1 Korinthiërs 16

16
Insameling vir die gemeente in Jerusalem
1Wat die insameling vir die •heiliges betref: Die reëling wat ek in die •gemeentes van Galasië getref het, moet julle ook so uitvoer. 2Elkeen van julle afsonderlik moet op die eerste dag van die week 'n bedrag opsy sit, en volgens sy verdienste spaar, sodat die insamelings nie eers plaasvind wanneer ek kom nie. 3Wanneer ek opdaag, sal ek, wie julle ook al goedkeur, met aanbevelingsbriewe stuur om julle gawes na Jerusalem te neem. 4Indien dit die moeite werd is dat ek ook gaan, kan hulle my vergesel.
Paulus se reisplanne
5Ek sal na julle kom as ek deur Macedonië gereis het, want ek gaan deur Macedonië reis. 6 Moontlik sal ek 'n tyd by julle oorbly, of selfs oorwinter, sodat julle my kan voorthelp waarheen ek ook al mag gaan. 7Want ek wil julle nie nou net in die verbygaan sien nie; ek hoop immers om 'n tyd lank by julle te bly, indien die Here dit toelaat. 8 Ek sal egter tot Pinkster in Efese bly, 9want 'n deur het groot en kragtig vir my oopgegaan, hoewel daar baie teenstanders is.
10As Timoteus kom, sorg dat hy by julle niks te vrees het nie, want soos ek, doen hy ook die werk van die Here; 11daarom moet niemand hom minag nie. Help hom in vrede om na my te kom, want ek verwag hom saam met die broers.
12En oor die broer Apollos: Ek het hom herhaaldelik versoek om saam met die broers na julle te gaan, maar hy wil beslis nie nou gaan nie. Hy sal gaan wanneer dit vir hom geleë is.
Versoeke en groete
13Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manhaftig, wees sterk. 14Laat alles wat julle doen, in liefde geskied. 15Ek rig nog 'n ernstige versoek tot julle, broers. Julle weet dat Stefanas en sy huisgesin die eerstelinge in Agaje is, en hulleself tot diens van die •heiliges gestel het. 16Onderwerp julle aan die leiding van sulke mense, en aan elkeen wat saamwerk en hom inspan. 17Ek is bly oor die koms van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus, want hulle het vergoed vir my gemis aan julle. 18Hulle het my gees verkwik en julle s'n ook. Gee daarom erkenning aan sulke mense.
19Die •gemeentes in Asië groet julle. Akwila en Priska, en die gemeente wat in hulle huis bymekaarkom, stuur vir julle baie groete in die Here. 20Al die broers groet julle. Groet mekaar met 'n heilige soen. 21 Dié groetwoord in my eie handskrif: Van Paulus. 22As iemand die Here nie liefhet nie, laat hom vervloek wees. Marana ta!
Seën en liefdesgroet
23 Die genade van die Here Jesus bly met julle! 24My liefde bly met julle almal in •Christus Jesus.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid