1 Johannes 5:7-21
1 Johannes 5:7-21 AFR20
Want daar is drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed, en hierdie drie is dit eens. As ons die getuienis van mense aanvaar – die getuienis van God is vir seker groter, omdat dit die getuienis van God is wat Hy oor sy Seun gelewer het. Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in homself; wie God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy nie die getuienis geglo het wat God oor sy Seun gelewer het nie. En dit is die getuienis: dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek aan julle geskryf sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Naam van die •Seun van God glo. En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra. En as ons weet dat Hy ons verhoor in alles wat ons vra, weet ons dat ons alles ontvang wat ons van Hom vra. As iemand sy broer 'n sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid, en God sal aan hom, ja, aan hulle wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie, die lewe gee. Daar is 'n sonde wat tot die dood lei – ek sê nie dat hy daaroor moet bid nie. Elke onreg is sonde, maar daar is sonde wat nie tot die dood lei nie. Ons weet dat niemand wat uit God gebore is, aanhou sonde doen nie; maar Hy wat uit God gebore is, beskerm hom, en die Bose kan hom niks aandoen nie. Ons weet dat ons uit God is, en dat die hele wêreld in die mag van die Bose is. En ons weet dat die Seun van God gekom het, en aan ons verstand gegee het sodat ons die Waaragtige kan ken, en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus •Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe. My kinders, beskerm julleself teen die afgode.




