1 Kronieke 29

29
Skenkings vir die bou van die tempel
1 Koning Dawid het toe vir die hele geloofsgemeenskap gesê: “My seun Salomo, die een wat God uitgekies het, is nog jonk en onervare. Die taak is omvangryk, want dit is nie vir 'n mens wat die vesting bedoel is nie, maar vir die Here God. 2Na my beste vermoë het ek vir die huis van my God voorsien: goud vir die goue, silwer vir die silwer-, brons vir die brons-, yster vir die ystervoorwerpe en hout vir die houtwerk; ook •oniksstene en •edelstene as monterings, malagiet en veelkleurige stene, allerlei kosbare stene, en stene van albaster, in oorvloed. 3 Buitendien, uit toegeneentheid teenoor die huis van my God het ek dit wat ek persoonlik besit aan goud en silwer, vir die huis van my God gegee, bo en behalwe alles wat ek vir die •heilige •tempel gereedgekry het: 4drieduisend kikkar goud, van die goud van Ofir, en seweduisend kikkar gesuiwerde silwer vir die bedekking van die vertrekke se mure – 5goud vir die goue voorwerpe en silwer vir die silwervoorwerpe, en vir al die werk deur die hand van vakmanne. Wie is bereid om hom vandag so aan die Here toe te wy?”
6 Toe het die leiers van die families, die leiers van die stamme van Israel, die •aanvoerders van duisend en van honderd en die toesighouers in diens van die koning, vrywillige gawes gegee. 7 Hulle het vir die werk aan die huis van die Here in goud vyfduisend kikkar en tienduisend dariek gegee, in silwer tienduisend kikkar, in brons agttienduisend kikkar, en in yster honderdduisend kikkar. 8 Die wat edelstene in hulle besit gehad het, het dit gegee vir die skatkamer van die huis van die Here, onder beheer van Jegiël, die Gersoniet. 9 Die volk was verheug oor die gesaghebbers se bereidwilligheid, want hulle het dit van harte vrywillig vir die Here gegee. Ook koning Dawid was besonder verheug.
10 Daarop het Dawid die Here ten aanskoue van die hele geloofsgemeenskap geprys. Dawid het gesê:
“U moet geprys word, Here,
God van ons vader Israel,
van altyd af en vir ewig.
11 Aan U, Here,
behoort die grootheid,
die sterkte, die luister,
die roem en die majesteit –
ja, alles in die hemel
en op die aarde.
Aan U, Here,
behoort die koningskap,
en U is as hoof verhewe bo alles.
12 Rykdom en eer kom van U,
en U regeer oor alles.
In u hand is krag en sterkte,
en dit is in u hand om enigiemand
groot en sterk te maak.
13 Daarom, ons God, prys ons U
en loof ons u luisterryke Naam.
14 Want wie is ek,
en wie is my volk,
dat ons in staat is
om vrywillige gawes
soos hierdie te gee?
Ja, van U kom alles,
en uit u hand het ons dit
aan U gegee.
15 Want •vreemdelinge is ons
voor U,
en bywoners, soos al ons voorouers.
Soos 'n skaduwee
is ons dae op die aarde,
en daar is geen sekerheid nie.
16 Here ons God,
al hierdie rykdom
wat ons gereedgekry het
om vir U 'n huis
vir u heilige Naam te bou,
is uit u hand en behoort alles aan U.
17 Ek weet, my God,
dat U harte toets
en vreugde vind in opregtheid.
Ek, met opregtheid van hart
het ek dit alles vrywillig gegee.
En nou het ek met vreugde gesien
hoe u volk wat hier teenwoordig is,
vrywillig vir U gee.
18 Here, God van ons voorvaders
Abraham, Isak en Israel,
bewaar dit vir ewig
as die gesindheid
van die gedagtes in die harte
van u volk.
Rig hulle harte op U,
19en gee aan my seun Salomo
'n onverdeelde hart
om u gebooie, u bepalings
en vaste voorskrifte, na te kom
en dit alles uit te voer,
en om die vesting te bou
waarvoor ek voorbereidings
getref het.”
20 Toe het Dawid vir die hele geloofsgemeenskap gesê: “Prys dan die Here julle God!” Daarop het die hele geloofsgemeenskap die Here, die God van hulle voorouers, geprys. Hulle het gekniel en in eerbied gebuig voor die Here en die koning.
Bevestiging van Salomo se koningskap
21 Die volgende dag het hulle vir die Here offers geslag en brandoffers vir die Here gebring: 'n duisend bulle, 'n duisend ramme, 'n duisend lammers, met die bypassende •drankoffers, en met •maaltydoffers in oorvloed vir die hele Israel. 22 Op daardie dag het hulle met groot vreugde voor die Here geëet en gedrink.
Hulle het Salomo, die seun van Dawid, 'n tweede keer as koning ingehuldig. Hulle het hom vir die Here as leier gesalf, en Sadok as priester. 23 Salomo het op die troon van die Here gaan sit as koning in die plek van sy vader Dawid. Hy was suksesvol, en die hele Israel was aan hom gehoorsaam. 24Al die leiers en die helde, asook al die seuns van koning Dawid, het hulle aan koning Salomo onderwerp.
25Die Here het Salomo buitengewone aansien gegee in die oë van die hele Israel. Hy het aan hom koninklike majesteit verleen wat geen koning oor Israel voor hom geniet het nie.
Oorsig oor Dawid se regering
26 Dawid, seun van Isai, was koning oor die hele Israel. 27Die tydperk wat hy koning was oor Israel, was veertig jaar: In Hebron was hy sewe jaar lank koning, en in Jerusalem was hy drie-en-dertig jaar lank koning. 28Hy het ná 'n vol lewe op 'n rype ouderdom gesterf – met rykdom en aansien. Sy seun Salomo het in sy plek koning geword.
29 Die vroeëre en latere geskiedenis van koning Dawid, kyk, dit is opgeteken in die Geskiedenis van die siener Samuel, in die Geskiedenis van die profeet Natan en in die Geskiedenis van die siener Gad, 30met 'n weergawe van sy hele koningskap en sy magtige dade; en ook die lotgevalle wat hom en Israel en al die koninkryke van die aarde oorgekom het.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid