy wou hê, hy het alles gegee wat sy gevra het. Dit was meer as die goed wat sy vir die koning gebring het. Sy en haar amptenare het toe teruggegaan na haar land.

2 KRONIEKE 9:1-12 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN toe die koningin van Skeba die gerug van Salomo hoor, het sy, ten einde Salomo in Jerusalem met raaisels op die proef te stel, gekom met 'n baie groot trek en kamele wat speserye en goud in menigte en edelgesteentes dra; en toe sy by Salomo inkom, het sy met hom gespreek oor alles wat in haar hart was. En Salomo het haar al haar woorde verklaar; en geen woord was vir Salomo te diepsinnig om haar dit te verklaar nie. Toe die koningin van Skeba dan die wysheid van Salomo sien en die huis wat hy gebou het, en die voedsel van sy tafel, en hoe sy dienaars sit en sy bediendes staan, en hulle klere en sy dranke en hulle klere, en sy trap waarmee hy opklim na die huis van die HERE, was daar in haar geen gees meer nie. Daarop sê sy aan die koning: Die woord was waarheid wat ek in my land gehoor het oor u sake en oor u wysheid. En ek het hulle woorde nie geglo nie, totdat ek gekom en my oë gesien het; en kyk, die helfte van u buitengewone wysheid is my nie meegedeel nie; u oortref die gerug wat ek gehoor het. Gelukkig is u manne, en gelukkig hierdie dienaars van u wat gedurig voor u staan en u wysheid hoor! Geloofd sy die HERE u God wat behae in u gehad het om u op sy troon as koning vir die HERE u God te laat sit! Omdat u God Israel liefhet om dit vir ewig in stand te hou, het Hy u as koning oor hulle aangestel om reg en geregtigheid te doen. Verder het sy aan die koning honderd-en-twintig talente goud en 'n groot menigte speserye en edelgesteentes gegee; en daar was nooit soveel speserye as wat die koningin van Skeba aan koning Salomo gegee het nie. Maar ook die dienaars van Huram en die dienaars van Salomo wat goud uit Ofir gebring het, het sandelhout en edelgesteentes aangevoer. En die koning het van die sandelhout trappe vir die huis van die HERE en vir die huis van die koning gemaak, en siters en harpe vir die sangers; en die gelyke daarvan is tevore in die land Juda nie gesien nie. En koning Salomo het aan die koningin van Skeba al haar begeerte gegee, wat sy maar gevra het, bo wat sý na die koning gebring het. Daarop het sy teruggekeer en na haar land getrek, sy en haar dienaars.

2 KRONIEKE 9:1-12 AFR83 (Afrikaans 1983)

Die koningin van Skeba het gehoor wat van Salomo vertel word en sy het toe self na Jerusalem toe gekom om hom met moeilike vrae te toets. Sy het 'n baie groot gevolg saamgebring en ook kamele wat belaai was met kosbare kruie en 'n groot hoeveelheid goud en edelstene. Toe sy by Salomo kom, het sy met hom oor alles gepraat waaraan sy kon dink, en Salomo het vir haar 'n antwoord gehad op al haar vrae. Niks was vir Salomo onverklaarbaar nie: hy kon haar op alles antwoord. Die koningin van Skeba het onder die indruk gekom van Salomo se wysheid, die tempel wat hy gebou het, die geregte op sy tafel, die manier waarop sy amptenare aangesit het, die bediening deur sy tafelbediendes met hulle monderings, sy skinkers met hulle monderings, en van die optog wanneer hy na die huis van die Here toe opgegaan het. Haar asem het daarvan weggeslaan. Sy het vir die koning gesê: “Wat ek in my land oor u en u wysheid gehoor het, is waar. Ek het nie geglo wat hulle vir my gesê het nie totdat ek gekom en myself oortuig het. Nou weet ek dat nie eers die helfte vir my vertel is oor u groot wysheid nie. U het alles wat ek gehoor het, ver oortref. Hoe bevoorreg is u mense en hoe bevoorreg is hierdie amptenare van u dat hulle gedurig in u diens staan en u wysheid aanhoor! Geloof sy u God, die Here, wat aan u soveel liefde bewys dat Hy u op sy troon gesit het, 'n koning deur u God, die Here, self aangewys! Dit is omdat u God vir Israel liefhet en die volk altyd in stand wil hou dat Hy u as koning oor hulle aangestel het om die orde en die reg te handhaaf.” Sy het vir die koning meer as vier ton goud en 'n groot hoeveelheid kosbare kruie en edelstene gegee. Die kruie wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het, was meer as wat ooit die land ingekom het. Bowendien het die dienaars van Hiram en Salomo wat die goud uit Ofir gebring het, ook nog jenewerhout en edelstene gebring. Die koning het die jenewerhout gebruik vir relings by die huis van die Here en by die koninklike paleis, en vir die liere en harpe van die musikante. Die gelyke daarvan is tevore nie in Juda gesien nie. Vir die koningin van Skeba het koning Salomo alles gegee wat sy begeer en gevra het, meer selfs as wat sy vir die koning gebring het. Sy is toe terug na haar land toe, sy en haar gevolg.

2 KRONIEKE 9:1-12 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe die koningin van Skeba die berigte oor Salomo hoor, het sy gekom om Salomo met raaisels te toets in Jerusalem. Met 'n baie groot gevolg, kamele gelaai met speserye, groot hoeveelhede goud asook edelstene, het sy by Salomo aangekom. Sy het met hom gepraat oor alles wat sy op die hart gehad het. Salomo het vir haar verklarings gegee vir al die sake wat sy aangeroer het. Daar was geen saak vir Salomo verborge nie, geen saak waaroor hy nie vir haar 'n verklaring kon gee nie. Toe die koningin van Skeba sien hoe wys Salomo is, ook die paleis wat hy gebou het, die kos op sy tafel, die plasing van sy amptenare, sy bediendes wat gereed staan, hulle uitrustings, sy skinkers en hulle uitrustings, en sy •brandoffers wat hy bring in die huis van die HERE, het dit haar asem weggeslaan. Sy sê toe vir die koning: “Die berig wat ek in my land gehoor het oor u prestasies en u wysheid was werklik waar, maar ek het die berigte nie geglo nie, totdat ek gekom en dit met my eie oë gesien het. Kyk, die helfte is my nie vertel oor die omvang van u wysheid nie. U oortref die gerugte wat ek gehoor het. Hoe gelukkig is u manne, hoe gelukkig hierdie dienaars van u, hulle wat voortdurend in u diens staan, hulle wat u wysheid aanhoor. Die HERE u God moet geprys word, Hy wat u so goedgesind is om u op die troon te plaas as koning vir die HERE u God. Omdat u God Israel liefhet, en hulle altyd staande hou, het Hy u as koning oor hulle aangestel om reg en geregtigheid te laat geskied. ” Sy het toe vir die koning honderd-en-twintig kikkar goud en 'n baie groot hoeveelheid speserye en edelstene gegee. Daar was nog nooit soveel speserye bymekaar soos wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie. Verder het die dienaars van Huram en Salomo wat goud uit Ofir gebring het, ook jenewerhout en edelstene gebring; en van die jenewerhout het die koning trappe gemaak vir die huis van die HERE en vir die koninklike paleis, en ook liere en harpe vir die sangers. So iets is nog nooit tevore in die gebied van Juda gesien nie. Koning Salomo weer het vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy wou hê en waarvoor sy gevra het, meer as waarmee sy by die koning aangekom het. Daarna het sy die terugtog aangepak en na haar land gegaan, sy en haar dienaars.

2 KRONIEKE 9:1-12 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En toe die koningin van Skeba van die gerug van Salomo hoor, het sy gekom om Salomo te beproef met moeilike vrae in Jerusalem, met 'n baie groot menigte, en kamele wat speserye dra en goud in oorvloed en edelgesteentes; en toe sy gekom het; aan Salomo het sy met hom gepraat oor alles wat in haar hart was. En Salomo het haar al haar vrae vertel, en daar was niks vir Salomo verborge wat hy haar nie vertel het nie. En toe die koningin van Skeba die wysheid van Salomo sien en die huis wat hy gebou het, En die spys van sy tafel en die sitting van sy dienaars en die diens van sy dienaars en hulle klere; ook sy skinkers en hulle kleed; en sy opgang waarmee hy opgegaan het na die huis van die HERE; daar was geen gees meer in haar nie. Toe sê sy vir die koning: Dit was 'n waaragtige gerug wat ek in my land gehoor het van jou dade en van jou wysheid. Maar ek het hulle woorde nie geglo nie, totdat ek gekom en my oë dit gesien het; en kyk, die een helfte van die grootheid van u wysheid is my nie meegedeel nie, want u oortref die roem wat ek gehoor het. Gelukkig is u manne, en gelukkig is hierdie u dienaars wat gedurigdeur voor u staan en u wysheid hoor. Geloofd sy die HERE jou God wat 'n welbehae in jou gehad het om jou op sy troon te sit, om koning te wees vir die HERE jou God; omdat jou God Israel liefgehad het om hulle vir ewig te bevestig, daarom het Hy jou koning oor hulle aangestel om gerig te doen en geregtigheid. En sy het aan die koning honderd-en-twintig talente goud en 'n groot menigte speserye en edelgesteentes gegee; en daar was geen speserye soos die koningin van Skeba aan koning Salomo gegee het nie. En ook die dienaars van Huram en die dienaars van Salomo, wat goud uit Ofir gebring het, het algumbome en edelgesteentes gebring. En die koning het van die algumbome terrasse gemaak na die huis van die HERE en na die paleis van die koning, en siters en harpe vir sangers; en so iemand was nog nie tevore in die land Juda gesien nie. En koning Salomo het aan die koningin van Skeba al haar begeerte gegee, alles wat sy gevra het, behalwe wat sy na die koning gebring het. Toe het sy omgedraai en na haar land gegaan, sy en haar dienaars.

2 KRONIEKE 9:1-12 DB (Die Boodskap)

Die koningin van Skeba het gehoor van Salomo se goeie naam en van sy besondere wysheid. Daarop het sy besluit om Jerusalem toe te gaan om hom met moeilike vrae te toets. Sy het met ’n groot groep bediendes daar aangekom. Daar was ook ’n karavaan kamele wat gelaai was met speserye, baie goud en waardevolle edelstene. Nadat sy hom ontmoet het, het sy oor alles waaroor sy nagedink het, met hom gepraat. Salomo het antwoorde op al haar vrae gehad. Niks was vir hom te ingewikkeld om te verstaan nie. Salomo se wysheid en die paleis wat hy gebou het, het die koningin van Skeba se asem weggeslaan. Sy was ook verstom oor die kos op die tafels, die amptenare rondom hom, die tafelbediendes en skinkers en die klere wat hulle gedra het, en die brandoffers wat Salomo by die tempel van die Here gebring het. Sy het vir Salomo gesê: “Die gerugte wat ek by die huis oor u wysheid en prestasies gehoor het, is die waarheid! Ek het nie geglo wat ek gehoor het nie. Maar noudat ek dit met my eie oë gesien het, besef ek dat die helfte my nooit vertel is nie! U wysheid is baie groter as wat ek ooit kon vermoed. Hoe gelukkig is hierdie mense tog nie! Wat ’n voorreg is dit vir u amptenare wat elke dag na u wysheid kan luister. Die Here, u God, is inderdaad baie groot! Dit is omdat u God Israel so liefhet en besluit het om hulle vir altyd in stand te hou dat Hy u hulle koning gemaak het, om regverdig te regeer.” Sy het toe vir die koning omtrent vier ton goud en ’n groot hoeveelheid speserye en edelstene gegee. Daar was nog nie voorheen sulke hoë kwaliteit speserye soos dié wat die koningin van Skeba vir Salomo gegee het nie. (Toe Hiram en Salomo se skepe destyds goud van Ofir af gebring het, het hulle ook jenewerhout en edelstene saamgebring. Die koning het die hout gebruik om trappe vir die tempel en die paleis te bou en om liere en harpe vir die musikante te maak. Sulke instrumente is nog nie voorheen in Juda gesien nie.) Koning Salomo het op sy beurt vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy gevra het. Dit was selfs meer werd as die geskenke wat sy vir hom gegee het. Sy en al haar mense het toe vertrek en na haar land toe teruggekeer.

2 KRONIEKE 9:1-12 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Toe die koningin van Skeba van Salomo se aansien hoor, het sy Jerusalem toe gekom om hom met moeilike vrae te toets. Sy het gekom met ’n groot gevolg en kamele gelaai met speserye, baie goud en kosbare juwele. Toe sy Salomo ontmoet, het hulle oor alles gepraat wat sy op die hart gehad het. Salomo het al haar vrae beantwoord en daar was niks vir hom te moeilik om vir haar te verduidelik nie. Toe die koningin van Skeba besef hoe wys Salomo was, en toe sy die tempel sien wat hy gebou het, was sy uit die veld geslaan. Sy was ook verbaas oor die kos op sy tafels, die bediening en kleredrag van sy amptenare, die skinkers en hulle kleredrag, en die brandoffers wat Salomo by die tempel van die HERE gebring het. Sy sê toe vir Salomo: “Alles wat ek in my land van jou prestasies en wysheid gehoor het, is waar! Ek kon dit nie glo totdat ek hier aangekom het en dit met my eie oë gesien het nie. Trouens, die helfte daarvan is my nie vertel nie. Jou wysheid is baie meer as wat aan my meegedeel is. Hoe bevoorreg is jou mense! Wat ’n voorreg vir jou amptenare om dag na dag hier te wees om te luister na jou wysheid! Mag die HERE jou God geloof word! Hy verbly Hom in jou en het jou op die troon gesit om namens Hom te regeer. Dis omdat jou God vir Israel so liefhet en wil hê dat hierdie koninkryk vir altyd bestaan dat Hy jou koning gemaak het oor hulle sodat jy met reg en geregtigheid kan regeer.” Toe gee sy vir die koning ’n geskenk van meer as vier ton goud en baie kosbare speserye, asook waardevolle juwele. Nooit vantevore was daar speserye van hierdie gehalte soos dié wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie. (Toe die bemanning van Hiram en Salomo goud uit Ofir gebring het, het hulle ook ryk vragte van jenewerhout en kosbare juwele saamgebring. Die koning het die jenewerhout gebruik om trappe vir die tempel van die HERE en die koninklike paleis te maak, en ook om harpe en liere vir die musikante te maak. Daar was nooit vantevore sulke pragtige musiekinstrumente in Juda nie.) Koning Salomo het vir die koningin van Skeba gegee wat sy ook al gevra het. Dit was geskenke van groter waarde as wat sy vir hom gebring het. Daarna het sy en haar volgelinge na hulle eie land toe vertrek.