2 Kronieke 15

15
1Wat Asarja, seun van Oded betref – die Gees van God het oor hom gekom, 2en hy het uitgegaan na Asa toe en vir hom gesê: “Luister na my, Asa en die hele Juda en Benjamin! Die Here is met julle wanneer julle met Hom is. As julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind, maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat. 3 'n Lang tyd het vir Israel verloop sonder die ware God, sonder 'n priester wat onderrig gee en sonder die wet. 4Maar wanneer Israel in sy nood na die Here, die God van Israel, teruggekeer en Hom gesoek het, het Hy Hom deur hulle laat vind. 5In daardie tye was dit nie veilig vir iemand om uit te gaan of in te kom nie, want daar was groot paniek by al die bewoners van die lande. 6 Nasie het teen nasie en stad teen stad gebots, omdat God hulle verward laat raak het deur elke moontlike teenspoed. 7 Maar julle, wees dapper en moenie moed verloor nie, want daar is 'n beloning vir julle werk.”
8Toe Asa hierdie woorde en die profesie hoor wat die profeet Oded uitgespreek het, het hy moed bymekaargeskraap en die verfoeilike gode laat verwyder uit die hele gebied van Juda en Benjamin en uit die dorpe in die heuwelland van Efraim wat hy ingeneem het. Hy het die altaar van die Here wat voor die portaal van die Here se huis was, herstel.
9 Daarna het hy die hele Juda en Benjamin byeengebring, asook die mense uit Efraim en Manasse en Simeon wat tydelike verblyfreg by hulle gehad het; want uit Israel het 'n groot aantal mense na hom oorgeloop toe hulle sien dat die Here sy God met hom was. 10Hulle het in Jerusalem byeengekom in die derde maand van die vyftiende jaar van Asa se regering. 11Hulle het daardie dag vir die Here offers geslag uit die buit wat hulle saamgebring het: sewehonderd beeste en seweduisend stuks kleinvee. 12Hulle het tot die verbond toegetree om die Here, die God van hulle voorouers, met hulle hele hart en siel te soek. 13 Elkeen wat nie die Here, die God van Israel, soek nie, sou doodgemaak word, klein en groot, man en vrou. 14 Hulle het hardop 'n eed aan die Here afgelê, met vreugderoepe en onder die klank van trompette en ramshorings. 15Die hele Juda was verheug oor die eed, want hulle het dit met hulle hele hart afgelê, en met volle oorgawe het hulle Hom gesoek. Hy het Hom deur hulle laat vind, en die Here het vir hulle aan alle kante rus gegee.
16 Selfs vir Maäga, grootmoeder van koning Asa, vir haar het hy as koninginmoeder verwyder omdat sy 'n gruwelike beeld vir Asjera gemaak het. Asa het dié gruwelike beeld afgekap, dit fyngestamp en in die Kidrondal verbrand. 17Die offerhoogtes is egter nie uit Israel verwyder nie. Tog was Asa se hart volkome by die Here solank hy geleef het. 18 Hy het die •heilige gawes van sy vader en sy eie heilige gawes in die huis van God ingeneem – silwer en goud en gebruiksartikels. 19Daar was geen oorlog tot in die vyf-en-dertigste jaar van Asa se regering nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid