2 Kronieke 12

12
Veldtog van Egipte in Juda
1 Toe Rehabeam se koningskap stewig gevestig was en hy magtig geword het, het hy die wet van die Here verlaat, en die hele Israel saam met hom. 2 Omdat hulle ontrou was aan die Here, gebeur dit toe dat Sisak, die koning van Egipte, in die vyfde regeringsjaar van koning Rehabeam optrek teen Jerusalem 3 met eenduisend tweehonderd strydwaens, sestigduisend perderuiters en ontelbare manskappe wat saam met hom uit Egipte gekom het: Libiërs, Sukkiete en Kussiete. 4Hy het die stede wat versterk is van Juda ingeneem en tot by Jerusalem gevorder. 5Semaja, die profeet, kom toe na Rehabeam en na die •aanvoerders van Juda wat vanweë Sisak se optrede in Jerusalem byeengekom het, en sê vir hulle: “So sê die Here, ‘Júlle het My verlaat, nou laat Ek julle op my beurt in die hand van Sisak.’ ” 6Die aanvoerders van Israel en die koning het hulle verootmoedig en gesê: “Die Here het gelyk.”
7Toe die Here sien dat hulle hulle verootmoedig, het die woord van die Here tot Semaja gekom: “Hulle verootmoedig hulle. Ek sal hulle nie vernietig nie, maar sal binnekort vir hulle uitkoms bied. My woede sal nie oor Jerusalem uitgestort word deur die hand van Sisak nie, 8 maar hulle sal sy onderdane word, sodat hulle sal ervaar wat diens aan My inhou teenoor diens aan die koninkryke van ander lande.”
9 Toe Sisak, die koning van Egipte, teen Jerusalem opgetrek het, het hy die skatte van die huis van die Here en die skatte van die koninklike paleis gevat; dit alles het hy gevat. Hy het ook al die goue skilde wat Salomo gemaak het, gevat. 10Koning Rehabeam het toe in die plek daarvan bronsskilde gemaak. Hy het dit toevertrou aan die bevelvoerders van die hardlopers wat die ingang na die koninklike paleis bewaak het. 11Telkens wanneer die koning die huis van die Here binnegegaan het, het die hardlopers ook ingegaan en die skilde gedra, maar dit daarna weer teruggeneem na die wagkamer van die hardlopers.
12Toe Rehabeam hom verootmoedig het, is die toorn van die Here van hom afgewend. Hy het hom nie heeltemal vernietig nie. Ook in Juda was daar nog goeie dinge.
Rehabeam se regering en sy dood
13 Koning Rehabeam het sy posisie in Jerusalem versterk en het aanhou regeer. Ja, Rehabeam was een-en-veertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sewentien jaar lank as koning geheers in Jerusalem, die stad wat die Here gekies het uit al die stamme van Israel om sy Naam daar te vestig. Die naam van Rehabeam se moeder was Naäma, die Ammoniet. 14Hy het gedoen wat verkeerd is, want hy het nie sy hart daarop gerig om die Here te soek nie.
15 Die vroeëre en latere geskiedenis van Rehabeam, is dit nie as 'n geslagsregister opgeteken in die Geskiedenis van Semaja die profeet en Iddo die siener nie? Daar was voortdurend oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam. 16Rehabeam het by sy voorouers gaan rus, en hy is in die •Stad van Dawid begrawe. Sy seun Abia het in sy plek koning geword.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid