1 Thessalonisense 4

4
Aansporing tot 'n toegewyde lewe
1 Verder dan, broers, vra ons julle, en spoor ons julle ter wille van die Here Jesus aan: Julle is deur ons onderrig oor hoe julle moet leef om God te behaag; julle leef inderdaad reeds hiervolgens, maar julle moet nog al hoe meer so leef. 2Julle weet tog watter voorskrifte ons vir julle gegee het deur die Here Jesus. 3Want dit is God se wil dat julle heilig moet leef: dat julle julle sal weerhou van onsedelikheid, 4 dat elkeen sal weet hoe om sy eie vrou op 'n heilige en eerbare wyse te verkry, 5nie uit wellustige begeerte soos die heidene wat God nie ken nie, 6en dat hy nie sal oortree, en sy broer in dié saak bedrieg nie. Want, soos ons tevore vir julle gesê en nadruklik bevestig het: die Here vergeld al hierdie dinge.
7 God het ons tog nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligheid. 8Daarom dan: die een wat dit verontagsaam, verontagsaam nie 'n mens nie, maar God, wat sy Heilige Gees aan julle gegee het. 9 Oor die broederliefde is dit nie nodig dat ek vir julle skryf nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. 10Julle het inderdaad ook al die broers in die hele Macedonië lief. Maar ons moedig julle aan, broers, om dit nog meer te doen, 11en dit vir julle 'n saak van eer te maak om rustig te wees, julle met julle eie sake te bemoei, en met julle eie hande te werk, soos ons julle opdrag gegee het. 12Sodoende sal julle eerbaar kan leef in die oë van die buitestanders en van niemand afhanklik wees nie.
Troos ten opsigte van diegene wat gesterf het
13Broers, ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees oor diegene wat ontslaap het nie, sodat julle nie treur soos die ander mense wat nie hoop het nie. 14Want as ons glo dat Jesus gesterf het en opgestaan het – God sal ook so diegene wat gesterf het, deur Jesus met Hom saamneem.
15Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here: Ons wat lewe, wat agtergebly het tot die koms van die Here, sal beslis nie diegene wat gesterf het, voor wees nie. 16Want die Here self sal met 'n luide bevel, met die stem van 'n aartsengel, en met 'n trompetgeskal van God, uit die hemel afkom, en diegene wat in •Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 17Daarna sal ons wat lewe en oorgebly het, saam met hulle in die wolke opgeneem word om die Here in die lug te ontmoet. En so sal ons altyd by die Here wees. 18Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid