1 Johannes 4

4
Gees van waarheid teenoor gees van dwaling
1Geliefdes, moenie elke gees glo nie, maar toets die geeste of hulle van God kom, want daar is reeds baie vals profete in die wêreld. 2Hieraan ken julle die Gees van God: Elke gees wat bely dat Jesus •Christus vlees geword het, is uit God, 3en elke gees wat dit nie van Jesus bely nie, is nie uit God nie, maar is die gees van die Antichris, van wie julle gehoor het dat hy kom, en wat nou reeds in die wêreld is. 4Julle, kinders, is uit God, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. 5 Hulle is uit die wêreld, en daarom praat hulle soos die wêreld, en luister die wêreld na hulle. 6Ons is uit God, en wie God ken, luister na ons. Wie nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit herken ons die gees van die waarheid en die gees van die dwaling.
'n Lewe in die liefde van God
7Geliefdes, laat ons mekaar liefhê,
want die liefde is uit God,
en elkeen wat liefhet,
is uit God gebore
en ken God.
8Wie nie liefhet nie,
het God nie leer ken nie,
want God is liefde.
9 Hierin is die liefde van God
aan ons geopenbaar:
dat God sy unieke Seun
na die wêreld gestuur het,
sodat ons deur Hom kan leef.
10 Hierin bestaan die liefde:
nie dat ons God liefgehad het nie,
maar dat Hy ons liefgehad het,
en sy Seun gestuur het
as versoening vir ons sondes.
11 Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ook óns mekaar lief te hê. 12Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons tot vervulling gekom. 13 Hieraan weet ons dat ons in Hom bly, en Hy in ons: Hy het ons aan sy Gees laat deel kry. 14En ons het dit aanskou, en ons getuig daarvan, dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het. 15Wie ook al bely dat Jesus die •Seun van God is, God bly in hom, en hy in God. 16Ons ken en vertrou die liefde wat God vir ons het.
God is liefde. En wie in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom. 17Hierin het die liefde onder ons tot vervulling gekom: Ons sal op die oordeelsdag vrymoedigheid hê, omdat ons in hierdie wêreld ook soos Jesus is. 18In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite; want vrees het te doen met straf, en wie vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. 19Ons het lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê, “Ek het God lief”, en sy broer haat, is hy 'n leuenaar. Want wie sy broer, wat hy sien, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie sien nie. 21 En dit is die gebod wat ons van Hom ontvang het: Wie God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid