1 Konings 21

21
Nabot se wingerd
1Hierna het die volgende gebeur: Nabot, 'n man van Jisreël, het 'n wingerd gehad in Jisreël langs die paleis van Agab, koning van Samaria. 2Agab praat toe met Nabot en sê: “Gee vir my jou wingerd, sodat dit my groentetuin kan word, want dit is reg langs my paleis. Ek sal vir jou in die plek daarvan 'n wingerd gee wat beter is as dié een. Of, as jy dit verkies, sal ek vir jou die prys daarvoor in silwer betaal.” 3Maar Nabot het Agab geantwoord: “Mag die Here my daarvan weerhou dat ek ooit die erfgrond van my voorgeslagte aan u gee! ”
4Agab is toe huis toe, nors en tierend oor die antwoord wat Nabot, die man van Jisreël, hom gegee het toe hy gesê het: “Ek sal nie die erfgrond van my voorouers vir u gee nie.” Hy het op sy bed gaan lê, sy gesig weggedraai en niks geëet nie. 5Isebel, sy vrou, het na hom gekom en vir hom gevra: “Nou hoekom is jy so nors en eet jy niks?” 6Hy sê toe vir haar: “Omdat ek met Nabot, die man van Jisreël, gepraat en vir hom gesê het, ‘Verkoop aan my jou wingerd vir silwer; of as jy wil, sal ek self vir jou 'n wingerd in die plek daarvan gee;’ maar hy het my geantwoord, ‘Ek sal nie vir jou my wingerd gee nie.’ ” 7Daarop sê sy vrou Isebel vir hom: “Jy is tog nou die een wat heerskappy voer oor Israel! Staan op, eet iets en laat jou hart vrolik wees. Ék sal vir jou die wingerd van Nabot, die man van Jisreël, gee.”
8 Sy skryf toe briewe in die naam van Agab, verseël dit met sy rolseël en stuur die briewe aan die oudstes en hoëlui wat in sy dorp was, wat saam met Nabot gewoon het. 9In die briewe het sy geskryf:
Roep 'n vasdag uit, en laat Nabot voor tussen die mense sit. 10Laat twee manne, booswigte, teenoor hom sit en teen hom getuig: “Jy het God en die koning gevloek! ” Neem hom dan uit die dorp en stenig hom, sodat hy sterf.
11Die manne van sy dorp, die oudstes en hoëlui wat in sy dorp gewoon het, het toe opgetree ooreenkomstig die boodskap wat Isebel vir hulle gestuur het, net soos geskryf is in die briewe wat sy vir hulle gestuur het. 12Hulle het 'n vasdag uitgeroep en Nabot voor tussen die mense laat sit. 13Die twee manne, die booswigte, kom toe en gaan sit teenoor hom. Die booswigte getuig toe voor die mense teen Nabot en sê: “Nabot het God en koning gevloek.” Hulle neem toe vir Nabot uit die dorp uit en gooi hom met klippe; en hy het gesterf. 14Daarna laat weet hulle vir Isebel: “Nabot is gestenig en hy is dood.”
15Toe Isebel hoor dat Nabot gestenig is en gesterf het, gaan sê sy dadelik vir Agab: “Staan op! Neem Nabot, die man van Jisreël, se wingerd in besit wat hy geweier het om aan jou te verkoop, want Nabot leef nie meer nie, ja, hy is dood.” 16Toe Agab hoor dat Nabot dood is, het hy dadelik opgestaan om af te gaan na Nabot, die man van Jisreël, se wingerd, om dit in besit te neem.
17Maar die woord van die Here het tot Elia, die man uit Tisbe, gekom: 18“Maak gereed, gaan af om Agab, die koning van Israel, wat in Samaria woon, te ontmoet. Kyk, hy is in Nabot se wingerd, waarheen hy afgegaan het om dit in besit te neem. 19Sê dan vir hom, ‘So sê die Here: “Het jy moord gepleeg en ook nog erfgoed in besit geneem?” ’ Sê verder vir hom, ‘So sê die Here: “Op die plek waar die honde Nabot se bloed opgelek het, sal die honde ook jóú bloed oplek.” ’ ”
20Agab het vir Elia gesê: “Het jy my gekry, my vyand?” Hy het geantwoord: “Ek het jou gekry, want jy het jouself daaraan oorgegee om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here. 21Die Here het gesê, ‘Kyk, ek gaan onheil oor jou bring. Ek gaan jou wegvee. Ek sal van Agab die mansmense in Israel uitroei, dié wat gevange is en dié wat vrygelaat is. 22Ek sal jou koningshuis maak soos die koningshuis van Jerobeam, seun van Nebat, en soos die koningshuis van Baesa, seun van Agija, oor die uittarting waarmee jy My getart het en oor jy Israel laat sondig het. ’ 23 Ook in verband met Isebel het die Here uitspraak gelewer, ‘Die honde sal Isebel verslind by die verdedigingswal van Jisreël. 24 As iemand van Agab in die stad sterf, sal die honde hom verslind; en as iemand van Agab in die veld sterf, sal die voëls van die hemel hom verslind.’ ”
25Daar was werklik niemand wat hom soos Agab daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here nie, want sy vrou Isebel het hom daartoe aangespoor. 26 Hy het uiters afstootlik opgetree deur agter die afgodsbeelde aan te loop, net soos die Amoriete gedoen het, hulle vir wie die Here voor die Israeliete uit verdryf het.
27Toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur, rouklere aangetrek en gevas. Hy het in rouklere geslaap en neerslagtig rondgeloop. 28Die woord van die Here kom toe tot Elia, die man uit Tisbe: 29“Het jy gesien dat Agab homself voor My verneder het? Omdat hy hom voor My verneder het, sal Ek nie die onheil in sy tyd bring nie. In die tyd van sy seun sal Ek die onheil oor sy huis bring. ”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid